VSA se Yellen loof SA se billike energieoorgang

Janet Yellen, die Amerikaanse minister van finansies, en Enoch Godongwana, haar Suid-Afrikaanse eweknie. (Foto: Elmond Jiyane)

Janet Yellen, die Amerikaanse minister van finansies, het Donderdag Suid-Afrika se “moedige” deelname aan die sogenaamde Just Energy Transition-vennootskap (die oorgang na ʼn laekoolstof-ekonomie) geloof wat deur die VSA en ander Westerse lande gesteun word.

Yellen, wat Donderdag met Enoch Godongwana, haar Suid-Afrikaanse eweknie, vergader het, sê ook dat die VSA sy bande met Suid-Afrika koester.

Yellen is op ʼn twee weke lange besoek aan Afrika en was vroeër ook in Zambië en Senegal. Yellen sê verskeie onderwerpe sal tydens haar besoek met Godongwana bespreek word, onder meer Suid-Afrika se ekonomiese vooruitsigte en hervorming in die energiesektor. Sy het egter nie melding gemaak van die VSA se kommer oor die Suid-Afrikaanse weermag se beplande militêre oefeninge saam met Rusland en China nie.

Dit is die eerste keer sedert 2014 dat ʼn Amerikaanse minister van finansies Suid-Afrika besoek, maar volgens Yellen was sy die afgelope jaar gereeld met Godongwana in gesprek.

Haar besoek volg enkele dae nadat Sergei Lavrov, Rusland se minister van buitelandse sake, ook besoek aan Suid-Afrika afgelê het.

“Soos jy weet, is Suid-Afrika die eerste land met ʼn Just Energy Transition-vennootskap – waarvan die VSA trots is om ʼn vennoot te wees.

“Hierdie vennootskap verteenwoordig Suid-Afrika se eerste groot stap om toegang tot betroubare elektrisiteit uit te brei, en ʼn laekoolstof- en klimaatsveerkragtige ekonomie te skep. Dit is ʼn stap wat ek glo die diep, fiskale las van die energiesektor op Suid-Afrika se ekonomie sal verlig, en sterk ekonomiese groei sal bevorder,” sê Yellen.

Janet Yellen, die Amerikaanse minister van finansies, en Enoch Godongwana, haar Suid-Afrikaanse eweknie. (Foto: Elmond Jiyane)

“Die vennootskap sal ook in werkskepping in groeiende bedrywe belê sodat die oorgang regverdig is en niemand agtergelaat word nie.”

Yellen en Godongwana sal voorts ook vergader oor hoe multilaterale ontwikkelingsbanke internasionale uitdagings beter kan pak en hoe dit Afrikalande kan bevoordeel. Daar sal ook gesprekke wees oor die bekamping van geldwassery en finansiële terrorisme.

“Daar was konstruktiewe samewerking tussen ons twee lande regdeur die G20-beraad en die Finansiële Stabiliteitsraad, insluitend om toepaslike regulatoriese standaarde vir die finansiële sektor daar te stel,” het Godongwana Donderdag gesê.

“Daar is ook breër samewerking tussen die VSA en die Afrika-streek. Ek is bly minister Yellen is een van die Amerikaanse regering se leiers wat dié land se inisiatief ondersteun om handel-, ekonomiese en finansiële bande met Suid-Afrika en die Afrika-vasteland te bevorder.”

Godongwana het verder gesê dat die VSA een van Suid-Afrika se voorste handelsvennote is.

“Ek hoop dat dit sal voortgaan.”

Godongwana het voorts verwys na die VSA se besluit om ʼn gesamentlike taakspan op die been te bring om onwettige handel in wild die hoof te bied, en gesê hy is uiters verheug oor dié aankondiging.

Yellen vergader Donderdag ook met Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

29 Kommentare

Nici ·

Ha ha ha! Natuurlik presteer ons goed met ons energieverbruik. Ons het skaars elektrisiteit! Terug na pre- industralisasie is wat blybaar die aarde gaan red.

Elma ·

Ek dink hierdie is baie snaaks. Die vrou prys WAT presies???

ronel ·

die hele lot van hulle is n klomp narre,…. hoe kan hulle nie die waarheid sien nie?

Blikkies ·

Klink vir my na net lippe taal. Klink maar net goed en dit is waar dit stop.

Sonblom ·

Weereens is ‘n prentjie aan die buiteland geskets wat nie die waarheid vertel nie. Anders sou Yellen nie SA geprys het nie.

anko ·

sy moet haar kop laat lees en met mense op die grond praat voor sy met die sogenaamde hooggeplaasdes omgang het

Daniel ·

Sy het vir Lavrov net gemis, wonder wat dink die VSA van sy besoek?

Henry ·

geen steenkool kragstasies geen krag. is dit wat hulle wil hè

anko ·

daar is dan nie eens genoeg stoorplek vir die huidige wind en sonkrag nie

Jacobus ·

Nou wonder ek hoeveel dollers het die ANC uit die Amerikaanse regering gebedel?

anko ·

wonder wie al die geleende fondse gaan terug betaal. elke land gaan sy stukkie land kry

Jaco ·

Terwyl dié minister van Amerika nou hier is, bespreek sommer die volgende ook met haar:
Biden en sy hoogheilige Demokrate het so ‘n mooi mooi oop “human rights” georiënteerde oop immigrasiebeleid. Ek wonder net, dít kan mos ook tot SA se onderdrukte wit mense se voordeel wees: ramaphosa kan al SA se “rassistiese” wit mense wat so “erg ongelykheid” in SA skep, mos na die “oop” Amerika deporteer. En Biden sal dan so min of meer verplig wees om ons in te vat. Dit sal mos nou mooi wys hoe sy “non-racial, non-discriminating human rights” werk.

annie ·

Going West is nie altyd die slimste plan nie. Afrikaners sal definitief nie in luukse hotelle getrakteer word soos ander agtergeblewe regstellende nuwe verontregte inkomelinge nie.

Niklaas ·

Sy het vroom geluister na ‘n boel leuens. Daar was natuurlik fantastiese onwaarhede aan haar oorgedra.

POPEYE ·

Het iemand haar dit hoor sê?? Klink of die storie gedraai is.

LANA is ELANè ·

Ek wens ek kan hier vloek, maar ongelukkig is dit onvanpas, maar waar kom hierdie oningeligte persoon vandaan?
Besef sy wat die gladde sg oorgang vir ons ekonomie beteken en dat oorgang in die geval beteken, elke burger vir homself.

Elize ·

Nog iemand wat in die ouetehuis hoort maar nou oral haar ingelse strooi wil kom kwytraak.

Gaitsigubib ·

Hoofmeisie van die nuwe wereld orde……… wil gou n Klaus Schwab medalje wen voor sy die emmer skop.

VaalDonkie ·

Ek het mos laasjaar al gese hierdie beurtkrag is aspris. Hulle wil ons forseer om die koolstof-sentrales toe te maak en hernubare energie te gebruik. Natuurlik erken hulle dit nie en gee voor dis “nat steenkool” of “sabotasie”. Maar as jy al die feite beskou, kom jy agter die regering forseer ons om hernubaar te gaan deur elektrisiteitskostes so ver op te jaag dat sonkrag, windkrag, ens ekonomies vatbaar raak.

Merk my woorde.

anko ·

net jammer die son skyn nie altyd nie en die wind waai ook nie altyd nie

annie ·

Sjoe, dis darem ‘n openlike gevry… Maak mens skoon skaam… Gelukkig vir ons is Cyril ‘n gekonfyte pledge-afdreiger… Hy ken van dit: As julle dit sal ons dalkies dat en as… Maar onthou óns is die verontregtes…

kragaap ·

Ha ha wat ‘n grap. Die ANC dink SA is ‘n wêreld moontheid. Onder hul bestuur het die land op alle gebiede so onderpresteer dit is eintlik net nog ‘n gefaalde Afrika land. Dink nie meeste ANC ministers kan “just energy transition” spel nie. Kan mens jou indink die BBBEE standaarde wat gestel sal word vir die bate aankope en konstruksie prosesse ? En die korrupsie en kader verryking wat sal plaasvind ?

Jakes ·

Agbare dame, weet jou moeder waar jy is? Dis die grootste snert wat ek ek nog gehoor het. Nogal beduidend om 2 narre saam te sien.

Adri ·

Billike energieoorgang van beurtkrag na geen krag??? Bespotlik!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.