Lester Moody, wat erken het dat hy twee tienermeisies tydens ‘n beweerde sataniese ritueel aan die brand gesteek het, het glo geen aspirasies gehad om ‘n einde aan die wêreld te bring nie.
“Die dier sou ‘n einde aan die wêreld bring… Ek is nie die dier nie, ek het gedink ek is een van die horings,” het Moody Dinsdag onder kruisverhoor aan die hooggeregshofsitting in die Palm Ridge-landdroshof Dinsdag gesê.
Moody getuig tans teen Harvey Isha, Robin Harwood, Lindon Wagner en Courtney Daniels wat daarvan beskuldig word dat hulle Theologo en haar vriendin op 21 Oktober op ‘n koppie in die suide van Johannesburg aan die brand gesteek het nadat hulle petrol oor hulle uitgegooi het. Die vier beskuldigdes het onskuldig gepleit op aanklag van moord, poging tot moord, en aanranding met die doel om ernstige liggaamlike skade aan te rig.
Moody en Jeremy King het ‘n pleitooreenkoms met die staat aangegaan in ‘n poging om ‘n korter vonnis opgelê te word indien hulle teen die beskuldigdes sou getuig. Hulle is elk tot 17 jaar tronkstraf, waarvan vyf jaar opgeskort is, gevonnis.
Theologo, wat ten tye van die voorval 18 jaar oud was, het later in die hospitaal aan haar beserings beswyk. Haar 14-jarige vriendin het die voorval oorleef.
Lydia van Niekerk, vir Wagner, het Moody gevra of hy onthou dat hy ‘n grap gemaak het om mense te beheer deur simkaarte in hul lywe in te plant. Sy sê Wagner sal aan die hof getuig dat Moody gereeld oor satanisme en die “verkoop van mens se siel” gepraat het, en gesê het dat hy die dier is waarvan daar in Openbaring 17 gepraat word.
Moody sê buiten dat hy na ondergrondse kletsrymmusiek luister en riller-rolprente kyk, weet hy niks van die okkulte af nie. Hy het getuig dat die ritueel aanvanklik op ‘n teksvers uit die Bybel gebaseer is wat na die “groot prostituut” verwys. Hy was eers verwar deur die vers, maar toe Theologo gedeeltes daarvan opgesê het, het hy gedink sy is die prostituut wat geoffer moet word. Hy het ook gedink dat sy dalk, onwetend, deur die teks inspireer is om die prostituut te wees. ‘n Speletjie het later bevestig sy is die prostituut.
Moody sê Theologo se moord was ‘n ernstige saak vir hom toe sy vir hom en die beskuldigdes gesê het dat hulle haar kaal moet uittrek, haar vlees moet eet en haar bloed moet drink.
Die teks lui soos volg: “En die tien horings wat jy op die dier gesien het, hulle sal die hoer haat en haar verlate maak en naak, en haar vlees eet en haar met vuur verbrand. Want God het dit in hulle harte gegee om sy bedoeling uit te voer en een bedoeling uit te voer, en hulle heerskappy aan die dier te gee totdat die woorde van God volbring is.”
Moody sê hy was een van die 10 horings, maar het nie gedink dat God of die geeste hom spesiaal bevind het om die vers aan hom te openbaar nie. Hy het aan die hof gesê dat Wagner ook Theologo se moord ernstig opgeneem het. Toe Van Niekerk vir hom vra hoe hy dit weet, het hy gesê Wagner se dade het bewys dat hy geglo het in die uitvoering van die ritueel. “Deur die meisies aan te rand en hulle aan die brand te steek het hy bewys dat hy in die ritueel glo,” het Moody gesê. “Maar dit was asof iets hom beheer.”
Van Niekerk het hom versoek om hierop uit te brei.
Moody sê hy kon nie Wagner se toestand presies beskryf nie, maar dat dit was asof ‘n gees hom beheer. Van Niekerk sê Wagner sal getuig dat hy nie in beheer was van sy eie dade nie. Hy erken glo dat hy die meisies gewurg en aan die brand gesteek het, maar hou vol dat hy nie in daardie stadium in beheer was van sy eie wil nie.
Moody het Dinsdag bygevoeg die ritueel is “swak beplan”. Hy sê die groep het nie vooraf in besonderhede bespreek wat elke individu tydens die ritueel sou doen nie. Om Kirsty Theologo, die beplande moordslagoffer, by die vergadering te hê, was nóg ‘n fout, het Moody gesê.
Moody het gesê Wagner het die dag voor die ritueel ‘n vergadering belê. Op die vraag wie Theologo aan die brand sou steek en hoe dit gedoen sou word, het Moody gesê dit is nooit bespreek nie. Om die meisies te wurg voordat hulle aan die brand gesteek is, was glo ook nie deel van die plan nie.
Moody het verlede week getuig dat die groep ooreengekom het wie wat sou bring om die ritueel uit te voer. Hy sê hy moes remvloeistof bring. Hy het later aan die hof gesê hy en die beskuldigdes is aangesê om saam te bring wat hulle kon.
Die verhoor is tot Donderdag uitgestel wanneer King vermoedelik sal getuig.
Regter Geraldine Borchers het versoek dat King en Moody tydens die verhoor in aparte selle geplaas sal word. Die regspanne het beswaar aangeteken dat die twee moontlik die hofverrigtinge kon bespreek.
Lees ook:
‘Sataniese ritueel’: Meisie wis glo niks van moordplanne
Sataniese ritueel: Getuienis bevraagteken
‘Sataniese ritueel’: Slagoffer is “braaivleis” genoem
‘Sataniese ritueel’: Kirsty was glo “prostituut” van die Bybel
‘Sataniese ritueel’: Bloed op ‘n brandende Bybel gestort
Sataniese ritueel: Skokkende onthullings
Sataniese ritueel: Slagoffer wou letsels in hof wys
Sataniese ritueel: Kirsty wou glo geoffer word
‘Sataniese ritueel’: Ma’s, slagoffer se broer getuig
‘Sataniese ritueel’: Slagoffer se ma getuig
‘Sataniese ritueel’: Moordsaak hervat
Borgaansoek vir twee verdagtes in sataniese ritueelsaak
Meisie (18) aan die brand gesteek tydens ‘sataniese ritueel’
Freaky sh!t die !