Verloofde worstel met woede ná Clover-moord

Die oorlede Terence Tegg. (Foto: Facebook)

Die verloofde van die vermoorde veiligheidswag, Terence Tegg, sê sy worstel met kwade gevoelens oor sy brutale moord by Clover se aanleg in Johannesburg verlede maand.

“Ek is baie kwaad oor sy dood. Dit is só ʼn mors van lewe en so onnodig. Dit voel so sinneloos, ek verstaan dit nie,” sê Michelle Bebbington, ʼn helikopter-vlieënier.

Sy kan boonop nie verstaan waarom die beskuldigdes in Tegg se moord skynbaar nou deur ander Clover-werkers en lede van die vakbond General Industries Workers Union of South Africa (GIWUSA) ondersteun word nie.

Bebbington het Tegg, ʼn oud-Recce, drie jaar geken en in daardie tyd verloof geraak. Die paartjie het saam ʼn huis gekoop en was besig met opknappingswerk toe die veiligheidsmaatskappy waarvoor Tegg gewerk het, deur Clover aangestel is om sy aanleg teen stakende werkers te beskerm. Hy het boonop kort voor sy dood oorweeg om af te tree.

Tegg en sy kollegas is op 17 Februarie met vyandigheid begroet toe hulle een van die busse waarin stakende werkers op pad was, voorgekeer het.

Die veiligheidswagte is deur die stakende werkers met klippe bestook en Tegg is in die proses dood. Een van sy kollegas, JJ Cassanga, het ná herhaalde aanvalle dit oorleef.

Twee beskuldigdes, Nkosinathi Mbatha en Mohale Shokane, staan nou tereg op onder meer moord en poging tot moord. Talle ander verdagtes, wat op kringtelevisie vasgevang is, is egter nog op vrye voet.

Michelle Bebbington woon die hofverrigtinge van die beskuldigdes by. (Foto: Megan Swart/Maroela Media)

Bebbington het aan Maroela Media vertel dat sy reeds van die beeldmateriaal oor die dag van Tegg se dood gesien het, maar dat dit vreeslik ontstellend is.

“Ek verstaan nie hoe mense so min respek vir iemand, enigiemand, se lewe kan hê nie – soveel so dat hulle bereid is om iemand van agter af oor die kop te slaan en dan aan te hou slaan wanneer die persoon op die grond is en nie ʼn bedreiging inhou nie. Dit is barbaars.”

Clover-werkers en lede van GIWUSA het vandeesweek by die Tembisa-landdroshof opgeruk vir Mbatha en Shokane se borgtogaansoek. Die groep het liedere in die hof se parkeerterrein gesing voordat van hulle die hofgebou in is.

Bebbington sê dit gaan haar verstand te bowe dat die vermeende moordenaars soveel openbare steun geniet.

“Ek verstaan werkers se regte en hul reg om te staak, maar ek verstaan nie hoekom hulle dink hulle dit met geweld, chaos en moord kan regverdig, terwyl ander dit ondersteun nie. Dit is nie aanvaarbaar nie.”

Bebbington en van Tegg se geliefdes woon die afgelope paar weke die hofverrigtinge by. Sy meen hoewel dit ʼn uitdaging is om die seer te herleef, is dit ʼn stap wat nodig is vir haar om te genees.

“Dit is baie moeilik om saam met hulle [die beskuldigdes] in die hof te sit en alles oor en oor te hoor, maar ek dink dit is nodig. Ek weet hy [Tegg] sou niks minder vir die res van ons gedoen het nie. Hy sou wou seker maak dat geregtigheid geskied.”

‘Hy was lief vir die lewe’

Volgens Bebbington was Tegg een van daardie mense wat ʼn groot liefde vir die lewe, en die mense daarin, gehad het.

“Hy was ʼn passievolle mens wat lief was sy vriende en sy familie – hulle was die belangrikste ding in sy lewe. Terence was ook ʼn man van integriteit, lojaliteit en eerlikheid – dit is hoe ek hom sal onthou.”

Tegg, wat ʼn oud-Recce was, het ʼn passie vir sy werk gehad, maar was voor sy dood op ʼn punt in sy lewe waar hy wou aftree.

“Ons het baie planne gehad om af te tree,” sê Bebbington. “Ek het nooit gedink dat ons nou hiér gaan wees nie.”

Een van Tegg se goeie vriende is kort ná sy dood oor die voorval in kennis gestel en het die slegte nuus toe met Bebbington gedeel.

“Dit was vir ons albei moeilik om te begryp. Ons almal verwerk sy dood so anders want hy was so ʼn groot deel van ons lewens.”

ʼn Gedenkdiens is reeds op 5 Maart vir Tegg in KwaZulu-Natal gehou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Flip ·

Sopas maak ek n punt om nie meer produkte van Clover te koop nie. Ek weet dis nie die maatskappy se skuld nie maar ek boikot hulle moordlustige werknemers met hul ondersteuners…..

Wondermaarnet ·

Sterkte Michelle. Mag die skuldiges aan die pen ry.

Christine ·

Dis baie ontstellend en kommerwekkend dat mense saam met wie ons vandag werk, kan môre in bloeddorstige monsters verander wanneer hulle ontevrede is met wat by die werk gebeur. Onskuldige doen net sy werk en word so vermoor en dan kom ander nog op vir die moordenaars. Skokkend!

gpsa ·

Baie sterkte Michelle. Dit moet ‘n baie moeilike tyd wees vir julle. Staan sterk, Hoop werklik dat geregtigheid sal geskied.

Swerwer ·

Michelle baie van ons voel soos jy oor Terence se lewe wat op so ‘n Brutale manier geneem is. Dit maak mens woedend en ons slap ruggraatlose regering verroer nie ‘n vinger om iets daar omtrent te doen nie.
Daar moet ‘n wet inkom waar die stakendes summier afgedank word en mense wat wil werk ongeag hul velkleur in diens geneem word. Gebruik skerpammunisie om die klomp stakende werkers dan van die perseel te verwyder as hul nie gehoor gee nie.

Carolina ·

Marcela Media, kry asseblief terugvoering van Clover en ons dring daarop aan dat hulle die regspanne moet betaal!!!

Genis ·

As Clover hulle beskerm, en hul unies die moordenaars se regskostes dek, dan Spur ek hulle ook

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.