Australiese Ope wink vir ‘No vac’ Djokovic

Serwië se Novak Djokovic (Foto: Oli Scarff/AFP)

Novak Djokovic sal waarskynlik in Januarie aan die Australiese Ope kan deelneem ten spyte daarvan dat hy steeds nie teen Covid-19 ingeënt is nie.

Die Serwiese tennisster is kort voor vanjaar se Australiese Ope uit Australië gedeporteer nadat die regering sy visum gekanselleer het. Hy is ook vir drie jaar verban om vir ’n nuwe Australiese visum aansoek te doen.

’n Nuwe Australiese regering het egter sedertdien aan bewind gekom. Dit sluit in ’n nuwe Australiese eerste minister – Anthony Albanese, wat self ’n kranige tennisspeler is – terwyl oningeënte reisigers sedert Julie toegelaat word om die land binne te gaan.

Die omstrede oningeënte Amerikaanse swemmer Michael Andrew is boonop in Augustus ná Djokovic se deportering toegelaat om na Australië te reis om aan die Duel in the Pool-swembyeenkoms Doer Onder deel te neem.

Australiese media berig nou Djokovic sal waarskynlik toegelaat word om oor vier maande aan die Australiese Ope deel te neem, sou hy besluit om teen die verbod rakende sy visum appèl aan te teken.

Australië se Herald Sun berig Djokovic het tot op hede geen appèldokumente ingedien nie, maar senior regeringsbronne het bevestig die besluit is so te sê geneem om die verbod om te keer.

Tennis Australië blyk ook vol vertroue te wees dat die verbod betyds opgehef sal word.

Die voormalige Australiese premier Scott Morrison het in Januarie vanjaar gesê Djokovic kan onder die “regte omstandighede” die land moontlik vroeër binnegaan.

“[Die verbod] strek wel oor ’n tydperk van drie jaar, maar daar is die geleentheid vir hom om onder die regte omstandighede terug te keer en dit sal op die gepaste tydstip oorweeg word,” het hy toe in ’n onderhoud met die Australiese radiostasie 2GB gesê.

Djokovic het vanjaar twee Grand Slams misgeloop weens sy weiering om die Covid-19-entstof te ontvang. Die tennisster kon boonop geen ranglyspunte verdien toe hy Wimbledon wen nie nadat die ATP- en WTA-beheerliggame besluit het om dié ikoniese grasbaan-toernooi van sy status te ontneem.

Die wêreld se eens voorste manstennisspeler is nou sewende op die ranglys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Anna-marie ·

My respek vir No Vac Djokovic bly net styg. Hy is nou my gunsteling tennisspeler.

Lourens ·

Hopelik weier hy om in te skryf – selfs al nooi hulle hom uit – en verklaar in die openbaar dat hulle vorige behandeling asook hulle (voormalige) aandrang op die inspuiting sy besluit gerig het.

Christine ·

Nee jinne, ek mis hom en kan nie wag om hom te sien speel nie!

George ·

As hy weier, gaan dit niks doen aan die ope nie, soos ons nou al gesien het.

Christine ·

Wonderlik! Kan nie wag nie, het hom so gemis by die Amerikaanse Ope! Ek glo nie hy gaan hierdie nuwelinge klop nie, maar ek skree al die pad vir hom! Novak, Novak, Novak!!!!

George ·

LOLS, kan vir jou wel se, die Ausies gaan nou 1000de aansoeke kry om hul 3 jaar ban ook te lig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.