Tien dood, talle beseer in gru-botsing

Tien mense is dood en talle beseer toe ’n taxi en ’n motor bots (Foto: Verskaf)

Tien mense is dood en talle beseer toe ’n taxi en ’n motor Woensdagoggend op die R553 Golden Highway in Eldorado Park in Johannesburg gebots het.

Volgens Russel Meiring, woordvoerder van ER24, is paramedici omstreeks 06:40 ontbied. Met hul aankoms op die toneel het hulle die twee erg beskadigde voertuie in die middel van die pad aangetref. Talle van die insittendes het in die pad gelê.

“Tien mense, onder wie drie kinders onder tien jaar, is op die toneel dood verklaar. Paramedici kon niks vir hulle doen nie,” het Meiring gesê.

Steve Mabona, woordvoerder van die Gautengse departement van onderwys, het bevestig dat die drie kinders leerders van Robertsham Primary School in Johannesburg was. Nog ’n leerder van die skool is beseer en dadelik hospitaal toe geneem.

Talle ander mense het van geringe tot kritieke beserings tydens die ongeluk opgedoen. Hulle is op die toneel behandel waar hulle na nabygeleë hospitale geneem is vir verdere mediese sorg.

Die oorsaak van die ongeluk word nog ondersoek.

Dié ongeluk volg ná nog ’n gru-botsing kort voor middernag tussen ’n minibustaxi en ’n vragmotor op die N4 naby Hectorspruit, in die rigting van die Mosambiekse grens.

Maroela Media het vroeër berig sewe mense het tydens dié ongeluk omgekom en nog agt is beseer. Die taxibestuurder het vermoedelik beheer oor die voertuig verloor en teen die kant van die vragmotor gebots.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Elize ·

Hoekom ondersoek instel. Die oorsaak van die ongelukke is as volg – TAXI’S

Magda ·

Wanneer gaan die TAXI EIENAARS verantwoordelik gehou word vir hulle bestuurders se misdade en moorde – want hulle ry soos PADVARKE – op die geel lyne,. Gister Dinsdag Middag in ou DF Malan laan (ESKIA MAMPHELA DRIVE) staan die Metro Polisie en is besig om 1 Taxi te skryf al die ander Taxis’s ry tot agter die een wat afgetrek was, en dan druk hulle voor jou in. Die Polisie doen absoluut niks, staan en lag en gesels met die 1 wat afgetrek is. Wanneer gaan daar iets gedoen word met hulle ASB.

007 ·

Dit was n “kop aan kop” botsing, die Taxi was aan verkeerde kant van die pad. Hy het by die vragmotor verby gegaan, en toe die kar van voor gesien aankom, nie beheer verloor nie, hy het nie ander plek gehad om heen te gaan nie. Nou is hy en 9 mense daarmee heen.

Diertjie ·

Alweer n taxi!!! Dit se Al’s!!! Haal die goed van die pad af en baie minder ongelukke sal gebeur!!!

Leonie ·

Taxi’s is doodskuste op ons paaie. Hulle word nooit vasgevat nie en maak nes hulle wil. Onskuldigen mense gaan elke dag dood as gevolg van hulle nalatigheid en arrogansie op ons paaie. Ongelukkig is ons Regering te breindood om agter te kom dat dit is waar die probleem lê

TO ·

Oplossing,… Haal elke taxi wat ‘n ongeluk maak of veroorsaak deur hulle nalatige gejaery, summier van die pad af, skort hulle op. Hulle bly maar net ‘n doodskis op wiele

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.