Brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die Valke, het gesê agt renosters het in November verlede jaar van die reservaat in Pelgrimsrus verdwyn. Sewe karkasse is later gevind. Die renosters is geskiet en onthoring. Die ander renosters is nooit gevind nie.
Volgens Mulaudzi het hulle Maandag ’n deurbraak gemaak toe die eenheid teen georganiseerde misdaad inligting ontvang het oor waar een van die verdagtes hom moontlik bevind. Die verdagte is met behulp van die eenheid vir nasionale intervensie in hegtenis geneem en het beamptes na ’n tweede verdagte gelei.
Mulaudzi het gesê die twee verdagtes het hulle na nog twee verdagtes gelei waarna die vier verdagtes ’n vyfde verdagte uitgewys het. Die vyfde verdagte het glo die vuurwapen waarmee die renosters doodgeskiet is, verskaf. Hy is in hegtenis geneem en ’n onwettige haelgeweer is in sy besit gevind.
Volgens Mulaudzi het twee van die verdagtes ook erken dat hulle in November verlede jaar twee renosters in die Pretoriuskop-gebied in die Krugerwildtuin doodgemaak het.
Die vyf verdagtes het Woensdag in die Graskop-landdroshof verskyn. Drie van die verdagtes is vrygelaat nadat die saak teen hulle teruggetrek is. Die ander twee verdagtes, Moses Mahole (27) en Nichol Nkata (47), bly in aanhouding en moet weer op 26 Maart in die hof verskyn.
Onthoring albei van hulle ook, dit is al manier om dit te stop.