Tshwane se waterprobleme op hoë vlak bespreek

hande-water-tiburi-stiltetyd.jpg

Foto: pixabay/tiburi.com

Verteenwoordigers van die departement van water en sanitasie, Stad Tshwane en Rand Water het Sondag vergader om ʼn gemeenskaplike oplossing vir die wateruitdagings in Pretoria te vind.

Maroela Media het vroeër berig die stad word weer deur beduidende uitdagings in die gesig gestaar om noodsaaklike waterdienste aan inwoners te verskaf weens voortdurende probleme met Rand Water se watervoorsiening.

Volgens Wisane Mavasa, woordvoerder van die departement van water en sanitasie, is ʼn dringende vergadering belê onder voorsitterskap van David Mahlobo, die adjunkminister van die departement, en bygewoon deur Cilliers Brink, Tshwane se burgemeester, sowel as Ramateu Monyokolo, voorsitter van Rand Water se raad, en ander amptenare van die departement van water en sanitasie.

“Die drie instansies het ʼn verslag van ʼn tegniese spanvergadering wat vroeër gehou is voorgelê om oplossings te vind vir die kwessies wat gelei het tot die probleme tussen die stad en die watervoorsiener.

“Rand Water en die stadsraad wil die inwoners om verskoning vra vir die watervoorsieningsonsekerheid en inwoners verseker dat die twee instansies daartoe verbind is om saam te werk om te verseker dat hierdie uitdagings wat die stad raak, opgelos word,” sê Mavasa.

Die stad het ook bevestig dat water in gebiede wat die afgelope dae deur tekorte geraak is, insluitend Mooikloof, Waterkloofrif, Akasia en Mabopane, nou herstel is.

As deel van die besluite van die vergadering sal ʼn tegniese span bestaande uit die departement, Rand Water en die Stad Tshwane gereeld tydens die spitsseisoen vergader om betrokke te raak en holistiese koördinering, voorsiening en bestuur van watervoorsieningstelsels te verskaf.

“Die taakspan sal daagliks die toestand van hul watervoorsieningstelsels deel; watervoorsieningsuitdagings in die stad onmiddellik hanteer; saamwerk aan waterbesparingsveldtogte en gemeenskappe mobiliseer om water te bespaar,” sê Mavasa.

Dit sluit waterbeperkings in waar nodig; en verbeterde kommunikasie met alle belanghebbendes en lede van die publiek ten einde inwoners meer doeltreffend te dien.

“Om aandag te gee aan die akute tekort aan water in die stelsel is Rand Water en die Stad Tshwane tans besig met die tegniese hersiening van historiese watertoewysings aan die stad.”

Volgens Mavasa kyk hulle ook na waterbesparing en vraagbestuur sowel as die munisipale bekostigbaarheid vir addisionele watertoewysing aan die stad – wat oorweeg word om te verseker dat die munisipaliteit sy inwoners op ʼn volhoubare wyse van water kan voorsien.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

KC ·

Suid Afrikaners moet ophou om te kyk na munisipale diens verskaffings probleme as individuele sake wat enkele munisipaliteite affekteer, aangesien die ‘n probleem is wat amper dwars deur die land bestaan, en geïgnoreer word in kleiner munisipaliteite en mask nie eers die nuus nie.
Hierdie probleme kan nie meer op munisipale vlak opgelos word nie, en moet oposisie party dit nou op Nasionale vlak dit voor die Nasionale ANC regering se kop gooi in die openbaar, met baie publisiteit, en met elke geaffekteerde munisipaliteit ingesluit, ongeag hoe groot of klein, en dit moet Nou gedoen word, voor die 2024 verkiesing.

Amelia ·

Tshwane sonder water krag busse vullis verwydering ai wanneer keer als terug na “normaal”

Marthinus Johannes ·

Al die praatjies gaan niks help nie, Randwater moet hul vingers trek, ophou om korrup te wees en doen die nodige instandhouding soos dit gedoen moet word. Sorg dat pyplydings, pompe en reservoirs in werkende toestand gehou word. Hul mense werk in plaas van op agterstewe te sit en niks doen nie.In plaas daarvan Wil hulle water tekorte die skuld gee .

Franz ·

Praat,praat,en nogmaals praat en beloftes maak,geen werklike aksie nie.

Koos 100 ·

Hoekom net Pretoria? Rand water voorsien mos aan meer metros en dorpe. Ek reuk dalk ‘n politieke reukie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.