Vermiste Willem Kruger: ‘Ons sal aanhou soek’

Willem Kruger word steeds vermis. (Foto: Facebook)

“Ons spreek lewe, al is dit moeilik. Ons spreek Jesus, al is daar twyfel. Ons spreek Willem leef, al is daar geen bewys nie. Want dit is wat geloof is, en dit is wat die Vader, Seun en Heilige Gees van ons verwag.”

Só het ʼn hegte vriendin van Willem Kruger en sy gesin Maandag aan Maroela Media gesê oor die uitgebreide soektog na die 29-jarige jong man. Sy het gevra dat haar naam nie genoem word nie.

Kruger word sedert verlede Sondag vermis nadat hy ʼn ramparty by Henbase Lodge in Mpumalanga bygewoon en daarna spoorloos verdwyn het. Sy Toyota Hilux (Dakar)-bakkie word ook vermis.

ʼn Reusesoektog in en om die Vaalrivier, wat voor die lodge verbyloop, het die afgelope week nog niks opgelewer nie en duur voort. Duisende mense, onder wie plaaslike veiligheidstrukture, private speurders, die polisie en vrywilligers, is by die soektog betrokke.

ʼn Facebook-blad is intussen ook op die been gebring en het tans meer as 35 000 volgelinge.

Daar was teen Maandag egter nog geen teken van Kruger, sy bakkie of die bagasie wat in die voertuig was nie.

Na verneem word, maak sterk rivierstrome dit boonop haas onmoontlik vir duikspanne om onderwater te soek, terwyl verskillende bewerings en honderde leidrade die soektog verder bemoeilik.

Luidens inligting wat aan Maroela Media verskaf is, is daar aanvanklik vermoed dat Kruger van die laagwaterbrug in die rivier beland het. Soekspanne het toe met magnete, bote en helikopters gesoek, maar niks gekry nie.

Daar was vroeër ook bewerings dat hy ná die ramparty gekaap is, maar sy voertuig kon op geen kameras (insluitend pad- en veiligheidskameras by vulstasies en die lodge) opgespoor word nie. Die voertuig se opsporingstoestel en sy selfoon het glo ook gewys dat hy nog steeds in die omgewing van die lodge is.

Marilé Nieuwoudt, ʼn lid van die Bethal-gemeenskapspolisiëringsforum, het vroeër aan Maroela Media gesê daar is ook al langs die roetes gesoek wat Kruger sou ry indien hy wel die lodge verlaat het om na die familie se plaas in Groblersdal terug te ry soos die familie aanvanklik vermoed het.

ʼn Beloning is sedert Kruger se verdwyning uitgeloof en staan nou op R200 000.

Sedert sy verdwyning is organisasies wat daarop toegespits is om vermiste persone op te spoor, aktief op soek na enige teken van Kruger.

Daar is glo intussen ʼn staalfles in die rivier gekry, maar dit is nog nie bevestig dat dit Kruger se fles is nie.

Sakkie Louwrens, ʼn stigterslid van Bosveld Misdaadondersoeke (BMO), het vroeër gesê daar is geen nuwe leidrade wat daarop dui dat Kruger die lodge verlaat het nie, en dat die soektog in hierdie omgewing voortduur.

’n Bron wat ook met die soektog help, het Maandag aan Maroela Media gesê hulle sal nie opgee totdat Kruger gevind is nie.

‘Die waarheid sal seëvier’

Kruger se vriendin sê hulle vertrou dat die waarheid oor wat van hom geword het, wel sal seëvier, al is dit nie dadelik nie.

“Ons weet ons dien ’n God wat regverdig is, ’n God wat altyd teenwoordig is, en ’n God wat genade bo genade het. Ons menslike verstand kan nie die verdwyning van Willem verstaan nie, dus is dit nie vir ons bedoel om te verstaan nie, maar om in God geanker te bly.”

Sy sê Kruger se vriende respekteer sy gesin in hierdie moeilike tyd, en dat dit nie hulle as vriende se plek is om besluite te neem oor inligting wat gedeel kan word nie.

“Verder moet alle mense, die wat betrokke is en die wat nuuskierig is, onthou dat niemand geregtig is daarop nie, en almal moet dit aanvaar en respekteer. Die waarheid sal eendag uitkom. Vir nou is ons plek om onvoorwaardelik en sonder grense aan te hou bid vir die gesin en dié wat seer het.”

  • Die berig is gewysig sedert dit aanvanklik geplaas is. – Red 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Vanessa ·

Ag jinne dit breek mens se hart. Mag God v julle closure gee. Intussen bid ons v julle. Niks is onmoontlik by God nie!!!!!

Onnie ·

Water is ‘n bedrieglike ding, dit verander en beweeg heeltyd, ek glo hy sal weldra gevind word. Sterkte aan sy geliefdes

Sandra ·

Ek weet nie hoe mense so siek kan wees om vals inligting aan die polisie of ondersoekers soos Mike Bolhuis hulle te verskaf nie. Wat gaan deur jou kop om met so ‘n situasie waar iemand se seun weg is, valse inligting deur te gee?

Niklaas ·

Ek glo in die krag van gebed. En die volle waarheid sal binnekort uitkom oor hierdie tergende raaisel. Ek kan my indink hoe swaar hierdie tye vir sy naastes moet wees.

Delia ·

My seun is ook 29. Die gewag moet ondraaglik wees. Mamma en Pappa, ek hoop saam met julle

George ·

Julle bid vir hom, maar julle het LOL en ROFL getik op Mabuza se lyfwag se ongeluk. Skynheiligheid op die topvlak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.