Unisa verwelkom omkeer van administrasie

Die minister van hoër onderwys en opleiding, Blade Nzimande. (Foto: Siyabulela Duda/GCIS)

Die aankondiging dat Unisa nie meer onder administrasie geplaas word nie, is “korrek” en bevestig die oppergesag van die howe en die reg, het dié universiteit Maandag gesê.

Unisa se reaksie volg nadat dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, op grond van ʼn hofbeslissing aangekondig het dat hy die kennisgewing wat op 27 Oktober in die Staatskoerant gepubliseer is, teruggetrek het.

Unisa het die Gautengse hooggeregshof in Pretoria dringend genader om Nzimande se besluit om te keer nadat die minister opdrag gegee het dat Unisa onder administrasie geplaas moet word.

Dié hof het die aanvanklike administrasiebesluit as “onwettig” en strydig met vorige hofbevele bestempel en opdrag gegee dat dit onmiddellik omgekeer word.

Na aanleiding van hierdie uitspraak mag daar nie ʼn besluit rakende die administrasie van die universiteit geneem word nie, hangende die finalisering van Unisa se interdikaansoek om die onafhanklike assessor se verslag te hersien en ter syde te laat stel.

Unisa het toe reeds gesê hy glo dié beslissing is reg, aangesien die aangeleentheid met betrekking tot die hersiening van die onafhanklike assessor se verslag, wat grootliks die grondslag van die minister se besluit gevorm het, steeds voor die hof is en nog afgehandel moet word.

Die universiteit het ook gesê dat hy nie in ʼn geskil met Nzimande betrokke is nie, maar dat hy slegs sy verantwoordelikheid teenoor die instelling en sy belangegroepe uitoefen deur enige onnodige ontwrigtings te verhoed.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Nie Verbaas ·

Onafhanklike assessor se verslag ter syde stel? So hulle het geen idee wat hulle doen nie en die verslag wat dit bevestig moet nou geïgnoreer word. Hoe laag kan hulle nog daal?

Andre ·

…moenie dink daai ou Blade is klaar met julle nie ; hy’s klaar weer besig met plannetjies!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.