Video: Situasie kalm ná brand by Tshwane-kantoor

 

(Foto: Pieter Cloete/Maroela Media)

ʼn Donker rookwolk het Donderdagoggend oor Tshwane se munisipale kantoor in Centurion gehang ná betogers glo vuurversperrings gemaak het in ʼn poging om dienslewering – wat steeds weens die voortslepende Samwu-stakings ontwrig word – verder tot stilstand te dwing.

Maroela Media het vroeër berig dat talle buurte in die stad onder water- en kragonderbrekings gebuk gaan en dat vullis ook nie verwyder word nie. Selfs die kwesbaarste inwoners wat mediese hulp verlang, word geteiken. Personeel word uitgejaag en klinieke gedwing om hul deure te sluit. Busdienste word ook ontwrig.

Selby Bokaba, woordvoerder van die Tshwane-metro, sê die stad is bewus van die sporadiese voorvalle van geweld en intimidasie wat in sekere dele van die stad kop uitsteek.

“Die voorval in Centurion, waar munisipale eiendom en voertuie aangeval is, is in bedwang. Dit is duidelik dat die stakende werkers beplan het om verwoesting te saai deur staatseiendom aan die brand te steek.”

Talle brandbestryders en die polisie was op die toneel met Maroela Media se besoek aan die kantoor. Asblikke en ander items is aan die brand gesteek.

 

Volgens Bokaba word die stad op hoogte gehou van elke gebied wat uitdagings of probleme ondervind, waarna die nodige owerhede ontbied word.

David James Farquharson, DA-raadslid in Centurion, sê sommige depots is heeltemal versper wat veroorsaak dat dienste nou selfs nog stadiger kan wees.

“Daar is hardwerkende personeellede wat graag hul kant tydens hierdie onwettige staking wil bring, maar hul veiligheid is in gevaar,” sê Farquharson.

Bokaba sê egter die owerhede beheer wel die situasie en diegene wat verantwoordelik is vir die voorvalle, sal in hegtenis geneem word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

domheks ·

Verwoes alles. Die gemors werk mos nie vir wat hulle het nie, staat gee mos alles op ‘n skinkbord.

Truman Burbank ·

Bokaba sê egter die owerhede beheer wel die situasie? En ek glo hom. Dit lyk of alles onder hulle beheer is.

Vrystaat2109 ·

En Ramaphosa sy adjunk en sy kaders is doodstil!!! Wens ek kon sê wat ek wil, breek af, brand af, die land is alreeds bankrot.

skurweberg ·

Die belastingbetalers moet maar toekyk hoe hulle swaarverdiende geld en mede eienaars van toerusting vernietig word. Hoe lank nog moet ons net toegee en toegee en toegee?

Kokerboom ·

Waar is die SAPS..ALTYD afwesif en laat skade toe. Klaa hele lot aan!!!

Kokerboom ·

Identifiseer skuldiges en verhaal skadekoste van hul salarisse voor hul afgedank word!!!

JohanR ·

Eeerste ding wat uit die sak kom is die vuurhoutjies of die aansteeker. Te dom om te besef dat more sal hulle miskien daai gebou moet gebruik vir iets. Brand ‘n skool af en dan hau……waar gaan die kinders NOU skoolgaan?!?!

HPJ ·

Soos die Chinese spreekwoord Die DA Sal die land afbrand solank hulle net oor die as kan reageer

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.