Deurbraak in vuurwapenbeheer in Amerika

(Argieffoto: Unsplash)

Lede van die Amerikaanse senaat het Donderdag ʼn tweeparty-wetsontwerp voorgelê wat die epidemie van wapengeweld in die land sal help takel.

Dié voorgestelde wetsontwerp sal vir nuwe vuurwapenbeperkings sorg en miljarde dollar vir geestesgesondheidsbehandeling en verbeterde skoolveiligheid beskikbaar stel.

Die huis van verteenwoordigers sal Vrydag oor hierdie voorgestelde wetsontwerp besluit, maar talle Amerikaners het dit reeds as ʼn lewensreddende deurbraak beskryf.

“Hierdie tweeparty-wetsontwerp sal help om alle Amerikaners te beskerm,” het pres. Joe Biden kort ná die suksesvolle senaatstem gesê. “Dit sal sorg dat kinders in skole en gemeenskappe landwyd veiliger sal wees.”

Die Wet op Veiliger Gemeenskappe, wat deur 50 Demokrate in die senaat en 15 Republikeine gesteun is, sal vereis dat beter agtergrondondersoeke vir vuurwapenkopers onder die ouderdom van 21 jaar gedoen word. Hiermee saam sal altesaam $11 miljard (R174 miljard) begroot word vir geestesgesondheidsbehandeling. ʼn Verdere $2 miljard (R31 miljard) sal aan skoolveiligheidsprogramme bestee word.

Hierdie wetsontwerp sal na verwaging ook die nodige fondse beskikbaar maak om state aan te moedig om ʼn sogenaamde rooivlag-wet in te stel om mense se vuurwapens van hul af weg te neem as hulle as ʼn bedreiging beskou word.

Laastens sal die wetsontwerp diegene wat huishoudelike geweld pleeg, verbied om wapens te koop, al is hulle nie getroud of woon hulle nie saam met hul slagoffer nie.

“Die Amerikaanse senaat doen nou iets wat baie geglo het onmoontlik was, selfs ʼn paar weke gelede: Ons aanvaar die eerste beduidende wetsontwerp op vuurwapenveiligheid in byna 30 jaar,” het Chuck Schumer, lid van die senaat, gesê nadat die wetgewing geslaag het.

“Die voorgestelde wetsontwerp op vuurwapenveiligheid kan beskryf word deur drie byvoeglike naamwoorde: tweeledig, gesonde verstand en lewensreddend.”

Schumer se Republikeinse eweknie, Mitch McConnell, het gesê die wetsontwerp sal Amerika veiliger maak “sonder om ons land se vryheid in te perk”.

“Hierdie wetsontwerp is gesonde verstand in ʼn pakket. Dit bevat geen nuwe beperkings, geen nuwe wagperiodes, geen mandate en geen verbod van enige aard vir wetsgehoorsame vuurwapeneienaars nie.”

Die National Rifle Association en baie ander Republikeine in albei kamers van die kongres het wel die wetsontwerp teengestaan, maar terselfdertyd het talle voorspraakgroepe wat in polisiëring, gesinsgeweld en geestesgesondheid werk, dit ondersteun.

Die senaat en die huis van verteenwoordigers sal vanaf volgende week op ʼn twee-week-reses wees, maar die Demokraties-beheerde huis van verteenwoordigers sal na verwagting die senaat se wetsontwerp teen Vrydagaand goedkeur, voordat politici die dorp verlaat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Harley Davidson ·

Dit klink reg ek wens die piesang Republiek wil ook strenger optree die mense
met onwettige vuurwapen en die wettige vuurwapen eienaars met rus laat.

Hendrik ·

Hierdie is n stap in die regte rigting, maar dis vêr van genoeg af. Die feit dat elke VSA staat sy eie wette maak maar dat daar geen grensbeheer tussen state is nie, maak eintlik van die meeste vuurwapenwette in die VSA n bespotting en moeilik afdwingbaar. Nasionale wetgewing oor veilige bewaring van vuurwapens, bevoedheid toetsing en “background checking” is dringend nodig. Die meeste Republikeinse senatore is ongelukkig in die sak van die NRA wat beteken dat min nasionale wetgewing ooit slaag. Dis n wonder dat hierdie minimale veranderings wel deur die senaat goedgekeur is.

Johanna ·

Liewe aarde….. alle voornemende vuurwapen kopers moet strenger gekeur word en bedlis geen verkope aan onder 21 jaar oud nie. Dan moet daar eerder gekyk word na die hoë egskeiding syfer en Geestes gesondheids ondersteuning moet gegee word aan kinders en enkel ouers na n egdkeiding. Verrwerpte kinders word rondlopende tydbomme in hulle tiener jare. Ek kan nie glo dat n president en kabinets ministers nie die intelegensie het om hierdie feite bymekaar te bring nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.