Israel skort kragtoevoer na Gaza op

Rook borrel bo Gaza op 7 Oktober 2023 tydens die lugaanval (Foto: Mahmud Hams/AFP)

Israel het Saterdag sy staatsbeheerde kragvoorsiener opdrag gegee om kragtoevoer na die Gaza-strook op te skort ná die Palestynse militante groep Hamas ʼn verrassingsaanval op Israel geloods het.

Israel Katz, die minister van energie, het gesê hy het die kragvoorsiener skriftelik opdrag gegee om elektrisiteitsverskaffing aan Gaza op te skort.

Maroela Media het vroeër berig Hamas het ʼn dodelike vuurpyl-aanval op Israel geloods en Israel het met verwoestende lugaanvalle op Gaza gereageer.

Verskeie lande het intussen Hamas se aanval op Israel veroordeel.

Abdel Fattah al-Sisi, president van Egipte, het Saterdag gewaarsku oor ʼn “gewelddadige siklus” van geweld.

Sisi het ʼn oproep van die Franse president Emmanuel Macron ontvang. Die twee presidente het “samewerkende pogings” bespreek om ʼn eskalasie van geweld in die Gaza-strook te verhoed.

Egipte was in die verlede ʼn sleutel-bemiddelaar in die konflik tussen Israel en Palestina.

Egipte se minister van buitelandse sake, Sameh Shoukry, het ook ʼn rits oproepe gemaak, insluitend aan sy eweknieë in Rusland, Turkye, Duitsland, Frankryk en Spanje, in ʼn poging om “internasionale akteurs” aan te moedig om “onmiddellik in te gryp”.

Ursula von der Leyen, hoof van die Europese Unie, het Hamas se aanval as “terreur in sy mees verfoeilike vorm” beskryf.

Egipte het ʼn beroep op die internasionale gemeenskap gedoen “om Israel te maan om die aanvalle en uitlokkende aksie teen Palestyne te stop” en om “te voldoen aan die beginsels van internasionale humanitêre wetgewing wat betref die verantwoordelikhede van ʼn besettende staat”.

Daniel Hagari, woordvoerder van die Israeliese weermag, het intussen gesê soldate en siviele burgers is deur Hamas ontvoer. “Ek kan nie op die oomblik getalle gee nie. Dit is ʼn oorlogsmisdaad deur Hamas en hulle sal die prys betaal.”

Magen David Adom-nooddienste het gesê die dodetal in Israel ná die verrassingsaanval staan op 70. “Honderde is ernstig, matig en gering beseer.”

Die ministerie van gesondheid in Gaza het gesê minstens 198 mense is Saterdag in Gaza dood met 1 610 wat beserings opgedoen het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

gehasie ·

Hoe is dit moontlik dat nie die CIA, MI6 en Mossad van die beplande aanval geweet het nie? Die verminderde Weermag getalle ten tye van die aanval in die Gaza-strook verdien om ondersoek te word. Iets rym nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.