Vermiste man het lodge dalk nooit verlaat

Willem Kruger word sedert Sondagoggend vermis. (Foto: Facebook)

Willem Kruger (29), die man wat sedert Sondagoggend vermis word, het dalk nooit die terrein waarop Henbase Lodge geleë is, verlaat soos aanvanklik vermoed is nie.

Só het Marilé Nieuwoudt, ʼn lid van die Bethal-gemeenskapspolisiëringsforum wat tans in beheer van die gesamentlike operasionele netwerk (GOS) is, Maandagmiddag aan Maroela Media gesê.

ʼn Grootskaalse soektog word nou in en om die Vaalrivier, wat voor die lodge verbyloop, na Kruger en sy Toyota Hilux Dakar-bakkie onderneem.

“Ons kan nie bewys kry dat hy by die venue uit is nie. Ons soek in dié stadium hier in die Vaalrivier, want dit is een van die sterkste leidrade wat ons tans opvolg. Ons volg egter ook al die ander leidrade op soos dit ontvang word, onder meer deur middel van kamerastelsels op die pad.”

‘n Grootskaalse soektog na Willem Kruger en sy Toyota Hilux-bakkie word tans in die Vaalrivier gedoen. (Foto: Verskaf)

Maroela Media het vroeër berig dat Kruger Saterdagaand ʼn ramparty by die lodge, wat tussen Morgenzon en Amersvoort geleë is, bygewoon het. Hy is glo Sondagoggend 02:00 vir die laaste keer gesien. Daar is aanvanklik vermoed dat hy kort hierna van die lodge na Groblersdal in Limpopo gery het.

Hy sou glo van Morgenzon deur Bethal en Middelburg reis om sy bestemming te bereik.

Daar is geen bewyse dat Willem Kruger by die venue uit is nie (Foto: Verskaf)

Hoewel daar steeds ʼn moontlikheid bestaan dat Kruger wel op pad vermis geraak het, het geen padkamera sy voertuig op dié roete opgemerk nie. Volgens Nieuwoudt kan daar ook nie op die lodge se veiligheidskameras se beeldmateriaal gesien word dat Kruger die perseel verlaat nie.

“Nie een van die kameras tel op dat hy op enige van die paaie uit is nie. Ons het hom [op kamera] opgetel waar hy inkom, maar ons tel nie op dat hy enigsins uitgegaan het nie.”

Sy sê hulle het tans ʼn boot wat op die water soek en ook polisieduikspanne van Nelspruit en Middelburg op die toneel. ʼn Klomp vrywilligers, die Bethal-GPF en landelike veiligheidstrukture help ook soek. “Ons het selfs helikopters in die lug, so ons soek regtig van alle kante af.”

Nieuwoudt sê die voorval is ongelooflik traumaties vir Kruger se familie. Sy hanteer dus alle leidrade en navrae namens die familie.

Alle inligting kan na Nieuwoudt by 071 873 1184 gestuur word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Hendrik Marthinus ·

As sy voertuig nie uitgaan nie, neem ek aan dit is Nog op die perseel
Maar dit Klink dit is weg?
Genade die saak Klink nie Lekker nie
Hoop die familie kry leidrade

Christine ·

Seker moontlik as mens in die donker van die nag nie die perseel ken nie en daar dalk nie goeie beligting is langs die rivier nie. Dit het ook baie gereën Saterdag deur die nag. Wie weet, dalk kon hy ook ‘n paar drankies ingeneem het?

Nozi ·

Maar was daar nie met die vorige berig ‘n foto van sy bakkie waar hy erens op teerpad gery het nie, of sou dit dalk ‘n ou foto gewees het. Baie sterkte aan sy familie, mag hy gou en veilig gevind word. Ons gebede is met jul.

DJ ·

Hmm, hier was drank betrokke en sake het skeef geloop. Daar sal mense wees wat weet maar nie praat nie. Baie jammer vir die familie.

sopbeen ·

Die rivier is in vloed. Die hoof ingang van die lodge is die grondpad wat met ‘n laagwaterbrug oor die vaalrivier gaan.

Lubbe ·

Hierdie is so tragies, en dit kon enige iemand se kind gewees het. Nugter of nie. Maar sommige mense praat sonder om te dink, sonder om te dink dat daar n familie is wat swaar kry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.