‘Tegniese uitdagings’ by Sassa laat talle sonder sent

Sassa-begunstigdes staan in ‘n ry en wag vir hul betalings by ‘n Poskantoor. (Foto: Itumeleng English/African News Agency/ANA)

Talle pensioenarisse en behoeftiges wat afhanklik is van die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) se maandelikse toelaes, het vandeesweek met leë hande weggestap toe hulle dié geld wou onttrek.

Dít omdat Posbank “tegniese uitdagings” ondervind wanneer sommige Sassa-begunstigdes probeer om hul geld by kitsbanke en ander kleinhandelaars te onttrek.

“Daar het mense gesit en huil in die poskantoor,” sê Corinne de Beer van eMalahleni (Witbank) wat staatmaak op die skrale staatspensioen wat sy maandeliks deur Sassa ontvang.

“Ganse families wat afhanklik is van ʼn klein pensioen is platgeslaan nadat hulle nie daardie geld kon kry nie.”

Dié 67-jarige pensioenaris en haar man, Stoffel, is albei afhanklik van hul Sassa-toelae. Hoewel albei stukwerk doen wanneer hulle die kans kry, is hulle nogtans in ʼn penarie sonder hul pensioengeld.

“Ons moet huur betaal, en ons kon nie krag koop nie. Ek moes R200 leen om krag te koop,” sê Corinne.

“Toe ek by Pick n Pay kruideniersware met my Sassa-kaart wou koop, wou die transaksie nie deurgaan nie, so ek kon nie eens iets daar koop nie.”

Corinne sê sy het ook Dinsdag probeer om haar Sassa-geld by ʼn kitsbank te onttrek, maar daar het net ʼn foutboodskap verskyn. Sy het dieselfde by die poskantoor gedoen, maar ook sonder enige sukses.

Volgens Corinne is daar vir haar gesê dat daar fout is met die transaksie, dat die geld nie beskikbaar is nie en dat dit eers tussen sewe en 21 dae weer beskikbaar gaan wees.

Stoffel kon wel ʼn gedeelte van sy geld onttrek.

“Ek het met vriende en familie in Bloemfontein gesels en hulle het dieselfde oorgekom. Ons is afhanklik van daardie geld.”

Marietha Harris, hoof van sake by Posbank, sê spanne spook om die tegniese uitdagings met die Sassa-betalings op te klaar.

“Posbank het begrip vir die ongerief en ander uitdagings wat hierdie tegniese probleme tot gevolg het. Ons vra om verskoning hiervoor.”

Dit is in hierdie stadium egter onduidelik presies wat die “tegniese uitdagings” behels en hoe ernstig die omvang van die probleem is.

Harris sê Posbank sal al die Sassa-begunstigdes in kennis stel sodra die fout uitgestryk het.

Intussen kan maatskaplike toelaes met Sassa se gouekaarte steeds by poskantore onttrek word, aangesien dié transaksies skynbaar sonder probleme verloop.

Teen Woensdagoggend het die probleem oënskynlik steeds op plekke voortgeduur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Joggie ·

Baie kreatief om Onbevoegdheid te vertaal met Tegniese Uitdagings…

Tanniepetoors ·

“Goue kaarte” vir SASSA pensioenarisse? Kan iemand vir my verduidelik wat is die verskil tussen een behoeftige persoon en die volgende behoeftige, indien enige?

Pierre ·

die goue kaarte is die kleur van die ou kaart en het niks met status te doen nie, miskien in jou goue ou jare.

Alida ·

Dit is so tragies dat so baie bejaardes in ons land van die staat afhanklik is om te oorleef. Met die regering se onbevoegdheid wat elke dag, maand en jaar net toeneem, gaan dit net al slegter gaan.

Inferno1755 ·

Dit is nie die eerste maal wat “tegniese” probleme mense sonder hulle SASSA geld laat nie. Die afgelope jaar het my tannie al 4 keer deur dieselfde gegaan. Dan moet die arme mense nog 3 weke wag voor hulle kan geld trek by die poskantoor nadat die navraag deurgesit is. Dit is baie sleg dat mense wat afhanklik is van die bietjie geld elke maand so moet sukkel. En die probleme is nie net “tegnies” nie. Een maand is dit Post bank se sisteem, dan weer het hulle nie geld by die poskantoor nie, dan is dit weer hulle data basis wat van lyn af is.

Dan sê hulle hulle het begrip en vra onverskoning! Hulle het nie nodig om geld te moet leen om huur te betaal of kos te koop nie. Hulle salarisse word op tyd betaal.

Alida ·

Laat jou tannie haar SASSA direk by haar bankrekening inbetaal. Klink my dit gee baie minder probleme.

Manie ·

Die geldjie is klaar, poegaai. Die regering is bankrot en dis net ‘n kwessie van tyd voordat staatsamptenare ook die gevolge daarvan gaan begin voel.

Blikkies ·

Om slegs verskoning te vra en nog miskien n verdere 21 dae te wag sit nie kos op daardie mense se tafel nie. Dit is absoluut Onaanvaarbaar.

sterk soos n beer ·

dit sal beter wees dat sassa in mens se bankrekening moet inbetaal. baie swak postbank.

LIEZL ·

Ek wil net weet waar daar so baie pensionarisse vandaan kom, daar is nou meer as wat daar 65 jaar terug gebore was hier in ons land

Landi ·

Dink Mev Harris nou regtig dat om jammer te sê nou alles gaan regmaak? Jammer betaal nie die huur nie en dit sit nie kos op die tafel nie. Nie almal kan soos jy, Mev Harris, instap en op jou kredietkaart kos koop nie. Jy het nie gister die verslaentheid en angs op bejaardes se gesigte gesien nie. Jy het nie die kommer en vrees en honger op hul gesigte gesien nie. My ma kon ook nie haar geld trek nie. Jy was nie by toe ek haar moes troos nie. Goddank kon ek en my man n plan maak om haar te help al reek ons ook skuins swaar. Maar wat van die wat nie iemand het om te help nie??? Technical glitch se agterent.

Alida ·

Hoekom is daar nog Sassa-pensioentrekkers wat nog nie hulle Sassa-geld in ‘n bankrekening laat inbetaal nie? Mense, hou op kla oor julle geld nie by die ATM of Poskantoor beskikbaar is nie en doen moeite om dit in ‘n bankrekening te kry. Banke soos Capitec maak die proses baie maklik.

annie ·

Hoekom word die geboue nog ‘Poskantoor’ genoem want dit lewer nie meer dié diens nie. Dit sal ook nie Sassa-kantore genoem kan word nie, want dit sukkel al klaar met dit. Wat van ANC-klagteskantoor? Maar dan sal die geboutjies weer te klein wees. Wat daarvan om dit in soesiale skooltjies verander vir die spesiale aggressiewe uitskieters wat elke jaar na Afrikaanse skole WIL gaan en in Engels bedien te word, Gee vir diesulkes elkeen ‘n onderwyser, skoolhoof, skoolbus, spesiale vakke volgens smaak ensovoorts vir persoonlike spesiale aandag. Is daar genoeg poskantore vir so ‘n projek. Miskien kan nog ‘n paar poskantore gebou word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.