Wes-Kaap reg om beurtkrag te pak

Premier Alan Winde. (Foto: Argieffoto)

Die Wes-Kaapse plaaslike regering het reeds ʼn plan opgestel sou beurtkrag op fase 6 voortgaan.

Alan Winde, Wes-Kaapse premier, het Sondag noodgedwonge ʼn provinsiale kabinetsvergadering gehou nadat Eskom aangekondig het dat fase 6-beurtkrag nou geld. Die doel van dié vergadering was om die provinsie se bestaande plan om ernstige beurtkrag te pak aan te pas.

“Die Wes-Kaapse regering is op alle fronte voorberei sou beurtkrag op hierdie vlak voortduur,” het Winde gesê.

“Dit is van uiterste belang dat ons gereed is vir enigiets wat oor ons pad kom om te verseker dat dienslewering kan voortgaan.”

Winde het inwoners van die provinsie verseker dat hy ʼn sterk rampbestuurspan het wat ʼn deeglike gebeurlikheidsplan gereed het sou die situasie vererger.

“Ons het vir verskeie scenario’s beplan en ons verbeter voortdurend daarop.”

Tot die provinsie se gebeurlikheidsplan verfyn word, het die premier ʼn beroep op die provinsie se inwoners gedoen om kragbesparingsmaatreëls te verskerp om druk op die nasionale kragnetwerk te help verminder.

Die premier het inwoners gevra om toestelle by muurproppe ook af te skakel, hul geisers se temperatuur te verlaag en gloeilampe met energiebesparende weergawes te vervang. Winde het mense ook gevra om toestelle soos swembadpompe af te skakel.

“Hoewel die huidige energiekrisis ons almal oor die algemeen onder druk plaas, is ek hoopvol dat ons hierdeur sal kom met dieselfde deursettingsvermoë as wat ons as gesamentlik deur die Covid-19-pandemie gekom het.”

Volgende Winde het hy reeds verskeie spanne opdrag gegee om na mediumtermynoplossings te soek om energiesekerheid verder te versterk.

“Die plaaslike regering doen alles in sy vermoë – van kort- tot medium- en langtermyningryping – om oplossings vir die krisis te vind. Dit sluit in om te kyk na maniere waarop die provinsiale regering ondernemings en burgers in staat kan stel om bykomende krag op te wek,” sê hy.

“Ons sal Eskom help waar ons kan. Nou is die tyd om die kragvoorsiener te ondersteun.”

Winde sê hy is ook in verbinding met André de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom, om op die hoogte van die situasie te bly.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

T-Man ·

Aksie is beter as woorde… soos ek verstaan wil mense om die beurt (politisie, organisasies en selfs jong seuns wat gaan studeer… ens) die krag krisis oplos en die pratery is nou al n paar jaar en niks kom van dit nie so praat al julle wil ek glo julle lankal nie meer nie, inteendeel glo ek my hond se belofte meer om op te hou biltong eet…

Pierre ·

begin deer mense met solar makliker toe te laat om oorskot krag in die netwerk in te sit, julle elle lang vorms, inspeksies en administratiewe fooie maak dit vir jan-alle-man onmoontlik om effektief by te kan dra, sit geld opsy en vervang mense se ou gloeilampe, stel wetgewing in wat nie energie besparende gloeilampe verbiet en gee aansporings aan mense om oor te skakel na Solar

domheks ·

Elkeen moet maar doen wat hy kan. Eskom is besig om ‘n stadige dood te sterf….

Danie ·

Ek stem ons moes al lankal n oplossing gevind het gaan sonkrag en wind krag.Kyk net om ons die bome gaan al dood.

Hayntjie ·

Ek hou van hierdie vars inisiatief en uitgangspunt. Hou op
Skel en om vervolging in te stel. Sit die skouer aan die wiel. Neem van Eskom se verpligtinge oor tot voordeel van die provinsie en die provinsiale ekonomie. Ek ondersteun die DA hierin. Voorspoed aan Eskom. Mag die regering Eskom oorlaat om die regte aksies te neem sonder die regering se versmorende maatreëls vir byvoorbeeld indiensneming en die ondersoek en vervolging van korrupte kriminele en lamsakkige.

Perdeby ·

Soos De Ruyter al voorheen gesê het, honderde van hulle is al baie jare geskors, maar hulle kan hulle nie afbetaal voor ‘n verhoor nie, en dit word nie gedoen nie. So al daardie korruptes se poste is oop, en geen nuwe mense kan aangestel word nie. Hy het al iemand aangestel om hulle te ondersoek ( Blank ), maar die het binne ‘n paar maande bedank, want sy lewe en familie sin is meer belangrik, want daar word in die aand op sy huis geskiet.

Harley Davidson ·

Wanneer stig die weskaap af van piesang Republiek dan kan hulle baie dinge in plek sit.

VaalDonkie ·

Laai maar net elke dag so 5 liter petrol by my huis af. Ek is klaar met Eskom en ek spaar nog vir sonkrag. Intussen gooi ek maar die 2500W generator.

Willempie ·

Moet nie bekommerd wees nie mnr Winde. Rampokker is op pad van oorsee om ESKOM se probleme te kom oplos.

Keelvol ·

Die DA Kan nie eers Ekurhuleni se paaie in stand hou nie.

Wondermaarnet ·

Alle planne geld vir “City of Cape Town” verbruikers. Wat van dié wat Eskom krag koop?

Manie ·

Die DA sluk Winde. Wat het van die reuse oorsese skenking geword waarmee dag zero se ontsoutingsaanleg gebou moes word? By monde van juleself is die fondse gebruik om die verlies aan water inkomste te dek, dus is daar nog geen teken van die ontsoutingsaanleg nie. Waar gaan julle fondse kry om die kragprobleem in Kaapstad te verlig? Sekere gebiede waar regerings wonings is, weet nie van beurtkrag nie, goeie vriende van my het dit beaam, (Goodwood en Pinelands) hulle het nog nooit 1 enkele dag beurtkrag ondervind nie. Verduidelik asb vir my die rede daarvoor.

Ockert ·

Hoekom moet ek help? Ek het betaal vir eletriesiteit en dan word ek gepenaliseer daarop, omdat piesangs nie hul werk doen. Hoe kan 2 kragstasies(Kusile en Kriel) op een dag se generators net oppak? Dis verdomde sabotasie en daai de Ruyter vent ontvang salaris van 7 miljoen per jaar. Wat doen daai blikskottel om dit te verdien? Eintlik die hele top bestuur van Eksdom!!!!

Duck ·

Ja ou Winde, en so glo ons almal aan die “easter bunny, tooth fairy en vader Krismis” ook nè.

Jakkie ·

Ek wil net ‘n vraag vra, as jy jou geisers se temp af stel, gaan jy meer warm water en minder koue water gebruik om te bad. As jou geiser hoer gestel is gebruik jy dan minder warm water en meer koue water of dra my stelling nie water nie. Ek vra maar net.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.