Foto’s: Windhoekse gemeenskap takel slaggate

Die gemeenskap van Windhoek het saamgespan om die slaggate in dié stad reg te maak. Van links na regs: Alan Lang en Jason Hammerslag van Talisman wat die toerusting verskaf het, Petterson, vrywilliger en werklose man en ds. Fourie van den Berg. (Foto: Verskaf)

Toe ds. Fourie van den Berg, predikant en kranige drawwer, een oggend voor sonsopkoms in die donker strate van Windhoek in ʼn slaggat trap en die spreekwoordelike stukkie aarde koop, het hy daar en dan besluit om sélf die slaggate in die Namibiese hoofstad te takel.

Daar is na raming 2 000 slaggate, kleintjies én grotes, in Windhoek alleen wat gereeld padongelukke veroorsaak. Van den Berg het die gemeente van die NG-kerk Eros, waar hy predikant is, genader om hom te help om dié enorme taak aan te pak.

Hy sê hy het toestemming by die plaaslike munisipaliteit gekry om die Gatvul-projek van stapel te stuur en het daarna voelers uitgesteek na vrywilligers en borge.

“Ek het altyd die munisipaliteit gekritiseer oor die vervalle toestand van die strate en dat hulle ooglopend niks daaraan doen nie. Ek het daaroor gedink en het besef hulle is dalk oorweldig.”

Sowat 40 lede van die gemeenskap het vandeesweek reeds nagenoeg 300 gate reg gemaak. Die projek duur volgende week voort en ʼn span ingenieurs sal ook vir die volgende agt Vrydae aan die slaggate aandag gee.

Van den Berg vertel selfs die gewilde restaurant Joe’s Beer House het elke dag ʼn groep mense, van kokke tot kelnerinne, gestuur om te kom help. OJ Construction, ʼn konstruksiemaatskappy, het ook twee spanne mense gestuur om ondersteuning aan die projek te verleen.

“My oë het oopgegaan oor watter harde werk dit is om so in die bloedige son te staan en met ʼn pik en ʼn kraghamer die teer te kap,” sê hy. Hy voeg by dat die kwik sommige dae tot 40 °C styg en dat daar van die onlangse swaar reënval nie meer sprake is nie.

Wat vir hom egter die meeste uitgestaan het, is die band wat gesmee is tussen lede van die gemeenskap. “Ek kon voel hoe die gaping wat deur politiek tussen mense gevorm is kleiner word.”

Vrywilligers het vandeesweek saamgespan om die slaggate in Windhoek op te vul. (Foto: Verskaf)

ʼn Kitskosrestaurant voorsien die spanne ook elke middag van hamburgers en koeldranke en die plaaslike Checkers het aangebied om vir elke vrywilliger ʼn kospak met items soos meel, olie, suiker en pasta te skenk. ʼn Gemeentelid het ook aangebied om ná afloop van die projek die vrywilligers te trakteer op braaivleis.

“Dit is ongelooflik om te sien hoe ʼn gemeenskap selfs in swaar ekonomiese tye hulle hande en beursies oopmaak vir ʼn goeie doel. Ek stap weg hier met hoopvolheid in my hart vir Namibië en die wete dat hier mense is wat werklik nog omgee.”

Drie werklose mense, wat oor die radio van die Gatvul-projek gehoor het en as vrywilligers aan die slaggate gewerk het, het intussen as gevolg van die projek vaste werk gekry.

“Drie mense se lewens het verander deur hierdie projek. Hulle het nie kom werk om die tyd te verwyl en nie vir die belonings nie, maar kyk hoe word hulle nou beloon.”

Van den Berg sê die bande van sy vrou se motor loop gereeld deur in die slaggate in die Windhoekse strate. “Ek het toe maar die gate waardeur sy moet ry, eerste laat reg maak,” skerts hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Elsabe ·

Dis ‘n Afrika-ding. Jy gaan dit nooit verander nie. Daar is van ons wat hand uitsteek en dit beter maak, maar die oorgrote der miljoene meerderheid, sien en laat staan. Sien?

Anti-Verkramp ·

Ek neem aan jy is een van die mense wat ‘n positiewe bydrae lewer deur vrywillig jou dienste aan te bied in die gemeenskap.

Die Wolf ·

Lewer jy n bydra? Al bydra wat ek sien is om te kritiseer.

Wil ·

Regtig ‘n pragtige idee en saamstaan, want dis ons s’n projek.Net ‘n jammerte jou regering buit dit uit.Want oormore verwag en wys hulle dit uit as ‘n goeie nasie-bou of gemeenskaps projek, en hulle hoef natuurlik minder te spandeer op instandhouding, Maar dis net my mening,Ons doen dit alreeds afgelope paar jaar in ons ou dorpie ook.

Maggies ·

Hierdie tipe saak het twee kante.
1.Mense kry genot daaruit om die paaie vir ons mense te herstel. En dit word goed gedoen.
2. Regering sien dit raak en doen nog minder, want hulle weet mos dat ons dit self gaan doen.
Maar dit is inderdaad ‘n mooi berig wat wys wat gedoen kán word as mens wil saamwerk.

Johan ·

Is daar nie beter nuus nie Dit het niks met SA te make nie.In al die state in Afrika gaan dit so DIS HOE HULLE WIL LEWE

Kokerboom ·

Nee Johan, eks ‘n SuidAfrikaner wat bly in Namibia. Die ooreenkoms tussen SA en Nam is die naaste aan 100% wat jy ooit kan kry. Dis ‘n kwessie van gesindheid en spontane ondernemingsgees. Dit kon net sowel SA gewees het. Toon maar net dat die regimes aan bewind het GEEN sin vir onderhoud..SA is ‘n sprekende voorbeeld

Ralph ·

Jy sal wat wil gee om in hierdie land te kom woon. Jou SA is al lankal ‘n ashoop

Minion ·

Weet jy dat Namibiers ook Maroela Media lees en ondersteurn.. en weet jy.. eintlik werk die munisipaliteit saam met die gemeenskap. Ons land vat nog hande… En ons HELP mekaar.. Ja. Dis hoe ons WIL lewe..

Die Wolf ·

En ons betaal getrou ons maandelikse premies aan die munisipale keiser. Om hulle te kry om uit die lockdown sindroom te kom is n perd van n ander kleur.

Eend Bessinger ·

SA moet voorbeeld volg. Die regering is te besig met ander dinge.

Minion ·

Ek woon in Namibia.. en ons het nog baie tyd vir mekaar.. maak nie saak wie jy is nie.. Ons werk graag saam en help mekaar.. Meeste mense hier gun die son oor ander se koppe.. miskien moet mense wat hier kommentaar lewer bietjie kom kuier.. dis ‘n baie lekke plek.. ;-)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.