Tshwane bekommerd oor ‘beurtkrag-wipwarit’

(Foto: Maroela Media)

Die Tshwane-metro is bekommerd dat die voortslepende beurtkragkrisis wat daagliks na hoër fases omskakel ʼn verwoestende impak op die metro se ekonomie het – talle sektore in die gebied verloor miljoene rande vir elke uur wat beurtkrag geld.

Tshwane het ʼn skatting gedoen van hoeveel dit sy plaaslike ekonomie kos wanneer beurtkrag “op die wyse van ʼn wipwaentjierit” ingestel word.

“Dit het hieruit duidelik geword dat die algehele impak van beurtkrag verwoestend is vir alle ondernemings,” sê André le Roux, burgermeesterskomiteelid van ekonomiese ontwikkeling en ruimtelike beplanning in Tshwane.

Volgens die metro se skattings verloor die plaaslike landbousektor meer as R300 000 per uur, terwyl dit sy beskeie mynbedryf R1,5 miljoen per uur kos tydens beurtkrag.

Hiermee saam moet Tshwane se vervaardigingsektor R15,7 miljoen per uur afstaan aan beurtkrag en die konstruksiesektor R4,1 miljoen.

Die stad se kleinhandelbedryf verloor altesaam R8,1 miljoen per uur, aangesien dié sektor dikwels nie die middele het om kragopwekkers tydens beurtkrag te gebruik nie.

“Dit is hierdie sektor van klein, medium- en mikro-ondernemings wat veral die slag van beurtkrag voel, met baie wat gedwing word om hul deure te sluit,” sê Le Roux.

Die stad se grootste bekommernis is egter dat die plaaslike ekonomie sowat R1 miljard in lone per uur verloor.

Verder word daar beraam dat die voortslepende beurtkragkrisis ook ʼn negatiewe impak op die bruto binnelandse produk (BBP) het met elke uur wat beurtkrag van toepassing is.

Ekonomiese sektorVerlore BBP per uur
LandbouR77 miljoen
MynbouR2,7 miljoen
VervaardigingR16 miljoen
KleinhandelR16,1 miljoen
GemeenskapsdiensteR49,2 miljoen

Die BBP wat per uur in Gauteng verloor word, staan op R461 miljoen. Tshwane verloor meer as R132 miljoen hiervan met elke uur van beurtkrag. Die land het ná ʼn week van fase 6-beurtkrag reeds 0,3% van sy BBP verloor.

Uitdagings hoop op

Volgens ondernemings wat gebuk gaan onder die druk van beurtkrag is die produksietyd wat afgestaan moet word aan beurtkrag, asook die skade aan masjinerie en toerusting van die grootste uitdagings wat hulle in die gesig staar.

Dit terwyl die verlies van inkomste en rooftogte tydens beurtkrag dié ondernemings net verder lamlê.

Volgens Le Roux neem dit sommige toerusting by aanlegte in die metro sowat drie uur om op die regte temperatuur te kom en nog ʼn uur om aan te skakel voordat dit gebruik kan word.

“Met fase 6-beurtkrag wat geïmplementeer word verloor talle sektore 100% van hul daaglikse produktiwiteitsuitset. As produksie stil staan, word personeel dikwels huis toe gestuur, boonop sonder hul dag se lone,” sê hy.

Dalings en stuwings in die kragtoevoer wanneer die toevoer herstel word, het ook sekere sektore miljoene rande uit die sak gejaag in herstelwerk aan toerusting. Wanneer dit nie binne die ondernemings se vermoë is om die toerusting te herstel nie, is hulle soms genoop om die deure van die besigheid toe te maak.

“Nuwe beleggers word ook afgeskrik deur die tendens van gereelde beurtkrag.”

Hoewel talle ondernemings nie net sake verloor deur hul onvermoë om produkte te lewer nie, meen Le Roux daar vind ook al hoe meer rooftogte tydens beurtkrag plaas. Hierdie toedrag van sake kan dikwels lei tot verdere uitgawes aan veiligheidsmaatreëls.

“Klein, medium- en mikro-ondernemings kan doodeenvoudig nie hierdie bykomende uitgawes absorbeer nie.”

Die metro het intussen ʼn beroep op die nasionale regering gedoen om aandag aan hierdie situasie te gee sodat die hele land se ekonomie gered kan word.

“Beurtkrag veroorsaak werksverliese en armoede – ʼn proaktiewe regering sou lankal iets hieraan gedoen het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

hpven ·

En dit terwyl Cyril die hele wêreld van raad bedien is hy so stil soos ‘n muis met slippers as dit by sy eie land kom….

Riaan ·

Die ANC het deur ‘n demokratiese proses aan bewind gekom, maar dit maak geensins van hulle ‘n demokratiese regering. Hulle is in wese nog steeds ‘n “Liberation Movement” wat soos duidelik gesien kan word nie oor die vermoe beskik om die land in sy geheel te dien nie. Hulle verwysings raamwerk is om na mekaar om te sien soos bewys in die honderde voorbeelde van korrupsie en magsvergrype sonder aanspreeklikheid

Kokerboom ·

Ek dink Tshwane/Pretoria moet begin dink aan eie kragvoorsiening

maakniesaaknie ·

Regtig waar die hele land sukkel met die Load shedding nonsense. in kleiner dorpe sit ons vir 8ure per dag sonder krag. Almal kry swaar met die lang ure wat ons nou sonder krag sit.

JPB ·

Dit is nogal baie interessant dat Tshwane so gekant is teen loadshedding en die probleme wat daarmee gepaard gaan, maar baie traag is met hulle eie implementering van hernubare energie. As hulle meer ingekoop het op SSEG (Small Scale Embedded Generation) aansoeke en meer hernubare projekte, sou hulle nou nie nodig gehad het om so te kla nie.

Keelvol ·

Pretoria is bekommerd oor beurtkrag….. snaaks om dit te hoor.

Pietertjie ·

Tshwane bekommerd? Van wanneer af openbaar ‘n Staatsinstelling menslike eienskappe? Die raadslede is eerder bekommerd omdat hulle inkomste ly onder beurtkrag.

Jack ·

Is twane dan nie die enigste gebied wat eskom nie betyds of selfs nie betaal nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.