Swaardaanval: Gebeure spook 14 jaar later steeds

Stephen Trent destyds as leerder aan die Hoër Tegniese Skool Nic Diederichs in Krugersdorp. (Foto: Verskaf)

Stephen Trent is nou 30 jaar oud. Maar die gevoel wat hy destyds as 17-jarige skoolseun gehad het toe hy op die bebloede toneel by die Hoër Tegniese Skool Nic Diederichs in Krugersdorp afgekom het, spook vandag steeds by hom.

Die onlangse nuus oor die swaardmoordenaar Morné Harmse se vrylating op parool het Trent dadelik teruggeneem na dáárdie noodlottige dag op 18 Augustus 2008; die dag toe Harmse met ’n Slipknot-geïnspireerde masker en samoerai-swaard by die skool ingestap en twee leerders en twee van die skool se werkers aangeval het.

Trent het die aanval vrygespring, maar die 16-jarige Jacques Pretorius was nie so gelukkig nie.

“Min het ek geweet dat daardie Maandagoggend in só ’n nagmerrie sou ontaard,” vertel ’n nou volwasse Trent.

Hy was daardie oggend bitter opgewonde omdat die skool se nuwe leerderraad – waartoe hy verkies is – tydens saalperiode ingehuldig sou word.

Die leerders was in die saal byeen toe hulle ingelig is dat hulle die vertrek moet verlaat, glo weens ’n bomdreigement. Trent onthou die nuwe leerderraad is aangesê om onderwysers te help om die res van die leerders ordelik uit die saal te begelei.

“Ek het deur die kantoor en ontvangsgebied na een van die hoofgange wat na die klaskamers lei, gehardloop.”

Morne Harmse destyds in die hof. (Foto: Skermgreep via eNCA)

Buite die kantoor het hy en nog leerders op die grutoneel afgekom waar Harmse sommige van sy slagoffers met die swaard aangeval het. Daar was verskriklik baie bloed. Só baie bloed dat dit Trent in sy spore gestuit het.

“Dit was nie ’n mooi toneel nie,” onthou hy.

“Byna die hele skool het gestorm vir die uitgange, steeds bang en in afwagting op die bom wat sou afgaan. Geen bom het daardie oggend ontplof nie.”

Buite die skool het verslaggewers wat hulle na die skool gehaas het, vir Trent en sommige van die ander leerders uitgevra. Hy het die skoolterrein verlaat en sy ma gebel om hom te kom oplaai.

“Harmse het daardie dag besluit om nie net een mens se lewe te neem nie. Sy bedoeling was om ’n punt te bewys en lewens in die algemeen te neem,” sê hy.

Harmse was ‘stil’ 

Harmse, toe ʼn matriekleerder, was net ’n jaar ouer as Trent.

“Ek het hom net geken van sien. Hy was stillerig. Jy sou nooit dink dat hy die soort mens is wat tot so iets in staat sou wees nie.”

Volgens Trent het Harmse nie spesifiek vir Jacques, toe in gr. 9, geteiken nie.

“Daardie jong man was ongelukkig op die verkeerde plek op die verkeerde tyd.”

Dit was 14 jaar gelede, maar vir Trent het die gebeure kwalik vervaag. Hy onthou dat hy in sy matriekjaar steeds nie verby die plek kon stap waar hy op die bebloede toneel afgekom het nie.

“Ons sal nooit vergeet wat Harmse daardie dag gedoen het en hoe dit ons almal tot vandag toe nog bybly nie. En dit is net ’n fraksie van die hartseer en rou wat Jacques se ouers en familie vir altyd sal moet verduur.”

Jacques Pretorius (Foto: Verskaf)

Trent stem nie saam met die paroolraad se besluit om Harmse op parool vry te laat nie. “Berou bring nie ’n kind terug na sy ouers nie. Dit wis nie die verlede se gebeure uit nie.

“Ek, as medetoeskouer van hierdie grusame moord wat moontlik in ’n massamoord kon of sou ontaard, voel dat Harmse se vrylating nie regverdig was nie. Parool ofte nie.

“Harmse sal in sy lewe nie kan opmaak vir die seer, trane en pyn wat hy veroorsaak het nie. Die pyn wat hy op daardie dag veroorsaak het, sal tot in ewigheid brand in die siele van Jacques Pretorius se medeleerders, vriende, familie en ander geliefdes.”

Trent sê Jacques was ’n jong man wat in die fleur van sy lewe weggeneem is. “Ons Hemelse Vader het ander planne vir hom gehad en hy rus nou sag in sy teenwoordigheid.”

Aan Jacques sê hy: “Ek weet jy kyk af na ons op aarde en ons stort trane saam met jou familie. Jy is nou op ’n beter plek sonder seer en pyn. Jy sal altyd in ons harte voortleef.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Duck ·

Nee wat, jul maak ‘n groot fout om hom terug in die samelewing toe te laat. Hou hom maar nog daar, kan nie sien hoekom ‘n mens iemand doodkap en dood luiters jare later rondloop nie, ai hoe mis ek die doodstraf. Hy en Pistoruis kan saam gesels!

Jacobus ·

Wie is ons om te oordeel? Net God kan oordeel en ons as mens kan net bid dat so iets nooit weer sal gebeur nie.

Pieter J ·

Mense beter maar lig loop vir hierdie ou. Ek dink hy hou ń groot gevaar in vir mense om hom.

AH ·

Probleem is, mens weet nie hoe hy nou lyk nie. Ek dink ook dis ‘n groot fout om hom te laat los rondloop in die gemeenskap…

Johan David ·

Ja Jacobus en wie is ons om ander se lewens te vat……..

Anton J ·

Eerstens, my hart gaan uit na hierdie familie en vriende. Ek wens vir geen ouer om hierdie swaar pad te stap nie. Pyn en seer sal lank by mense bly. Tweedens, almal moet besef, daar is ‘n sisteem, en die sisteem het Morne gekwalifiseer vir parool. Wie weet, daar kom dalk/alreeds ‘n mooi draai in sy lewe. Baie moordenaars het na jare uit die tronk gekom en het ‘n sukses behaal en ‘n mooi rol gespeel in die gemeenskap. Jip, dit bring nie geliefdes terug nie….. Jip, dit laat nie die slagoffers beter voel nie maar kom ons kyk, benut hy sy tweede kans. Sterkte aan al die slagoffers en ek hoop Morne, kan ‘n positiewe rol speel in die toekoms.

AH ·

Myns insiens moet geen moordenaar ooit weer die buitekant van ‘n tronk sien nie………

Elize ·

Niemand weet nie. Nie waarom en hoekom nie. Niks kan vir Jacques terugbring nie. Of hierdie man nog 100 jaar in die gevangenis deurbring of nie. Sterkte aan die familie. Ek glo nie ‘n ouer kom ooit oor ‘n kind se dood nie. Ek bid dat hierdie man wat nou vry is maar nooit vry sal wees van sy dade nie nooit weer so iets sal laat gebeur nie. Mens of monster? In elke monster ‘n mens en in elke mens ‘n monster. Dit vat net iets om dit te laat gebeur.

Janette ·

Ek het op dieselfde perseel as hulle gebly – hulle in huis en ek en my vriendin in die woonstelletjie,wat dai dag gebeur het verstaan ek glad nie,hy was die vriendelikste seun,my dogterjie altyd gegroet en syt altyd gekyk hoe hulle bikes respray en eenslag haar toegelaat om op hul trampoline te spring. My hart is baie seer vir die Ouers, het n paar jaar sy Pa by n Petrol garage raak geloop waar ek in n situasie was en my bygestaan – die Ouers gaan net so deur baie pyn soos die oorledenis se ouers. Ek kom glad nie op vir hom nie, maar wie is ons om te oordeel? Ek is verskriklik jammer oor al die slagoffers se groot verlies, dis verskriklik – maar ek weet vir n feit daar is lewe in sy hartjie, hy weet dalk net nie hoe om dit te wys nie – al wat ek kan onthou van hom, het goeie maniere gehad, gesmile as hy ons sien……..
Sterkte aan alby Ouers – Dit is vir albei moeilik. (Jammer as daar spel foute is)

JohanNL ·

Ek verstaan nie die kommentare hier oor net God kom die oordeel toe, wie is ons om te oordeel edm. nie jammer. As dit net God was wat kan oordeel, hoekom is daar dan wette en polisie? Dan moet dit mos ‘n free-for-all wees, geen straf nie, want wie is ons om te straf? Die man het moord gepleeg, koelbloedig of impulsief maak nie saak nie. Moordenaars moet swaai aan `n tou, oog vir oog, tand vir tand. Dis al.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.