‘Weg met vetoreg, anders behou Bela sy gif’

(Foto: Pixabay)

Solank die departement van onderwys ’n laaste sê oor skole se taal- en toelatingsbeleid behou, bly die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (Bela) ’n euwel.

Solidariteit steun versoeke van politieke partye om die klousules oor taal en toelating in die wetsontwerp in die geheel te skrap, het Johnell Prinsloo, onderwysnavorser verbonde aan die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), gesê.

Dié versoeke is egter deur die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) se ANC-meerderheid in die gekose komitee afgekeur.

Provinsiale onderwyshoofde behou gevolglik steeds vetoreg oor hierdie beleide, selfs al word skole toegelaat om self daardie beleid op te stel.

Volgens Prinsloo kom hierdie aanpassings dus glad nie neer op tegemoetkoming deur die regering nie.

“Die indruk word hiermee gewek dat skoolbeheerliggame en ouers tóg hul sê oor die belangrike sake van taal en toelating gaan behou. Dit is ongelukkig stééds nie waar nie.

“Solank die laaste ‘ja of nee’ oor skoolbeleid by die onderwysdepartement lê, is die skool se beleid net so kwesbaar vir inmenging soos van die begin af met Bela. Ouers en beheerliggame en die skoolgemeenskap, wat die skool se belange op die hart dra, moet sélf hierdie besluite neem – nié ’n amptenaar met politieke meesters nie,” sê Prinsloo.

Volgens haar neem Solidariteit kennis van die ANC-komiteevoorsitter se opmerking dat die vetoreg nodig is aangesien die “koue, dooie hand van apartheid steeds ’n wurggreep op ons mense het”.

“Die vetoreg in die Bela-wetsontwerp is mos juis die ANC se afgunstige en lang vingers wat die laaste tekens van lewe daarin wil gebruik om vooruitstrewende kinders aan die kraag terug te trek.

“Die regering het skole en leerders in Suid-Afrika versaak, maar sommige gemeenskappe het desondanks sterk bly staan. Vir ons is dit duidelik: hierdie vetoreg bestaan om op dáárdie uitnemende gemeenskappe, en op hulle alleen, toegespits te word,” sê Prinsloo.

AfriForum het die sogenaamde toegewings vroeër as “woordgimnastiek” beskryf.

Alana Bailey, hoof van kultuursake by die burgerregteorganisasie AfriForum, meen daar is niks gerusstellends aan dié wysigings nie en sê die finale skriftelike konsep sal deeglik bestudeer word sodra dit beskikbaar is. Dít sal dan ook die regsroete bepaal wat AfriForum verder sal volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Gert ·

Raka staan nou lustig by ons kinders se skole, reg om ons kuns en kultuur finaal te probeer vernietig.

Jaco ·

Maak alles net engels. Dis darem nie ‘n onverstaanbare of moeilike taal nie. En let wel, dit was dwarsoor die ou British Empire die “taal van onderdrukking”.

Michael ·

Doen aan die onderwys departement wat die mense aan sanral en sy etol gedoen het.

NADINE ·

Ons moet net ons kinders by die huis hou hulle kan sekerlik nie miljoene mense toe sluit nie. Soos wat hulle voorgee as jy jou kind by die huis hou as die bela in plek kom.

Papsak ·

Ek se gee en los die ouers dit is hulle besluit hulle kinders die anc het net nie ore nie los die skole uit hou julle kinders by die huis tot alles nie in plek is nie dankie ek nie meer kids op skool nie hier te veel reels regtig !!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.