Boris Johnson bedank dalk binnekort

Boris Johnson. (Foto: AP/Matt Rourke)

Bewerings doen die ronde dat die Verenigde Koninkryk se eerste minister Boris Johnson Donderdag sy bedanking as leier van die Konserwatiewe Party (Tories) sal indien. Dit kom nadat tientalle van sy ministers vandeesweek reeds hul bedankings ingedien en hom aangemoedig het om dieselfde te doen.

Indien Johnson wel uit sy amp tree, sal dit die weg baan vir ʼn nuwe Tory-lid om hom as die Britse eerste minister te vervang.

Chris Mason, politieke redakteur van die BBC, het gesê indien Johnson bedank, sal hy tot en met herfs nog as premier dien voordat ʼn nuwe Tory-leier hom in Oktober sal vervang.

ʼn Woordvoerder van Downingstraat het gesê die premier “sal die land vandag toespreek”.

Meer as 50 van Johnson se amptenare het onlangs uit sy regering bedank. Die bedanking van Rishi Sunak, finansiële hoof, en Sajid Javid, minister van gesondheid, Dinsdag het ʼn reeks ander bedankings tot gevolg gehad.

Hulle het bedank nadat Johnson om verskoning gevra het dat hy Chris Pincher, adjunkhoofsweep van die Tories, aangestel het. Pincher was eindelik gedwing om uit te tree ná beskuldigings dat hy twee mans betas het terwyl hy besope was.

Ná nog bedankings het Johnson Woensdagaand teruggeskop teen oproepe van sy lojaliste en kabinetskollegas om uit te tree, deur ʼn minister en voormalige bondgenoot Michael Gove af te dank. Die gemeenskapsekretaris was glo die eerste om vir hom te sê dat hy vir die beswil van die Tories sowel as die land moet bedank.

Brandon Lewis, minister van Noord-Ierland, het Donderdag se waansinnige gebeure afgeskop deur die vierde kabinetsminister te word om te bedank. In sy verduideliking het hy geskryf dat Johnson “verby die punt van geen terugkeer” is.

Michelle Donelan, minister van onderwys, se bedanking Donderdag, net dae nadat sy in haar amp aangestel is, en Nadhim Zahawi, minister van finansies, se pleidooi dat Johnson bedank, het oënskynlik die weegskaal ten gunste van Johnson se bedanking laat kantel.

Johnson het ʼn maande gelede net-net die mosie van wantroue wat sy party teen hom ingestel het, oorleef.

Hy het Woensdag in die parlement onderneem om as premier voort te gaan en daarop aangedring dat die land nou ʼn “stabiele regering” nodig het.

Krete van “totsiens Boris” het glo aan die einde van die sitting in die parlement weergalm.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

De Villiers ·

Dankie tog, die sirkus is amper verby noudat die hoof nar bedank!

JohanR ·

Ja sy tyd het rerig gekom. Die laaste paar maande het hy net van krisis tot krisis geval.

Etienne ·

Eers Trump en nou Boris… wie gaan ons nou vermaak op TV? Die ANC Govt laat jou huil…

hpven ·

Hoop Cyril en sy kaders volg die voorbeeld… Red Suid Afrika as daar nog iets te redde is!

JohanR ·

Wonder of ministers in SA sou bedank sodat die president moet loop? En daar skrik ek wakker uit ‘n nagmerrie!

Linda ·

Nee wat, die hele kabinet kan opstaan en uitstap, daar is duisende wat net sal instap en n stoel vat. Hulle speel mos musical chairs in ons parlement. Skoffel skoffel tot die musiek ophou en elkeen gryp ‘n stoel.

Johann101 ·

Een nar gaan net deur ‘n ander nar vervang word… en erger wees as die vorige een…
Net soos in suid afrika, wie gaan die hoof nar vervang?…

Linda ·

Ek glo nie. Daar het die inwoners van die land darem nog ook ‘n sê. Nie soos hier by ons waar die hele orkes en almal wat musical chairs speel ( ANC)die alleen sê het nie.

Aai ·

Gee vir hom ‘n kam om te se dankie vir al die jare se werk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.