Brittanje wil Wagner tot terreurgroep laat verklaar

Kentekens met die Wagner-kopbeen in Sint Petersburg. (Foto: AFP)

Brittanje beoog om die Wagner-huursoldaatgroep tot terreurgroep te laat verklaar, ʼn stap wat enige betrokkenheid by dié groep onwettig sal maak.

“Gegewe die bedrywighede waarby hulle betrokke is, is dit belangrik dat wat die Verenigde Koninkryk betref, dit onwettig sal wees om deel van die groep te wees,” sê Grant Shapps, Britse minister van verdediging.

Shapps se kommentaar oor die groep kom ure nadat Britse media berig het dat Suella Braverman, dié land se minister van binnelandse sake, beplan om die Wagner-groep ingevolge Britse teen-terreurwetgewing tot verbode organisasie te laat verklaar.

ʼn Soortgelyke verbod geld reeds teen terreurgroepe soos die Islamitiese Staat en Al-Kaïda.

“Wagner is ʼn gewelddadige en vernietigende organisasie wat as ʼn militêre instrument vir Wladimir Poetin oorsee opgetree het,” het die Daily Mail vir Braverman aangehaal.

“Terwyl Poetin se regime besluit wat om te doen met die monster wat hy geskep het, gaan Wagner se destabiliserende bedrywighede net voort om die Kremlin se politieke agenda te dien.”

Kragtens Brittanje se terreurwet het die minister van binnelandse sake die mag om ʼn verbod op ʼn organisasie te plaas as daar vermoed word dat hy by terreur betrokke is.

Hierdie verbod maak dit boonop ʼn misdaad om aan die groep te behoort of dit te ondersteun.

“Hulle is terroriste, eenvoudig soos dit … en hierdie verbod maak dit duidelik ingevolge Britse wetgewing,” het Braverman aan BBC gesê.

“Wagner was betrokke by plundering, marteling en barbaarse moorde,” het sy in Daily Mail bygevoeg.

Die groep se bedrywighede in Oekraïne, die Midde-Ooste en Afrika “is ʼn bedreiging vir internasionale veiligheid,” het Braverman gesê.

“Dit is hoekom ons hierdie terreurorganisasie wil verbied en voortgaan om Oekraïne te help waar ons ook al kan in sy stryd teen Rusland.”

Konsepmaatreëls om die Wagner-groep ingevolge die tersaaklike wetgewing te verbied, sal na verwagting Woensdag in die Britse parlement voorgelê word.

Shapps sê die maatreëls sal mense in die VK verbied om “aktief betrokke” te wees by die groep, of sy logo te vertoon.

In Julie het Brittanje sanksies aangekondig teen 13 individue en ondernemings wat volgens die land bande met die Russiese groep in Afrika het, en Wagner beskuldig van misdade daar, waaronder marteling en moord.

Die mense en ondernemings wat geïdentifiseer is, was na bewering ook by Wagner se aktiwiteite in Mali, die Sentraal-Afrikaanse Republiek (SAR) en Soedan betrokke.

Dié mense en ondernemings mag nie meer met Britse maatskappye en banke sake doen nie en al hul Britse bates is bevries.

Daar was reeds sanksies teen die leier van die Wagner-groep, Yevgeny Prigozhin, wat verlede maand in ʼn vliegongeluk dood is. Sanksies is ook teen verskeie van Prigozhin se bevelvoerders, wat aan die oorlog tussen Rusland en Oekraïne deelgeneem het, ingestel.

Prigozhin, ʼn voormalige Kremlin-vertroueling wat “verraaier” geword het, is dood twee maande nadat hy sy troepe beveel het om Rusland se militêre leierskap omver te werp.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

annie ·

Ja, dis ‘n goeie plan. Met WW3 om die draai en die Weste wat weer sal uitkop, is dit nodig. Brittanje wil net wapens skenk en saans op tv die verloop volg.

Johann ·

Ok,so kyk net effe Suid in Afrika af. Daars ‘n landjie met ‘n bewese anargis organisasie aan bewind wat loshande ook voldoen aan die definisie van terroriste.

Marthinus W ·

En Baker Hughes [my neef het vir hulle gewerk], en Forward Observations Group [tans in Oekraine bedrywig] en die omtrent 20 ander.

hpven ·

Baie oud Suid Afrikaanse soldate werk vir Blackwater. Dit is ook nie meer hul naam, dit het al twee keer verander, eers na Xe en tans Academy

hpven ·

Jammer, regstelling. Hul naam het drie keer verander, tans Constellis Holdings…

Maria ·

Die engelse is die skelmste van almal saam met die VSA. Beide het geen moraliiteit meer nie

Nommer 7 ·

Ten minste het die VK en VSA se weermagte nog nie een van hule eie manskappe met ‘n voorhamer doodgeslaan nie, soos Wagner al gedoen het nie!

andre ·

n Bietjie joernalistieke ondersoek na die herkoms van die pas aangestelde Schnapps sal interresant wees !

Marius ·

Engeland wil die opisie uithaal voordat hy teen hulle te staan gaan kom. Wagner speel nie. Die Weste wil alles tot niet verklaar sodat hy beheer oor mense kan kry. Selfde met covid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.