Transnet-staking: Planne gereed om agterstand weg te werk

Vraghouerskepe in die Durbanse hawe. (Foto: Transnet)

Transnet het herstelplanne begin implementeer met sy bedrywighede wat na ’n staking van 12 dae weer hervat het.

Volgens Transnet is tussen 70% en 80% van werkers terug by die werk met nog werknemers wat na verwagting oor die volgende twee dae weer sal begin werk.

Transnet en sy meerderheidsvakbond, die United National Transport Union (Untu), het uiteindelik ’n loonooreenkoms bereik. Dié driejaarloonooreenkoms is Maandag gesluit en bring ’n onmiddellike einde aan lede van dié vakbond se staking by Transnet.

Untu verteenwoordig 53,9% van dié staatsbeheerde onderneming se werkers.

Transnet is verantwoordelik vir Suid-Afrika se spoorvragnetwerk en om al die land se hawens te bedryf. Werknemers het sedert 6 Oktober gestaak, wat daartoe gelei het dat in- en uitvoere sedertdien tot stilstand gekom het.

Volgens Transnet gaan hy voort om die veiligheid van werknemers en bates te prioritiseer, terwyl gesprekke met klante en die bedryf aan die gang is om die agterstande weens die staking te probeer uitwis.

Ayanda Shezi, Transnet-woordvoerder, het gesê aan die spoorkant word die veiligheid van die spoorwegnetwerk geëvalueer voordat dienste ten volle hervat word. Herstelwerk aan dele van die netwerk wat deur diefstal en vandalisme geraak word, word ook onderneem.

“By die hawens bly die fokus daarop om die agterstand van vaartuie by ankerplek en langs die kaai uit te wis. Al agt kommersiële hawens bly toeganklik.

“Transnet Pipelines gaan intussen voort om brandstof na die binnelandse mark te vervoer, met gebeurlikheidsplanne gereed om voorsieningsekerheid te verseker.”

Satawu het nie die verhogingsaanbod aanvaar nie en aangedui dat sy lede sal voortgaan om te staak.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Wondermaarnet ·

Die skade is reeds gedoen om die ekonomie verder te kniehalter. Dit gaan baie lank vat om te herstel.

Republikein in die Wes Kaap ·

Oortydgeldjies sal die somervakansie draaglik maak.

Jan Seerot ·

Die bessieboere het die tydgleuf misgeloop waar hulle produk maksimale winste kon verseker. Dis vir seker.

Shakespeare ·

Met dieselfde onbevoegde werknemers sal Transnet NOOIT weer herstel nie. Dit geld ook vir die 99.9% swart bestuur.

Willem Wikkelspies ·

My ma het altyd gesê: ‘As jy dom is, is jy dom.’ Mens kan seker sê ‘As jy onbevoeg is, is jy onbevoeg.’

Danie ·

Hier kom weer n ding met oortyd geld wat nie betaal gaan word nie.Wat het van my aansoek geword?

Sarel ·

Transnet gaan, net soos die Poskantoor destyds moeilik of glad nie herstel nie terwyl geen stappe teen Stakers of Vakbonde geneem sal word nie.
Werkers & Vakbonde moet verantwoordelik gehou wordvir Finansiële verliese.
Ons weet egter dit sal nooit gebeur nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.