VF Plus vra of Ramaphosa amnestie vir Zuma oorweeg

Dr. Pieter Groenewald tydens Dinsdag se debat. (Foto: Siyabulela Duda/GCIS)

Met tronkstraf vir oudpres. Jacob Zuma binnekort ʼn sterk moontlikheid het die leier van die VF Plus, dr. Pieter Groenewald, Dinsdagmiddag reguit aan pres. Cyril Ramaphosa gevra of hy amnestie vir Zuma sou oorweeg indien tronkstraf ʼn werklikheid word.

Groenewald het Ramaphosa se stelling dat Zuma ruimte en tyd nodig het om sy dade te oordink onderskryf – die VF Plus meen die ruimte van ʼn tronksel en die tyd soos ter vonnisoplegging deur ʼn regter bepaal, behoort nogal die ding te doen.

Dit was deel van die politieke aksie tydens die eerste dag van die debat oor die staatsrede.

Die prerogatief vir amnestie berus kragtens die Suid-Afrikaanse regstelsel by die president, op aanbeveling van die departement van justisie, en slegs nadat die persoon wat amnestie verkry wel skuldig bevind en gevonnis is.

Vir Zuma is dit in hierdie dae spesifiek ter sake nadat adjunkhoofregter Raymond Zondo Maandag die Konstitusionele Hof gevra het om Zuma tronkstraf op te lê weens sy versuim om voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping te verskyn.

Tydens die debat oor die staatsrede het die DA-leier, John Steenhuisen, gesê hy bid vir diegene wat familie aan die dood weens die koronavirus moes afstaan, asook diegene wat werkloos gelaat is deur die grendelstaat.

Hy het klem gelê op die parlement se oorsigrol teen korrupsie en gesê Suid-Afrikaners raak al hoe meer moedeloos omdat die regering nóg die wil nóg die vermoë het om die land se probleme op te los, veral omdat die ANC van korrupsie deurtrek is.

Die DA gaan oor die volgende vyf maande ʼn verskeidenheid wetsontwerpe by die parlement indien as opbouende, praktiese en uitvoerbare bydrae om die land ʼn beter toekoms te gee, het Steenhuisen gesê.

In ʼn siedende aanval het die EFF-leier, Julius Malema, Ramaphosa daarvan beskuldig dat hy onbekwaam en onbetroubaar is.

“Die hele land – ook die EFF – het gehoop jy sou ʼn verbetering op jou voorganger (Zuma) se plundery wees, maar jy is nie. Waar hy ons uitverkoop het aan die Guptas, verkoop jy ons uit aan die Oppenheimers, Ruperts en Mennells,” het Malema beweer.

Hy het uitgewys hoe die werkloosheidsyfer vererger en dat die ekonomie reeds in resessie was voor die koronavirus. Hy het gevra dat Eskom ʼn nuwe afdeling vir groen energie bykry eerder as dat die oorskakeling na hernieubare energie eintlik ʼn skelm privatisering van elektrisiteitsvoorsiening verteenwoordig.

In ʼn kwalik bedekte aanval op adjunkhoofregter Raymond Zondo het Malema gewaarsku dat die regbank nie ʼn blinde kol moet hê om die staatskaping deur huidige magshebbers mis te kyk nie.

Malema het ook gesê die EFF is keelvol daarvoor dat mense – spesifiek in die ANC – hulle as pro-Ramaphosa of pro-Zuma probeer etiketteer.

“Ons stel nie belang in jul faksiegevegte nie. Ons gaan julle ontsetel – almal van julle,” het Malema gesê.

Hy het ook gesê die EFF is teen xenofobie, selfs al kos dit hom stemme, en dat die party alle grense tussen Afrikastate opgehef wil sien.

Die debat duur Woensdag voort, met Ramaphosa se repliek wat Donderdag volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

twaalfboor ·

Kan iemand nie malema se mond vir hom stil maak nie. Hys nou die laaste een wat kan praat oor eerbaarheid.

Anoniem ·

Dit is nie zuma wat tyd nodig het om sy dade te oordink nie. CR is die een wat tyd nodig het. Indien zuma inhegtenis geneem sou word gaan hy soos ‘n kanarie sing. CR is nou besig met sy skaakspel. As zuma gaan fluit is CR uit.

Jr ·

Wat n stupid vraag. Amnestie. Sluit hom weg vir ewig. VF front beteken niks meer nie

Jakes ·

Die land is sedert 1994 deur n spul narre regeer en dan probeer een van die opposisie partye, die EFF, om nog meer skade aan te rig deur sy gesanik oor ryk witmense in SA. As Malema enigsins n sinvolle bydrae kon maak sou mens hom dalk ernstig kon opneem maar hy redeneer soos n kind wat kommentaar probeer lewer oor iets waarvan hy niks weet nie. Dan word dit bevraagteken hoe die EFF mense kan kry om hoegenaamd vir hulle te stem?

Juffrou ·

Nevermaaind amnestie! Vat AL sy voordele én voorregte weg. G’n niks meer vir hom en al sy vroue en 22 kinders wat ons moet betaal! Vat sy paspoort ook!
Asseblief regters, doen nou die regte ding.

Hennie J ·

Welgespreek dr. Groenewald. Jy het cr nou direk op terme geplaas!

Genis ·

Ek dink regtig CR kan sy kop in skaamte sak, ons het gedink Zuma het skade aangerig… Die sogenaamde CR faksie het SA triple gekos as wat Zuma het, indien nie meer nie… My konklusie, hulle is dieselfde skelms, indien nie erger… Ek dink SA se tronke is te klein vir die ANC skelms… Sou dir reen en hulle eendag vervolg word…

christo ·

Ek werk waar daar baie swart jeugdiges is. Wanneer Malema vir hulle sê dat hy die Oppenheimers en Rupert’s se rykdom vat en verdeel onder hulle, sal hulle dit glo.
‘n Jellievis het meer ruggraat as Ramaphosa. Die kans dat hy polities sal oorleef is gering. Die ANC sal hom uitwerk want hy is ‘n struikelblok in die pad van korrupsie en verryking van ander ANC grootkoppe.
Die kans dat die Zondo kommissie enige-iets gaan bereik is skraal. Dis nog net weer ‘n hoender wat ‘n windeier gaan lê.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.