Video: SA joernalis vertel van gruwels in Israel

Die woning van twee van die slagoffers van die Hamas-aanval op 7 Oktober, 2023. (Foto: Howard Feldman)

In Israel is die nagevolge van 7 Oktober, toe nagenoeg 1200 Israelse burgers deur lede van die terreurgroep Hamas afgemaai is, nog oral te sien.

In die strate van die woongebied Be’eri, naby die grens met Gaza, staan kinders se fietsies rond asof die eienaar net vinnig die huis in is om koeldrank te kry. Die bebloede meubels wat in die strate rondstaan en koeëlgate teen huise se mure en plafonne, vertel egter ʼn ander storie.

Hier het omtrent 70 Hamas-lede vroegoggend inwoners se huise ingestorm en honderde mense, baie van hulle vroue en kinders, doodgemaak. Die Suid-Afrikaanse joernalis Howard Feldman het verlede week teruggekom van ʼn weeklange besoek aan Israel, waartydens hy dié gebied en ander dele van die land verken en met verskeie inwoners en regeringsamptenare gesels het. Hy het sy ervaring die afgelope week met Maroela Media gedeel.

“Die dinge wat ek gesien het, was gruwelik. Israel se mense is in rou. Hulle is veral baie ontnugter deur die feit dat so iets kon gebeur. Hulle is kwaad vir die regering en president [Benjamin] Netanyahu, wat nog al die jare beloof om hulle te beskerm.”

Die woongebied B’eri in Israel, nadat Hamas inwoners hier op 7 Oktober, 2023, aangeval het. (Foto: Howard Feldman)

Feldman is self ʼn Jood en toe die geleentheid hom ʼn paar weke gelede voordoen om as deel van ʼn toergroep Israel te besoek, het hy besluit om met sy eie oë te sien hoe sake hier staan.

Hy het met senior veiligheidsbeamptes gesels wat aan hom gesê het dié inval moes nooit gebeur het nie. “Daar kon beslis meer gedoen gewees het om dit te verhoed. Sekuriteitsleiers het aan my erken die intelligensie was nie wat dit moes wees nie.”

Feldman sê al doen Israelse burgers hul bes om aan te gaan met die lewe, ervaar hulle baie skok, ongeloof en verlies, veral aangesien 134 Israeli’s nog deur Hamas aangehou word.

“Israeli’s is in twee geskeur oor die oorlog, maar vir hulle is dit ononderhandelbaar dat die gyselaars vrygelaat en Hamas vernietig word.”

Feldman het ook die geleentheid gehad om met een van dié gyselaars te gesels nadat sy onlangs vrygelaat is. Aviva Siegel is al naby aan 70 jaar en haar man is nog in aanhouding. Sy vertel die gehalte van die lug was swak waar hulle onder die grond aangehou is en dat gevangenes nie genoeg kos, water en medisyne gehad het nie. Hoewel dit haar nie self oorgekom het nie, weet sy die militante het van die jonger gyselaars seksueel misbruik.

“Sy is bekommerd oor haar man, wat siek is en nou sonder haar ondersteuning in aanhouding moet oorleef.”

Midde die hartseer en ontnugtering is daar tog ook stories van heldedade en hoop, vertel Feldman. Een hiervan is die taxibestuurder Youssef Ziadna, wat om en by 30 jongmense gered het toe dieselfde militante daardie noodlottige dag op feesgangers in die woestyn toegeslaan het. “Youssef het van die feesgangers vroeg die oggend in sy bussie by die fees afgelaai. Op pad terug het dieselfde kliënt hom gebel en gesmeek om hulle te help omdat Hamas-lede hulle aanval. Hamas het toe reeds al die paaie na die fees versper, maar hy het agterpaadjies gebruik om daar uit te kom en tientalle feesgangers in sy bussie gelaai en na veiligheid gebring.”

Feldman sê hy moes ook eers mooipraat wanneer mense in Israel hoor hy is van Suid-Afrika. “Die mense van Israel, gewone burgers sowel as regeringsamptenare, is baie kwaad vir Suid-Afrika. Hulle meen ons land lei tans die veldtog, namens Iran, om Israel se geloofwaardigheid af te breek. Ek moes dan mooi verduidelik dat die ANC nie noodwendig die Suid-Afrikaanse bevolking verteenwoordig nie.”

Israel is veral ontnugter deur die ANC se optrede omdat daar in Israel self soveel Suid-Afrikaanse immigrante is wat wonderlike werk doen. Van dié oud-Suid-Afrikaners is leiers in die gemeenskap of grootkoppe in die weermag. Ander bied aan vlugtelinge uit die suide en noorde van Israel ʼn veilige hawe.

Feldman sê hy is persoonlik erg geraak deur alles wat hy in Israel beleef het. “Veral die besoek aan die huise naby die grens waar mense vermoor is. Niks kan beskryf hoe gruwelik dit was nie.”

Hy erken daar is baie vals inligting oor die oorlog wat versprei word en sê mense moet ligloop vir enigiets wat nie deur die hoofstroommedia oor berig word nie. “Vals nuus is ʼn groot probleem en word deur mense aan albei kante van die oorlog versprei. Ek het ʼn paar Israelse nuuswebwerwe wat ek as uiters betroubaar beskou en glo net iets indien dit op hierdie webwerwe verskyn.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Michael ·

Ek haal my hoed af vir die media om hieroor te berig en daarom ondersteun ek Israel 100% en wens ek kon hulle help om die hamas terroriste uit te wis.

Petrus ·

Daar was nie 400 Israelse burgers afgemaai nie, maar meer as 1200 is vermoor deur die groep Hamas terroriste.

Jana ·

Dankie vir hierdie berig Maroela Media. Ek vra verskoning vir my skerp kommentaar die ander dag wat julle gelukkig afgehaal het. Daar is net soveel valse nuus oor Israel.

trotsNAMSA ·

Ek het al talle kere in Israel gekuier en dan alleen die land en Palestina besoek. Weet SA’ners van die hoë mure wat rondom Palestina gebou is ? ‘n Landjie +-14 km x 30 km ? Dat Palestina nog altyd van Israel afhanklik is vir kos en anderr ? Vir 75 jaar al ? Is +-2 000 Istraeliete se lewens meer werd as +-75 000 Palestyne ? Lees gerus meer oor Palestina/Midde-Ooste se verhouding met Israel. Israel is nie “‘n liewe JESUS” land nie. Wil jy vir jare en jare afhanklik wees van ‘n ander land vir jou behoeftes ? Genoeg is genoeg ! VIVA vir almal wat opstaan teen Sionisme ( Google die terme ook).

NelNel ·

Die Palestyne het geld om bomme af te vuur teen Israel – hoekom het hulle nie geld vir kos nie.?
Waarvandaan kry hulle hul wapens? Hoekom kan hulle nie kos kry van dieselfde plek nie? Mense wat terroriste ondersteun, moet liewer tjoepstil bly.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.