Aktrise sê rocker verkrag haar op stel van musiekvideo

Evan Rachel Wood en Marilyn Manson in 2007. (Foto: Scott Wintrow/Getty Images North America/AFP)

Die Amerikaanse aktrise Evan Rachel Wood het die rocker Marilyn Manson daarvan beskuldig dat hy haar op kamera verkrag het tydens die verfilming van sy musiekvideo vir die 2007-treffer “Heart-shaped Glasses”.

Wood (34) het dié bewerings – wat deur Manson (53) ontken word – gemaak in Phoenix Rising, ʼn HBO-dokumentêr wat Sondag op die Sundance-rolprentfees gedebuteer het.

“Ons het daaroor gepraat om ʼn sekstoneel na te maak, maar toe die kameras begin rol, het hy my begin penetreer,” het Wood gesê.

“Ek het nooit daartoe ingestem nie.”

Wood het in 2006 met Manson, wie se regte naam Brian Warner is, begin uitgaan toe sy 18 jaar oud was en hy 37 was.

Manson het gesê “Heart-shaped Glasses” is geïnspireer nadat hy vir Wood gesien het met ʼn hartvormige sonbril soos op die plakkaat vir die Stanley Kubrick se 1962-fliek Lolita.

“Ek het nie geweet hoe om vir myself voorspraak te maak of hoe om nee te sê nie, want ek is gekondisioneer en opgelei om nooit teë te praat nie, om net voort te gaan,” het Wood, ster van die reeks Westworld, gesê.

“Ek kon agterkom die kameraspan was baie ongemaklik en niemand het geweet wat om te doen nie. Ek was gedwing om ʼn kommersiële seksdaad onder valse voorwendsels uit te voer … ek is in wese op kamera verkrag.”

Volgens die dokumentêr het Manson later vir Wood onder druk geplaas om aan joernaliste te sê dat hulle nie werklik seks gehad het tydens die verfilming van die video nie.

Marilyn Manson in 2020 op die Vanity Fair Oscar-partytjie in Beverly Hills. (Foto: Frazer Harrison/Getty Images/AFP)

Wood se ma onthou hoe sy deur ʼn spanlid gehoor het hoe Manson vir Wood absint en “wat ook al anders” gegee het en dat sy nie in staat was om toestemming te gee toe hy van koers af gegaan het nie.

Howard King, Manson se prokureur, het die bewerings in ʼn verklaring aan AFP ontken.

“Van al die valse bewerings wat Evan Rachel Wood al oor Brian Warner gemaak het, is haar vertelling van die vervaardiging van die musiekvideo van ‘Heart-shaped Glasses’ 15 jaar gelede die mees skaamteloos en maklikste om te weerlê, want daar was talle ooggetuies,” het hy geskryf.

King het gesê Wood was “ten volle saamhorig” gedurende die drie dae lange verfilming van die video en “uiters betrokke by weke se beplanning van die voorproduksie asook die redigering en na-produksie van die finale produk”.

“Die nagemaakte sekstoneel het ure geneem om te skiet deur verskillende hoeke te gebruik en daar was talle lang breuke terwyl die kamera opgestel is. Brian het nie met Evan seks gehad op daardie stel nie. Dit is die waarheid en sy weet dit.”

Phoenix Rising

Evan Rachel Wood in 2020. (Foto: Chris Delmas/AFP)

Manson is deur verskeie vroue van seksuele aanranding beskuldig, onder andere ook die Game of Thrones-aktrise Esme Bianco.

Die Los Angeles‑polisie het verlede jaar bevestig hulle ondersoek ook ʼn klag van huishoudelike geweld teen die sanger.

Manson, wat lank reeds ʼn omstrede beeld kweek met sy spookagtige grimering en verhoognaam wat die reeksmoordenaar Charles Manson oproep, se paaie het geskei met sy platemaatskappy, Loma Vista Recordings asook sy Hollywood-agentskap CAA, sedert dié bewerings aan die lig gekom het.

Hy het egter aanhou musiek maak en verskyn onder meer op Kanye West se album, Donda, wat verlede jaar uitgereik is.

Phoenix Rising dokumenteer pogings deur Wood en ander seksuele aanrandingslagoffers om die wet van verjaring vir seksmisdade te verleng, wat vroue meer tyd gee om geregtigheid te laat geskied vir mishandeling.

Die Sundance-rolprentfees, wat vanjaar aanlyn plaasvind weens die Covid-19-pandemie, vind tot 30 Januarie plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Tanniepetoors ·

Marilyn Manson is en bly maar vir my ‘n bietjie van ‘n grillerige karakter. Gladnie verbaas oor hierdie aantygings nie.

Shakespeare ·

Charles Manson in lewende lywe. Grieselrige dit, want ek kannie uitmaak of hy ‘n hy of ‘n sy is nie.

Noël ·

So, as ek reg verstaan – die twee was ‘n paartjie tot 2007. Hulle was aan-en-af intussen. Die video is gemaak in 2009. Nadat hy haar (op film) verkrag het, het sy nietewel ingestem om ja te sé en verloof te raak minder as ‘n jaar later. Ooookaaaay. Grillerig of nie – mens is innocent until proven guilty.

MJ ·

Ek stem, sy het seker geld nodig en toe ander vroue hom aankla toe spring sy ook op die wa….

Noël ·

Jip – dit laat mens ten minste wonder – en nie so vinnig judge soos die kerk-Tannies en Ooms hierbo nie.

Johann ·

So JARE na die voorval…via n DOKUMENTER (MEDIA SENSASIE) wil jy n boosheid blootstel? Bitter jammer vir enige mens wat deur so iets moet worstel. En saam met dit…wat het geword van assosieer jou met die varke? 18 en 37? Maak n “kamma” video wetend wat die omvang en boodskap van so iets saam met die boosheid is? Verstaan die media toe hardloop net glad nie?

Windhond ·

As sy nie tot daai vlak gedaal het nie . -sou dit nie met haar gebeur het nie. -dit gese, maak nie wat hy gedoen het minder veragtelik nie

Ruby ·

Ek het na die video gaan kyk…wat ‘n vieslike demoniese video!

Kirst ·

Sover ek weet is akteurs nooit heeltemal nakend wanneer ‘n sekstoneel nageboots word nie. Die liggaamsdele tussen die bene word bedek en vasgeplak. As sy ingestem het om dit sonder die maatreels te doen en nie dadelik halt geroep het toe sy voel hy trap oor die tou nie, weet ek darem nie of sy dit verkragting kan noem nie. En sy het die vorige jaar met hom begin uitgaan, ek laat my nie vertel daardie vuil uil was in ‘n platoniese verhouding met haar tot en met die video nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.