Wes-Kaap verklaar interregeringsdispuut oor salarisse

Alan Winde (Janice du Plessis/Maroela Media)

Die Wes-Kaapse regering het Dinsdag ’n formele interregeringsdispuut verklaar nadat die nasionale regering hom met ’n massiewe begrotingstekort van meer as ’n miljard rand gelaat het.

Die Kapenaars hoop nou dat ander provinsies sy voorbeeld gaan volg.

“Ons boodskap aan die nasionale regering is duidelik: Gee ons ons R1,1 miljard of ons sien julle in die hof,” het die Wes-Kaapse premier Alan Winde vanoggend tydens die tertafellegging van die provinsiale regering se mediumtermyn-begrotingsbeleidstelling (MTBPS) gesê.

“Ons het vir baie jare in hierdie provinsie gewys dat ons verantwoordelik is. Ons het verreweg die laagste koste van indiensneming‑tot‑dienslewering-verhouding in die land. Ons het jare lank seker gemaak dat ons geld verstandig bestee en nie ons begroting vir bedryfsuitgawes oorskry nie.

“Al wat ons regtig wil hê, is billike begrotingstoekenning,” sê Winde.

“Hierdie provinsie groei eksponensieel. Burgers trek van oor die land hierheen weens diensleweringmislukking in ander provinsies. En die geld volg nie die burgers nie.”

Die verklaring van ’n interregeringsgeskil volg nadat die tesourie onlangs die wysigingswetsontwerp op verdeling van inkomste bekend gemaak het, wat beteken dat die Wes-Kaap se begroting veel verder tekort skiet as vorige jare.

Maroela Media het vroeër berig daar is sentraal met die tesourie ooreengekom dat loonverhogings toegestaan word, wat beteken dat die salarisse wat die Wes-Kaap moet opdok, nou op R2,9 miljard te staan kom.

Die nasionale tesourie het egter net R1,7 miljard hiervan toegestaan, wat beteken die Wes-Kaap sal R1,2 miljard moet vind om die tekort aan te vul.

Die DA is gekant teen die miljard rand se besnoeiings wat die nasionale tesourie aan die Wes-Kaap se begroting wil aanbring en meen die provinsiale regering sal slegs staatsamptenare se salarisse kan bekostig as hy dalk limonadestalletjies langs die pad begin oprig in ʼn poging om die tekorte aan te vul.

Winde sê die begrotingstekort gaan al sy afdelings raak, waaronder gesondheid, onderwys en maatskaplike ontwikkeling.

Mireille Wenger, LUR vir finansies en ekonomiese geleenthede in die Wes-Kaap, sê provinsiale regering is “mens-intensief”.

“Ons maak staat op ons onderwysers, verpleegsters en maatskaplike werkers om basiese dienste aan miljoene mense te verskaf. Enige verskuiwing in befondsing sal ʼn vernietigende uitwerking hê op dienslewering, ekonomiese groei en werkskepping.”

Die Kapenaars sê hulle het sedert 2018 alles moontlik gedoen om ʼn dispuut te vermy.

“Ons het nou die moeilike maar noodsaaklike stap gedoen om ʼn interregeringsgeskil te verklaar. Ons boodskap is duidelik: Befonds die loonaanspreeklikheid of ons sal dit na die howe neem,” sê Wenger.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Winde, vir hoe lank nog wil jy ‘n slaaf bly? Breek weg!

koos10 ·

Welkom in SA. Die regering skryf voor met wette, maar Jan Alleman moet die kostes dra. Skoolgeld is ‘n mooi voorbeeld. Net sowat 40% ouers betaal getrou. 30% kry wetlik vryskelding, maar die regering gee net sowat 5% van die vrystelde gelde. Die ander 95% moet deur die 40% betalers gedra word.

Rob ·

Mnr Winde: “As jy nie die beleid beheer nie, kan jy nie die uitkoms beheer nie.” Waar het ons dit onlangs gehoor? O ja, by die Referendum Party se stigtingstoespraak.

Piet 6 ·

Rob en Republikein, die spul klein partytjies wil graag hê dat die DA die Wes Kaap moet verloor.

Elke outjie dink deesdae dat as hy ń idee in die kop het, almal soos hy moet dink en dat hy sal wen en die regering oorneem. Surprise surprise.

Bolandse Nooi ·

Kan julle dit nie insien nie? Die Noordelike provinsies loop leeg omdat die meeste mense nou Wes-Kaap toe stroom (diegene wat dit kan bekostig en ook diegene wat dit níé kan bekostig nie), m.a.w. – dáár (duskant die Oranje- en Vaalriviere) is daar minder mense, meer geld (wat in die sakkies gesteek kan word). Die Wes-Kaap se bevolkingsgetal bars uit sy nate a.g.v. die mense wat net kinders kry en die instromelinge. Minder geld, meer mense = anargie soos in die res van die land.

Johann ·

Bloot die ANC wat wil verseker dat die Wes Kaap sy zir sien sodat hulle kan “ingryp”. Mens noem dit ekonomiese sabotasie.

annie ·

Die regering suig nou ook aan die Kaapse speen. Die provinsie sal nooit onafhanklikheid kry nie. Dit is dan die waardevolste van almal.

Martie ·

Die DA moet ‘n slag standpunt inneem oor die duisende wat hier kom nesskop en “demand” vir huise en dienste, hulle het dit waar hulle vandaan kom. Dan moet daar ook opgehou word met die aanhoudende opleiding van alle soorte Metro, Law Enforcement en wat nog polisiebeamptes wat deur ons as belastingbetalers gefinansier moet word. Miljoene is armes hier en kry alles verniet en ons ander moet maar opdok. En moenie die munisipaliteite se amptenare vergeet nie, hulle kry elke jaar verhoging plus bonus en hulle kry GOEIE salarisse. Besnoei daar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.