Thabo Bester se vriendin eis haar vrylating  

Dr. Nandipha Magudumana (Foto: Facebook)

Dr. Nandipha Magudumana, vriendin van die veroordeelde moordenaar en verkragter Thabo Bester, beweer sy is ontvoer en word onwettig aangehou.

Magudumana het ʼn aansoek in die hooggeregshof in Bloemfontein gebring om dadelik vrygelaat te word. Sy voer in die hofstukke aan dat haar inhegtenisneming in Tanzanië op ontvoering neerkom, en dat haar vervoer na Suid-Afrika en gevolglike inhegtenisneming hier en aanhouding onregmatig en onwettig is.

Zolile Sekeleni, Magudumana se pa, is verlede maand borgtog van R10 000 toegestaan.

Ses van die ander beskuldigdes in die omstrede Bester-saak se borgtogaansoeke het Vrydag in die Bloemfonteinse landdroshof voortgegaan. Die saak is tot Dinsdag vir slotbetoë uitgestel.

In die beskuldigdebank was die voormalige werknemers van die Mangaung-gevangenis, Senohe Matsoara, Monteyani Masukela, Tieho Makhotsa en Nastassja Jansen, asook Teboho Lipholo, ʼn voormalige werknemer van die kringtelevisiediensverskaffer Integritron Security Solutions.

Die meeste van die beskuldigdes was werknemers van die G4S- private veiligheidsmaatskappy toe Bester sowat ʼn jaar gelede tydens ʼn gewaagde ontsnapping uit die Mangaung-maksimumveiligheidsgevangenis in Bloemfontein verdwyn het.

ʼn Verbrande liggaam is in Mei verlede jaar in sel 35 aangetref, wat die owerhede aanvanklik laat glo het dat hy homself aan die brand gesteek het. Die liggaam is intussen geïdentifiseer as dié van Katlego Bereng Mpholo.

Bester, wat die Facebook-verkragter gedoop is, is in 2012 lewenslange tronkstraf opgelê nadat hy slagoffers op dié sosialemediaplatform gelok en hulle dan verkrag en beroof het. Hy het minstens een van sy slagoffers vermoor.

Hy het sowat ʼn jaar gelede tydens ʼn gewaagde ontsnapping uit die tronk verdwyn. Bester en Magudumana is teen die begin van April in Tanzanië vasgetrek.

Bester, Magudumana en ʼn Mosambiekse burger is deur lede van wetstoepassingsagentskappe gewaar toe hulle ʼn hotel in ʼn swart sportnutsvoertuig verlaat het. Hulle is agtervolg en in die stad Arusha in hegtenis geneem. Interpol en ander rolspelers was by die inhegtenisneming betrokke.

Hulle was glo van plan om Tanzanië te verlaat en die grens na Kenia oor te steek. Daar is verskeie paspoorte in elk van die beskuldigdes se besit gevind tydens die inhegtenisneming. Dit is bevestig dat hulle Tanzanië onwettig binnegegaan het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

SjN ·

Sy het bewys dat sy n vlugrisiko is, hou haar waar sy hoort, agter tralies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.