Weermag dankbaar vir hulp ná dodelike brande

ʼn Brand het die afgelope naweek na die Lohatla-weermagbasis versprei. (Foto: Gift of the Givers/Facebook)

Die “deernis en welwillendheid” wat Suid-Afrikaners getoon het nadat ʼn brand in die Noord-Kaap na die Lohatla-weermagbasis versprei en die lewe van ses mense geëis het, is iets waarvoor die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) diep dankbaar is.

Die SANW sê egter hy het nooit vir materiële ondersteuning gevra nie.

“Ondanks die haglike finansiële situasie waarin die SANW hom bevind, wil ons Suid-Afrikaners gerusstel dat ons hard werk om te verseker dat ons uitvoering gee aan ons pligte met betrekking tot logistieke ondersteuning aan ons troepe,” sê Siphiwe Dlamini, woordvoerder van die weermag.

Die noodledigingsorganisasie Gift of the Givers het benodighede soos kos en drinkgoed aan die weermagbasis geskenk nadat sowat 1 300 weermaglede “alles in die brand verloor het”.

Die organisasie het aangevoer dat die SANW ʼn “dringende versoek vir klere, waaronder onderklere, higiënepakkies, tandepasta, tandeborsels, seep, lappe, handdoeke, sanitêre doekies, energiedrankies en komberse” gerig het.

Dlamini sê die weermag wil hierdie bewering regstel.

“Ons het niemand, hetsy individue óf korporatiewe instellings, vir materiële ondersteuning genader nie.”

Dlamini sê die weermag help boonop nie net sy eie lede nie, maar ook die gemeenskappe om die Lohatla-weermagbasis.

“Die SANW sal nie huiwer om sy voorraadstore leeg te maak om verligting aan die omliggende gemeenskappe te bring nie,” sê hy.

“Selfs te midde van hierdie tragiese lewensverlies bly ons grondwetlik verplig om die veiligheid van Suid-Afrikaners te verseker.”

(Foto: Gift of the Givers/Facebook)

Ses lede van die weermag is die afgelope naweek dood nadat ʼn brand deur die Lohatla-weermagbasis gewoed het. Drie soldate het tweedegraadse brandwonde opgedoen en is na hospitale in die omgewing geneem, terwyl verskeie ander ligte beserings opgedoen het in die brand by die weermag se gevegsopleidingsentrum.

Die jongste voorval volg op ʼn ongeluk op 20 September naby Postmasburg in die Noord-Kaap waar vier lede van 8 SA Infanteriebataljon (8 SAI) gesterf het.

Dié tragedie het boonop op dieselfde dag plaasgevind wat drie lede van die vloot naby Kommetjie in die Wes-Kaap dood is toe ʼn golf hulle van ʼn duikboot afgeslaan het.

Die DA het intussen ʼn beroep op Thandi Modise, minister van verdediging, gedoen om ʼn onafhanklike ondersoek na die jongste sterftes van stapel te stuur.

Kobus Marais, die DA se woordvoerder oor verdediging, sê die ondersoek sal “afsluiting gee ná die voorval”, asook “verseker dat die nodige voorkomingsmaatreëls ingestel was”.

“Die DA bedank die weermaglede wat uitsonderlike werk gedoen het om te verseker dat geen verdere lewensverlies of skade aan die fasiliteit en toerusting gerig word nie,” sê hy.

“Ons is ook dankbaar teenoor die landbougemeenskap wat hul eie gereedskap gebruik het om die brand te help blus.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Colin ·

En? Hoeveel dienspligtiges wat vloot toe is het van die binneland af gekom?

Harley Davidson ·

Vissie admiraal Putter van die vloot is gebore en het groot geword in Brits Noord-Transvaal.

Aai ·

ANC dit is ‘n skande dat ons weermag in die toestand is dat Gift of the Givers moet intree.Sterkte aan die wat oorlede is se families.

Sarel ·

Die Weermag se Bransbestryding..waar was hulle.
Gaan die President erkenning gee asn die BOERE wat hulp verleen het….seker nie

CJS ·

Presies! Is Zero Victor nie in kennis gestel nie en die brandweer is op die selfde net!

Pietertjie ·

Die weermag is veronderstel om bystand te lewer, nie om dankbaar te wees vir bystand ontvang nie. Hoe gaan hulle onluste of erger konflik hanteer?

Republikein in die Wes Kaap ·

Hulle kan wel burgerlikes in townships aanrand.

Frank ·

Man, as ek kyk oor onnet en oorgroeid meeste van one basisse en SAP kantore is, is dit nie vir my ‘n verrassing nie. In elke geval seker geen brandpad gewees nie.

Harley Davidson ·

Almal weet die ” weermag” as jy dit ‘n weermag kan noem is bankrot en ‘n welsyns geval so waardeer wat vir julle gegee word.

Pieter9 ·

Swak, swak van ‘n Weermag! Bewys weereens hoe power Weermag paraatheid is-geen leierskap totaal onbevoeg.

Strandloper ·

n Totale weerlose onbevoege instansie wat nie die naam weermag werd is nie. Jammer vir die wat omgekom het in n voorkombare en voorspelbare situasie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.