Tugstappe teen verskeie ná skandaal by Tembisa-hospitaal

Babita Deokaran 

Ses van die nege amptenare van die Tembisa- provinsiale tersiêre hospitaal is geskors hangende ʼn ondersoek deur die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE).

Die skorsings vorm deel van die voortgesette ondersoek na beweerde korrupsie wat die fluitjieblaser Babita Deokaran haar lewe gekos het.

Deokaran was die departement van gesondheid se waarnemende finansiële hoof toe sy op 23 Augustus 2021 buite haar huis in die suide van Johannesburg doodgeskiet is. Sy het haar dogter kort tevore by die skool gaan aflaai.

Intussen het die adjunkdirekteur van verkryging by die hospitaal afgetree, ʼn hoof-fisioterapeut het bedank en ʼn eksterne mediese beampte het opgehou om by die hospitaal te praktiseer.

Volgens Kaizer Kganyago, woordvoerder van die SOE, volg die dissiplinêre stappe nadat die SOE ʼn ooreenkoms van sekonderings met die Gautengse departement van gesondheid aangegaan het om bewerings van korrupsie, bedrog en wanadministrasie te ondersoek in kwessies wat verband hou met voorsieningsketting-bestuursprosesse by die Tembisa-hospitaal.

(Foto: Facebook/Tembisa Hospital – TPTH)

Die SOE het in Desember verlede jaar ʼn voorlopige ondersoekverslag aan die Gautengse premier, Panyaza Lesufi, oorhandig.

Luidens die verslag is bedrieglike betalings van R850 miljoen deur middel van onreëlmatige kontrakte aan 227 maatskappy gedoen. Deokaran het ten tyde van haar moord reeds profiele van 224 van die maatskappye opgestel en dit in ʼn forensiese verslag van haar eie vervat.

Die maatskappye behoort aan vier sakelui, onder wie Stefan Govindraju. Hy word in die SOE se verslag as die vermeende hoofbegunstigde van die onreëlmatige verkrygingspraktyke by die Tembisa-hospitaal geïdentifiseer.

Op grond van die bevindinge van die verslag het die eenheid gevra vir ʼn proklamasie dat die voorsieningskettingbestuur by die Tembisa-hospitaal verder ondersoek word.

“Sodra die proklamasie onderteken is, en die SOE-ondersoek se bevindings dui op onnodige finansiële voordeel, sal die SOE amptenare wat in die lig van ʼn ondersoek of dissiplinêre stappe bedank, se pensioenvoordele bevries en siviele litigasie teen hulle instel om finansiële verliese te verhaal,” sê Kganyago.

“Benewens die ondersoek na korrupsie, wanadministrasie en wanpraktyke, het die SOE ook sisteemmislukkings geïdentifiseer en aanbevelings gedoen om maatreëls te verbeter om toekomstige verliese te voorkom.”

Die SOE is by magte om siviele stappe in die hooggeregshof of by ʼn spesiale tribunaal in te stel. Dit is om enige oortreding reg te stel wat tydens sy ondersoeke gevind is en wat veroorsaak is deur dade van korrupsie, bedrog of wanadministrasie.

“In ooreenstemming met die Wet op Spesiale Ondersoekeenhede en Spesiale Tribunale 74 van 1996, verwys die SOE enige bewyse wat dui op strafregtelike optrede na die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG).”

Lees meer oor die saak hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Kobus ·

Welgedaan….2 jaar na haar moord en hulle word seker met volle salaris geskors. Sal nou seker nog 2 jaar neem voordat finaliteit bereik sal word. Daarna CCMA en howe toe

JohanR ·

‘n Vrou is dood omdat sy die fluitjie geblaas het, en NIEMAND het haar beskerm! Nou hoekom dan sou ander as hulle vou, nou ‘n fluitjie blaas? Beste ding is om fluitjie te blaas, en dan land uit te vlug.

domheks ·

Tugstappe? Waar is die geldjies? NVG nog 10 jaar voor vervolging…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.