Tshwane-metroraad deur Moody’s afgegradeer

Argieffoto (Foto; AlexanderStein, Pixabay)

Die kredietgraderingsagentskap Moody’s het die Tshwane-metroraad se kredietgradering verlaag van Aa3.za na Baa2.za.

Die VF Plus in die Tshwane-metroraad is van mening dat die afgradering toegeskryf kan word aan die destabiliteit wat die ANC se Gauteng-administrateurs veroorsaak het.

“Die Tshwane-metro was verlede jaar vir bykans agt maande deur die Gauteng-provinsie onder administrasie geplaas,” sê Awie Erasmus, VF Plus-raadslid en voorsitter van openbare rekeningekomitee in die Tshwane-metroraad. “Verskeie howe het die bevel as onregmatig beskou en die koalisie-regering is herstel, maar die skade wat aangerig is, sal vir etlike jare deel van die metro se uitdagings vorm.”

Die koalisie kon daarin slaag om voor die administrasiebevel die bankbalans tot ʼn stewige R3 miljard te laat groei, in kontras met die administrateur wat die bankbalans tot R847 miljoen in Junie 2020 laat daal het.

Likiditeit is een van die groot probleme wat deur Moody’s geïdentifiseer is, en wat direk tot die afgradering gelei het.

“Moody’s het in sy vorige analise melding daarvan gemaak dat die metro onder die koalisie goed gevaar het, en dit word bevestig weens die feit dat die kredietgradering in die tydperk telkens verhoog is. Covid-19 het uit die aard van die saak ʼn negatiewe rol gespeel, maar die koers waarteen die finansiële situasie versleg het, kan nie alleen voor die pandemie se deur gelê word nie. Dit kan toegeskryf word aan die administrateurs wat besluite geneem het wat nie in belang van die metro was nie.”

Erasmus sê daar is strukturele probleme binne die metro wat nog reggestel moet word voordat die metro sy draaipunt kan bereik, soos die invorderingskoers, kaderontplooiing en sistemiese korrupsie.

“Die lae invordering van debiteure blyk duidelik uit die stad se debiteureboek (R17 miljard) wat aanhou groei, en die skuldiges sluit in raadslede, amptenare, staatsdepartemente en ambassades. Die VF Plus beplan om nie net op die korttermyn nie, maar ook op die langtermyn werkbare oplossings vir die metro se probleme voor te stel en te laat implementeer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

OW ·

Vergelykbaar met internasionale standaarde.Dit was so min of meer 50 jaar gelede.

Jaco ·

daar word BAIE nonsens in SA aangevang, maar die volgende is ook waar:
Moodys se mense sit in luukse kantore in New York. Gaan vanaand huis toe in ‘n skoon veilige moltrein. Daars elke 3 minute ‘n trein. Stap huis toe van die moltreinstasie af is veilig, sonder aanranders om elke hoek en draai. huis self lyk nog soos ‘n huis: SONDER hoë heinings, lemmetjiesdraad, diefwering voor elke venster, duur alarmstelsel. Hulle kinders wat presteer op skool en universiteit, kry suiwer op meriete studiebeurse en werk. Hulle velkleur word glad nie in ag geneem nie.
En so kan ek aangaan.
Moodys sit en gradeer lande af wat nie soos hulle wonderlike 1ste wêreldlande is nie. weet Moodys wat is die impak van daardie afgradering? Lede van SA se regering wat die nonsens aanjaag, se salarisse is so hoog dat, al lei die afgradering ook tot ‘n petrolprys van R50/liter, dit hulle nie raak nie. Die grootste slagoffers is gewone landsburgers wat nie die nonsens aanjaag wat die regering aanjaag nie.

koos10 ·

Julle tap inwoners leeg, lewer baie stadige dienste en gee water en krag verniet weg. Julle kan sekerlik die gelde wat raadslede en werkers aan julle skuld, van hulle salarisse verhaal, en hoekom moet staadsgeboue van krag en water voorsien word as die rekeninge agterstallig is? My krag word na 14 dae gesny as ek nie betaal nie. Weereens dubbel standaarde.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.