Vrae oor ‘vreemde’ Ekonomie-uitslae

skole matrieks matriek matriekeksamen onderwys

(Argieffoto: Maroela Media)

Matrikulante, onderwysers en ouers is skynbaar op die oorlogspad oor die matriekuitslae vir Ekonomie wat volgens hulle “net nie sin maak nie”.

Leerders se jaarpunte verskil in sommige gevalle met tot 20% van hul uiteindelike uitslae en enkele skole het amper vier keer meer druipelinge as wat hulle verwag het.

ʼn Onderwyser aan ʼn skool in Polokwane, Limpopo, sê sy het nog nooit so baie gehuil in een dag as toe sy gister die uitslae kry nie. Sy het op voorwaarde van anonimiteit met Maroela Media gesels. “Die kinders is ontsettend teleurgesteld. Ons het dwarsdeur die jaar hard gewerk; nou het 43 van my leerders gedruip en nog ʼn klomp kan nie meer gaan studeer nie, want swak Ekonomiepunte het veroorsaak dat hulle nie meer matriekvrystelling het nie.”

Sy sê een van haar topkandidate behaal gewoonlik 99% vir die vak, maar het ʼn finale punt van 83% behaal. “Die vraestel was baie billik, so dit maak net nie sin dat die punte soveel sou verskil nie.” Volgens die onderwyser kla ander skole in Limpopo en elders in die land ook.

Die raad vir gehalteversekering in algemene onderwys en opleiding (Umalusi) het vroeër die week aangedui dat Ekonomie en Geografie se rou punte vanjaar afwaarts aangepas is. Die verskil tussen rou punte en die aangepaste punt mag nie meer as 10% wees nie, maar onderwysers sien ʼn baie groter verskil in die finale uitslae. “Een van my leerders se jaarpunt was 78%. Haar uiteindelike punt vir die vak was 37%. Dis onmoontlik. Iewers moes ʼn reuse‑aanpassing gewees het, óf die merkers was onervare,” sê die onderwyseres van Polokwane.

Statistieke deur die departement van basiese onderwys, wys egter die slaagsyfer vir ekonomie het sedert 2021 met amper vier persentasiepunte gestyg, van 67,9% tot 71,5%.

besigheidstudies-sos-konferensie-2019-01-17

Bekommerde vakonderwysers by Akademia in Centurion vir ‘n gesprek oor die uitslae vir Besigheidstudies. (Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media)

Die onderwyseres sê veral in Limpopo sukkel die departement van onderwys jaarliks om ervare merkers vir Ekonomie in die hande te kry, veral vir Afrikaanse antwoordstelle. “Ek het 14 jaar se ondervinding as Ekonomie-onderwyser. Ek het vanjaar aansoek gedoen om te merk, maar is nie gekeur nie. Die departement het my egter tydens die merkproses gekontak en gevra of ek kan help want daar is geen Afrikaanse merkers by ons sentrum nie. Ek het egter reeds ʼn kontrak geteken om elders te help.”

Hugo Vermeulen, hoof vir opleiding aan Solidariteit se Skoleondersteuningsentrum (SOS), sê hulle het nog nie enige klagtes van ledeskole oor die Ekonomie-uitslae gekry nie, maar sê presies dieselfde het ʼn paar jaar gelede met besigheidstudies se uitslae gebeur. “Geografie blyk ook die afgelope paar jaar ongeloofwaardige en teenstydige uitslae te toon. Net 1% van die 2022-matriekklas het ʼn onderskeiding vir Geografie behaal en dit is veral Afrikaanse skole wat sê die finale uitslae stem nie ooreen met dit wat leerders deur die jaar behaal het nie.”

Hy sê indien die jaarpunt met meer as 10% van die eksamenpunt verskil, word die jaarpunt uit die berekening van die finale punt gelaat. “In sommige gevalle ken onderwysers ook baie maklik punte deur die jaar toe, en word ʼn verwagting van die uiteindelike uitslae geskep, wat nie noodwendig haalbaar is nie.”

Willie Spies, ʼn prokureur van Hurter en Spies in Centurion, sê onderwysers moet geraakte leerders aanraai om vir ʼn hermerk aansoek te doen. Die onderwyseres van Polokwane sê hoewel hulle dit sal doen, sal die uitslae van die hermerk nie betyds beskikbaar wees vir leerders om vanjaar nog te kan gaan studeer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

rietrot ·

Ek lees van die aanpassings. Wat se klomp snert. Gee vir die skolier, wat die as jaarpunt of eind eksamen behaal het bywyse van die jaar se toetse en eind eksamens. Die aanpassingsisteem laat ruimte vir ongewenste praktyke. Dit lei tot die vraag, in welke mate word daar deur die Nasionale Departement van Onderwys (“Hulle”)met onder andere matriekuitslae gepeuter. ‘n Punt (%) is ‘n verdiende punt. Hulle speel met die toekoms van ons jeug.

kg ·

Ek en klomp ander studente wat saam my swot by ‘n college, het presies dieselfde mee gebeur. Jaarpunte is bo 80% en na eindeksamen dop mens die vak met ‘n eindpunt van 34%. Vraestelle kan nie gesien word nie en mens moet geld spandeer vir ‘n hermerk en hoop vir die beste. Nie eers lektore verstaan hoe ‘n jaarpunt so erg kan daal nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.