Weermaghoof se amptelike woning al 28 maande leeg

Mediakonferensie van die regering se interdepartementele groep belas met justisie, misdaadvoorkoming en veiligheid

Thandi Modise, minister van verdediging en militêre veterane. (Foto: GCIS).

Die hoof van die weermag se amptelike woning in Waterkloof, Pretoria, staan al meer as twee jaar lank dolleeg.

Die leë huis op die hoek van Edward- en Rosestraat staan al sedert 30 November 2021 leeg toe die voormalige weermaghoof, genl. Solly Shoke, uitgetrek het.

Intussen word die huis dag en nag deur militêre personeel bewaak en beloop die munisipale rekening elke maand sowat R9 000.

Thandi Modise, minister van verdediging en militêre veterane, het op ’n parlementêre vraag van die VF Plus onthul dat daar maandeliks R8 561,86 aan elektrisiteit, water en sanitasie betaal word en ’n verdere R407,04 aan vullisverwydering.

“Net die dienstegelde vir die afgelope 28 maande, wat water, krag en sanitasie insluit, beloop R251 128,” sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.

Sy party het die som gaan maak.

Luidens Modise se parlementêre antwoord moet daar opknappingswerk aan die eiendom gedoen word en “weens die hoë koste van instandhouding en herstelwerk” daaraan verbonde, sal dit eers in die nuwe finansiële jaar aangepak word.

Groenewald beoog nou om in ʼn opvolgvraag aan die minister te vra wat die omvang van die herstelwerk aan die huis behels, hoe die skade veroorsaak is en wat dit gaan kos om te herstel.

“Indien daar in ag geneem word dat die skade so groot is dat die huis vir 28 maande onbewoonbaar is, moet die vraag gevra word of Shoke die huis dan gevandaliseer het,” sê Groenewald.

Inligting wat die departement van verdediging se interne ouditkomitee vroeër vanjaar aan die parlementêre portefeuljekomitee vir verdediging voorgelê het, wys die omvang van geldvermorsing in die weermag uit.

Maroela Media het net verlede maand berig dat die departement uit sowat R430 miljoen se verkwiste uitgawes in die vorige boekjaar net ʼn skamele R800 kon herwin – ’n herwinningskoers van 0,002%.

Onreëlmatige uitgawes het die betrokke jaar R15,98 miljard beloop. Slegs R76 000 hiervan is verhaal.

Dit terwyl meer as R3 miljoen vir persele betaal is waarvan die huurkontrakte lank reeds verstryk het.

Groenewald sê die onthullende bewerings aangaande die vorige speaker van die Nasionale Vergadering en minister van verdediging, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, wys hoe miljoene rand gevloei het tussen weermagkontrakteurs en persone wat glo omgekoop is.

Tog is daar nie geld vir behoorlike lugsteun aan Suid-Afrika se soldate in die Demokratiese Republiek die Kongo (DRK) nie en het die SANW se basisse landwyd só verval dat dit na raming R8 miljard sal kos om te herstel, voeg Groenewald by.

“Die weermag se deurlopende verskoning vir sy agteruitgang is dat hy te min geld ontvang met sy begroting. Tog is daar verlede jaar R220 miljoen bestee aan ’n weermagviering in Richardsbaai terwyl die lugmag net twee diensbare eerstelinie-vegvliegtuie en een fregat tot sy beskikking gehad het.

“Die logistieke vleuel het met die vieringe nie eens geld gehad vir diesel om die leër se orkes te vervoer nie. Luidens mediaberigte moes orkeslede uit hul eie sakke betaal om van Kaapstad na Richardsbaai te reis.

“Daarbenewens gaan die SANW gebuk onder ’n topstruktuur van sowat 400 generaals wat enorme salarisse verdien. Dit is een generaal vir elke 184 ander persone in die weermag. Daar moet dringend gesnoei word aan dié topbestuur.”

Groenewald vestig ook die aandag daarop dat meer as R30 miljoen tydens die Covid-19-pandemie vermors is op ’n entstof wat nie destyds gebruik kon word nie.

“Dit was nogtans steeds min vergeleke met ongerymdhede rakende Covid-19-verkrygingsprosesse van kwarantyngeriewe en beskermende toerusting waar honderde miljoene rand verkwis en gesteel is.

“Alles in ag genome is die grootste verlies dié van ʼn beskikbare parate, professionele en gedissiplineerde weermag.”

Groenewald sê die weermag het verval soos sy hoof se amptelike woning in Waterkloof.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Johann ·

Ongelooflik! Die gemak waarmee multimiljoene weggee en vermors word sonder enige aanspreeklikheid?

Lettie ·

En waar woon die agbare Modise tans en wie betaal ook daarvoor. Wil maar net weet???

Anel ·

Nou hoe is die water en ligte rekening so hoog as die huis leeg staan? Wie gebruik so baie water en krag in ‘n leë huis?

kragaap ·

Geld vermorsing en korrupsie is die nasionale sport. 400 generale ?………

Patch ·

Die huis staan leeg, hoe is dit moontlik dat die water en krag kostes so hoog is? Dit maak nie sin nie.

Martie ·

Jy kan weer vra waar woon sy, seker in een of ander duur hotel met hele gesin en veiligheidswagte, asof iemand nou eintlik weet hoe sy lyk.

Amelia ·

Stem saam met almal hier bo maar kyk wyer Kan dan nie iets werklik doen as daar bv n burgeroorlog is nie behalwe voetsoldate maar soos dit vir my klink ook nie gewere of enige iets nie so

Cassie Carstens ·

Die huis verwaarloos net verder as dit leegstaan. Dalk bly die sekuriteitsmense daarin. Regering het geen beheer oor sy bates nie.

Peach ·

Indien dit 8 miljard gaan kos om die basisse op standaard te bring, wat anders kan jy verwag? Miskien maak die huidige Hoof vd Weermag ‘n politieke stelling deur simbolies te sê, “kry* my ondergeskiktes se slaap plekke op standaard”.

Peach ·

So terloops, dit het 3milj gekos om die Vise Kansilier vd Universiteit Johannesburg se “amptelike” woning op te knap.

Di ·

Die huis is dalk ook oorgeneem deur onwettige inwoners soos die res van die lee geboue in die land. ALLES is die land val letterlik uitmekaar uit, kan nie wag dat die dag aanbreek wanneer hierdie spul ANC kaders almal die skip verlaat nie.

Martie Smartie ·

ANC. 30 Jaar van totale mislukking, diefstal, korrupsie en verval. En reg vir nog 30 jaar. So die volkie moet maar stil wees en weer vir hulle stem. 1985: Dept v Verdediging. 2024: Dept v Verval & Vermorsing. VIVA ANC VIVA

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.