Weerdiens waarsku teen koue, sneeu

Argieffoto (Foto: Pixabay)

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) waarsku teen baie koue, winderige en nat toestande wat van Vrydag in die westelike dele van die land voorspel word. Daar is ook ’n goeie kans op sneeu wat van Saterdagmiddag in die hoogliggende gebiede van die Kaapprovinsies kan uitsak.

Die weerdiens het ’n waarskuwing teen ’n reeks kouefronte uitgereik wat temperature in die Wes-, Noord- en Oos-Kaap sal raak. Maksimum temperature in hierdie provinsies sal na verwagting tot onder 12 °C daal.

Die koue sal met wind en reën gepaardgaan, het die weerdiens gesê.

“Saterdag sal na verwagting die koudste dag van die naweek wees en inwoners sal Sondag die koudste oggend ervaar. Die temperature sal dan deur die dag stadigaan verbeter,” sê die weerdiens.

Die weerdiens raai boere aan om die nodige voorsorgmaatreëls te tref om te verhoed dat vee in hierdie uiters koue temperature verkluim of gewasse vrek.

“Diegene met swak gesondheid moet ook uit die koue bly.”

Maroela Media het vroeër berig dat die inwoners in die binneland en noordoostelike dele van die land die uitwerking van die kouefronte teen Saterdag sal voel. Volgens die weerdiens kan maksimum temperature in hierdie dele van die land met tussen 6 °C en 8 °C daal.

Die weerdiens het verder ’n geel vlak 2-waarskuwing uitgereik teen sterk winde en hoë golwe in die Wes-Kaap.

“Sterk noordwestelike winde van tot 65 km/h kan van Vrydagoggend aan die suidwestelike kus van die Wes-Kaap verwag word. Hoë golwe van vier tot ses meter word tussen Saldanhabaai en Kaap Agulhas vir Vrydag voorspel. Die weersomstandighede sal teen Saterdag in Plettenbergbaai se rigting beweeg.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

VaalDonkie ·

“global warming” het seker COVID gekry want dis vrek koud hier in die Kaap.

Samuel ·

Wat verwag julle? Dit is mos winter in die suidelike halfrond?

Antie Sarie ·

Winter is verby. En het die jaar buitendien vroeg begin. HAARP now hear. The angels sing.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.