Dít tref vermiste duikboot dalk

Die Titanic-wrak onder die Noord-Atlantiese Oseaan. (Argieffoto)

Reddingspanne fynkam die Noord-Atlantiese Oseaan op soek na ʼn duikboot wat veronderstel was om die wrak van die Titanic te besoek.

Daar is altesame 96 uur se suurstof vir die vyf insittendes aan boord van die vaartuig en kommer neem toe oor hul kanse op oorlewing.

Wat het gebeur?

Die 6,5 meter lange vaartuig het Sondag begin duik, maar het volgens die owerhede minder as twee uur later kontak met die oppervlak verloor.

Die maatskappy wat die duikboot bedryf, OceanGate Expeditions, het in ʼn verklaring gesê hy kon geruime tyd nie kommunikeer met die duikboot, wat die wrak van die Titanic sou gaan besoek, nie.

Die maatskappy gebruik die vaartuig Titan vir sy duikekspedisies na die wrak, met ʼn sitplek op een van die duikbote wat jou $250 000 (sowat R4,5 miljoen) uit die sak sal jaag.

Wie is aan boord?

Een van die passasiers aan boord van die vaartuig is geïdentifiseer as die Britse sakeman Hamish Harding, wie se lugvaartmaatskappy inligting oor sy ekspedisie op sosiale media gedeel het.

Harding, ʼn 58-jarige vlieënier, ruimtetoeris en voorsitter van Action Aviation, het Sondag nog op Instagram ʼn plasing gedoen waarin hy sê hy is trots om deel van OceanGate se Titanic-sending te wees.

Die Pakistanse sakeman Shahzada Dawood en sy seun Suleman is ook aan boord.

“Soos wat sake nou staan, is kontak met hulle duikboot verbreek en daar is beperkte inligting beskikbaar,” het die familie in ʼn verklaring gesê.

Die Dawood-familie het mense ook gevra om vir die insittendes se veiligheid te bid.

Shahzada Dawood is die adjunkvoorsitter van die konglomeraat Engro, waarvan die hoofkantoor in Karatsji gesetel is. Engro het beleggings in sektore soos energie, landbou, petrochemikalieë en telekommunikasie.

Ook aan boord is Paul Henri Nargeolet, ʼn veteraanduiker en kenner oor die Titanic se wrak. Nargeolet is ʼn lid van die Titan se bemanning.

Waar verdwyn die vaartuig?

Soekspanne fynkam ʼn afgeleë gebied van die Noord-Atlantiese Oseaan waar die Titanic eindelik tot op die seebodem gesink het; dit is sowat 650 km van die kus van Newfoundland in Kanada en lê sowat 4 000 meter onderwater.

Wat is jongste oor soektog?

OceanGate Expeditions se Titan-tuig

Die Amerikaanse kuswag het twee vliegtuie ontplooi terwyl die Kanadese ʼn vliegtuig en skip gestuur het om te help soek na die duikboot.

Tydsberekening is kritiek omdat die vaartuig net 96 uur se suurstof vir vyf mense bevat.

Die Kanadese vliegtuig gebruik boeie om die water onder die oppervlak te fynkam.

Skoutadm. John Mauger van die Amerikaanse kuswag het Maandag in Boston aan verslaggewers gesê hy glo daar is naastenby 70 uur se suurstof nog beskikbaar.

“Dit is ʼn uitdaging om in so ʼn afgeleë gebied ʼn soektog te doen, maar ons ontplooi alle beskikbare hulpbronne om te verseker ons spoor die vaartuig op en red diegene aan boord.”

Maar met geen teken van die duikboot nie – en ook geen kommunikasie daarmee nie – het die span van die kuswag hul soektog Maandagaand eers opgeskort.

Die Nasionale Kuswag sou deurnag saam met spanne van OceanGate die soektog voortsit.

Wat kon gebeur het?

Prof. Alistair Greig, ʼn kenner ʼn mariene ingenieurswese verbonde aan University College London, het (sonder dat hy die duikboot self in diepte bestudeer het), twee moontlike teorieë voorgestel wat gegrond is op foto’s van die vaartuig wat in die media gedeel is.

Indien die Titan ʼn elektriese of kommunikasieprobleem ondervind het, kon dit na die oppervlak opkom en bly dryf, terwyl dit “wag om gevind te word”.

“Nog ʼn scenario is dat die drukromp beskadig is – ʼn lekplek,” het hy in ʼn verklaring gesê.

“In daardie geval is die vooruitsig nie goed nie.”

Hoekom ‘Titanic’ besoek?

Die RMS Titanic

Die 46 000 ton-passasierskip het in April 1912 – met 2 224 siele aan boord – op sy nooiensvaart van Engeland na New York ʼn ysberg getref en gesink.

Meer as 1 500 mense het gesterf, die meeste van hulle sakemagnate en aristokrate.

Die ramp het mettertyd ʼn gewilde voorbeeld van aanmatiging geword; die skip is as ʼn wonderwerk van die nywerheidsera en onsinkbaar bestempel.

Sommige het egter ook groot voorbeelde van diskriminasie in die skeepsramp uitgewys; die meeste slagoffers was passasiers wat in tweede of derde klas gereis het.

ʼn Frans-Amerikaanse ekspedisiegroep het die wrak in 1985 opgespoor en dit het hernieude fassinering oor die katastrofe tot gevolg gehad. Dit het ook aanleiding gegee tot die lokettreffer Titanic wat in 1997 vrygestel is en het ʼn groot en uiters winsgewende onderwater-toerismebedryf tot gevolg gehad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Harley Davidson ·

Die mense aanboord se prioriteite is verkeerd, gebruik daardie geld om top studente wat nie die finansies het om te studeer of soos in Suid-Afrika nie die regte velkleur het om in aanmerking te kom vir ‘n beurs nie.Ek dink dit is wat ek sou doen.

Kiepie ·

Harley, jy aanvaar sommer net hulle doen nie reeds sulke skenkings of ander liefdadigheidswerk nie?

Samuel ·

Hulle hoef absoluut niks vir SA burgers te doen nie. Miskien doen hulle in elkgeval liefdadigheidswerk.

ES ·

Ek sou tog dat ander mense vir my vertel wat ek met my hardverdiende geld moet doen…

Philip ·

Altyd ‘n bitterbek wat wil slim klink, hoeveel skenk jy vir armes of die wat nie kan gaan studeer nie. Hoekom moet daar altyd ‘n slimme weers om veral ryk mense te wil raadgee, dalk jaloers?
Jy besluit sommer hul prioriteite is verkeerd, het jy insae in hul sake, hoe weet jy wat doen hulle nie dalk met hulle geld om ander te help nie.

E ·

Ek wonder of al die mense nog so trots wil spog op sosiale media noudat hulle in die pekel is. Miskien moet hulle nie so loop spog het nie. Hulle het niks verloor gehad op die bodem van die see nie. Van nuuskierigheid is die kerke leeg en die tronke vol.

Koen ·

Gaan ry met jou fiets, Arrogante mens wat vir ander wil voorskryf wat om hul geld te doen. Hoop jy deel jou geld mildelik uit.

Treurwilger ·

Die Titanic- geskiedenis ís so tragies.
Hoe ironies dat, as die Titan nie gered word nie, dit moontlik deel van die hartseer verhaal sal wees.
Mag die mense tog spoedig gevind word.

Johanncb ·

Net ‘n dom vraag: dien duikbote nie ook ‘n roeteplan in soos vliegtuie ‘n vlugplan indien nie?

Nettie ·

Die Titan wou na die Titanic reis. Ek dink ek bly maar van alle skepe af wat daardie woord bevat, dit voorspel duidelik niks goeds nie! ;-)

Ek sal bid vir redding van almal aan boord. Mag God hulle veilig hou tot hulle gevind kan word.

Realis Thailand ·

Ek kan julle verseker die mense is al lankal oorlede- verdrink en vergruis deur die water se druk
Die uitkyk venster het net n lisensie om to op 1200 meter te hou voor dit bars en amper 4 km is n groot verskil en die eienaars is vele kere gewaarsku en wou nie die venster versterk daar dit teveel sou kos

Niklaas ·

Ek dink die probleem het ontstaan by daardie ronde venstertjie heelvoor . Antwoorde sal later hopelik opduik , anders het die wereld weer ‘n vraagstuk soos vlug MH370 , die vliegtuig van Indonesië wat steeds spoorloos is na ‘n aantal jare.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.