Video: Kom koue, kom reën… en hie’ kommie Bokke!

(Foto: Janice du Plessis/Maroela Media)

Hie’ kommie Bokke, hie’ kommie Bokke! Ja, die manne wat Suid-Afrikaners se harte die afgelope maand en ʼn half van trots laat swel het, is terug op tuisbodem – en hulle het ʼn groot geskenk huis toe gebring: die immergesogte Webb Ellis-trofee.

Miljoene Suid-Afrikaners het die afgelope ruk week na week aangemeld om te kyk hoe die Springbokke hul teenstanders in Frankryk laat les opsê. En noudat die werk gedoen is, was dit tyd om huiswaarts te keer en saam fees te vier.

En fees is daar behoorlik gevier – met ʼn warm verwelkoming op die OR Tambo-lughawe soos wat net Suid-Afrikaners kan.

Duisende ondersteuners het vroegoggend al by die lughawe begin saamdrom om die Springbok-helde in te wag. Die geblaas van vuvuzelas en die gegil van ondersteuners het deur die stampvol internasionale aankomssaal weergalm.

Plakkate met stellings soos “Siya vir president” en “my antwoord is ja vir wat ook al Damian vra,” was oral in die reuseskare te sien.

(Foto: Janice du Plessis/Maroela Media)

Polisiebeamptes is ook in groot getalle ontplooi om die skare te monitor en veiligheid te verseker.

Omstanders moes koes vir die swaaiende plakkate en die honderde vlae wat ondersteuners entoesiasties laat wapper het. Bok-aanhangers het op mekaar se skouers gestaan om net ʼn vlugtige blik op die Bokke te kry.

(Foto: Janice du Plessis/Maroela Media)

En toe die Bokke eers te voorskyn kom, was die oorweldigende vreugde onmoontlik om langer te beteuel.

Daar was glimlagte van oor tot oor, mense wat op en af spring en die gille van duisende ondersteuners – en dit het menige Bok-hart ongetwyfeld tjoklits laat klop. ’n Reuse- Suid-Afrikaanse vlag het ook in die aankomssaal gepryk.

Siya Kolisi, kaptein van die Springbokke, het Suid-Afrikaners vir hulle lojale ondersteuning regdeur die toernooi bedank.

“Ek wil namens die span vir die mense van die land net regtig dankie sê.

“Vandag het Suid-Afrika vir ons gewys presies vir wie ons dit gedoen het.

(Foto: Janice du Plessis/Maroela Media)

“Dit was ʼn moeilike en lang 20 weke, maar die Springbokke se bestuur- en afrigtingspan beplan al die afgelope vier jaar dat dít die jaar is dat ons die Webb Ellis-trofee vir die tweede agtereenvolgende Wêreldbeker huis toe bring.

“Dit het nie oor ons as spelers gegaan nie; hierdie oorwinning was vir elke Suid-Afrikaner en ons het gewys wat moontlik is met hierdie diverse span.

“Ons hoop die span inspireer mense uit alle vlakke van die lewe om hul drome na te streef en om te besef dat enigiets moontlik is.

“Niemand het regtig gedink dat ons die Wêreldbeker in 2019 sou wen nie. Mense was hoopvol, maar min het dit sien kom. Die plan was nog heeltyd vir 2023, maar ons het verbeter en ons het in 2019 gewen. Dié jaar kon ons voel hoe ons land van ons verwag om as oorwinnaars uit die stryd te tree.

“Ons het dit vir julle gedoen, Suid-Afrika. Vir elke liewe een van julle,” sê Kolisi.

Op ʼn vraag oor of die Bokke dink dat hulle oor vier jaar die trofee sal kan behou, het Eben Etzebeth nie twee keer oor die antwoord gedink nie.

“Ja,” het hy glimlaggend en selfversekerd geantwoord.

(Foto: Janice du Plessis/Maroela Media)

“Om die Wêreldbeker saam met die manne te wen, beteken die wêreld vir my. Ek sal enigiets vir hulle doen,” sê hy dan ook.

Van die omstanders by die stampvol lughawe het aan Maroela Media vertel dat hulle spesiaal verlof geneem of klas misgeloop het om die Springbokke terug te verwelkom.

“Ons is hier vir die gees,” antwoord ʼn ondersteuner wat in die skare staan, laggend.

“Ons het geweet hier gaan baie mense wees en ons het nie gedink ons sal die Bokke regtig self kan sien nie, maar hulle het ons besonders trots gemaak en dit is hoekom ons hier is.

“Vir die gees; ʼn mens sien dit, ʼn mens hoor dit, ʼn mens voel dit. Dit is groen bloed wat deur ons are pomp, ons harte is vol van trots,” sê sy.

Maroela Media het vroeër berig die span begin Donderdag met ʼn trofeetoer wat in Gauteng afskop. Dit skuif Vrydag na Kaapstad, Saterdag na Durban en eindig Sondag in Oos-Londen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Euodia ·

Die skeidsregter was treurig kyk Etzebeth se skouer lopie mis teen AB. AB se tweede drie was reg en SA se een skop moes nie gegee gewees het nie.!!!!

Elmarie ·

Ai hierdie beterweterige, negatiewe, kritiese kommentaar van ‘n sekere persoon raak regtig vervelig. Kyk na buite, die son is uit na die teen! Jy lewe! Is dit nie genoeg om jou positief te maak nie? Is dit lekker om heeltyd slegte neerhalende kommentaar te lewer? Bokke het gewen en die trofee is ones s’n vir die volgende vier jaar en klaar. Gaan plant ‘n struik en voel beter

Colin ·

En tog het wêreld rugby bly staan by die finale telling. Kom oor dit. Hierdie raak nou pateties

Hendrik ·

Ja, n groot gebeure en groot blydskap. As die anc net by die waarde van hd gees sou aanpas en van hul kommunistiese ideologie afstand wil doen. Dit sou darem baie meer indrukwekkend gewees het as hulle met hul netjiese springbokdrag opgedaag het.

Nico ·

Die mense vereer die mens wat Jesus Christus en God die Vader wat die bokke by gestaan het met die oorwinning. (Moenie hierdie verwyder nie, dit is die siening van ‘n persoon).

fbbb ·

Hi Nico. Ek stem 100% saam met jou. Mense word vereer en dit is net ‘n sport. Kan daar asb net soveel energie ingesit word om die ware KERKE weer vol te maak en ook ons SKEPPER te dien soos HY van ons verwag, en nie soos ons dit wil doen soos dit ons pas nie.

Keelvol ·

Ek sien op die foto’s kinders wat in die skool moet wees vir eind eksamen. Maar rugby is mos belangriker.

Colin ·

Deesdae het omtrent al die ouderdomsgroepe bloktyd tydens eksamen. Ek is seker daai paar ure wat hulle by die lughawe spandeer het gaan nie maak dat hulle druip nie? En vir daai kinders is dit iets wat hulle laat goed voel en baie lank sal onthou. Probeer gerus self iets kry wat jou laat goed voel en verby al die negatiewe kyk.

Republikein in die Wes Kaap ·

Ons maak so oom Colin. Ek gaan vanaand ‘n boek lees oor Nelson Mandela.

Papsak ·

Ek net so keelvol stem saam kinders wat in skool moet wees wat so aan gaan keelvol regtig

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.