Jurie moet nou besluit oor doodstraf vir skoolskieter

Nikolas Cruz (Foto: Carline Jean, AFP)

ʼn Jurie in die Amerikaanse deelstaat Florida moet nou besluit of Nikolas Cruz (23) die doodstraf opgelê gaan word nadat hy in 2018 altesaam 17 leerders en personeel by die Marjory Stoneman Douglas-hoërskool doodgeskiet het.

Cruz was 19 jaar oud ten tyde van die voorval.

Maroela Media het vroeër berig dat Cruz op Valentynsdag met ʼn semi-outomatiese geweer in die gange van die Marjory Stoneman Douglas-hoërskool – sy vorige skool – losgebrand het.

Die vonnisverhoor het Maandag in die hof in Fort Lauderdale afgeskop met ʼn ontsagwekkende video van die skietery wat gespeel is. Cruz, wat ʼn swart gesigmasker gedra het, het sy gesig met sy hande bedek en na die tafel voor hom gestaar terwyl die video gespeel is.

Verskeie ontstelde familielede van die slagoffers het uit die hofsaal geloop terwyl ander openlik gehuil en deur hul geliefdes omhels is.

Cruz het in Oktober skuld in ʼn hof in Fort Lauderdale beken op 17 aanklagte van moord en 17 aanklagte van poging tot moord. Hy het ook die familielede van die slagoffers om verskoning gevra.

ʼn Jurie van 12 mense moet nou besluit of Cruz die doodstraf of lewenslange vonnis gaan kry vir wat aanklaer Mike Satz ʼn “koue, berekende, manipulerende en dodelike” bloedbad genoem het.

Die doodstraf vereis dat die jurie eenparig moet wees. Cruz sal andersins lewenslange tronkstraf sonder parool opgelê word.

Satz het in sy openingsbetoë gesê die beskuldigde het doelgerig opgetree en dat die massamoord haarfyn beplan was.

Hy het ʼn video in die hof gespeel wat Cruz drie dae voor die skietery op sy selfoon gemaak het. In die video erken hy dat hy die “volgende skoolskieter van 2018 gaan wees”.

“My doelwit is om minstens 20 mense met ʼn AR-15-geweer te skiet,” sê Cruz in die video. “Dit gaan ʼn groot gebeurtenis wees en wanneer jy my op die nuus sien, sal jy weet wie ek is.”

Cruz het semi-outomatiese die AR-15-geweer wat hy in die aanval gebruik het, wettig gekoop, ondanks ʼn gedokumenteerde geskiedenis van geestesgesondheidsprobleme. Cruz was reeds weens dissiplinêre redes uit die skool geskors.

Hy was ook bekend daarvoor dat hy obsessief oor vuurwapens was – en is geïdentifiseer as ʼn potensiële bedreiging vir sy klasmaats.

Op die dag van die aanval het Cruz in ʼn Uber-voertuig by die skool aangekom, onoordeelkundig op studente en personeel begin skiet, en nege minute later gevlug en ʼn bloedbad agtergelaat.

Die departement van justisie het in Maart ʼn skikking van $127,5 miljoen (sowat R2 miljard) met oorlewendes en familielede van Parkland-slagoffers aangegaan wat die FBI van nalatigheid beskuldig het. Die familielede en oorlewendes meen die FBI het versuim om betyds te reageer op wenke – wat daarop dui dat Cruz gevaarlik is – wat voor die aanval ontvang is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Koos 100 ·

As die polisieman wat ‘n dwelmsmous per ongeluk versmoor het deur met sy knie op sy nek te sit, vir 20 jaar tronk toe gestuur is, kan hy maar die doodstraf kry!

Sokrates ·

Miskien moet daar navorsing gedoen word oor die invloed van geweldadige video speletjies waar mense gejag en geskiet word, bloed wat spat……vergewis julself n slag oor waarna kinders werklik kyk, en hoe hul “meedoen” aan die spel…….As jy dit vir ure elke dag doen, jou brein geleidelik herprogrammeer om afgestomp te raak vir die waarde van lewe, dan mag jy dalk op n dag dink jy wil nou die “game” daar buite gaan “speel”, dieselfde “high” kry as tydens jou video speletjes…….as jy boonop emosioneel onstabiel is en uit n swak huis kom, is die tafel as’t ware gedek…….

Porseleintjie ·

God sê wat Hy bedoel en bedoel wat Hy sê. As jy dood moet jy gedood word.

Jaco ·

Doodstraf in Amerika, waar die hoogheilige Demokrate met hulle mooi “human rights” aan bewind is? Hoe dan nou?

Cherokee ·

Verskillende state pas hul eie onafhanklike strawwe toe. Dit is die minimum van state wat steeds die hoogste tol toepas op moordenaars. Dink onder korreksie, sowat 2 state.

Petrus Albertus ·

Meer as 2 en Cherokee is reg, onthou die VSA is ‘n federasie, dus – net soos met die aborsiewetgewing – bepaal die state self of die doodstraf opgelê mag word of nie, nie die Federale Regering nie.

Voilet ·

As hier doodstraf moet wees in SA, sal daar baie min van die nasie se mense oor bly wragtig

Jaco ·

Nee, al wat sal gebeur is dat amper enige misdade wat wit mense pleeg, bewimpel en gekook sal word sodat net hulle die doodstraf sal kry. Dit sal basies wettige ethnic cleansing wees.

Di ·

Waar! Wens hulle WIL dit terug bring dan sal daar minder moorde plaasvind. ANC sal dit NOOIT terug bring want hulle weet wat die nagevolge sal wees

AmY ·

My lewe op skool was LOUTERE HEL gewees. Van die eerste dag in graad een met ‘n bittere nare juffrou, tot en met my laaste skooldag.
Ek is elke dag geboelie (deur kinders én onderwysers), maar nooit ooit sal ek na my ou skole gaan en links en regs gaan skiet nie. (Van die onderwysers is 30 jaar later steeds daar).
Dit gaan glad nie verander wat met my gebeur het nie. Ek het elke jaar selfmoord oorweeg, maar besef dat dit ook niks gaan verander nie, want die boelie onderwysers en boelie leerders sou net na die volgende ‘slagoffer’ aanbeweeg het. Hulle sou niks vir my gevoel het nie.

Petrus Albertus ·

So jammer dat dit so was, skool kan ‘n BAIE slegte ervaring wees MAAR jy is 100% reg, hy het nie verskoning gehad om te doen wat hy gedoen het nie. En hoeveel ander mense se lewens is nou verwoes?

Pampoen ·

Ek dink daar is iets verkeerd met die morele vesel waarvan die amerikaanse samelewing geweef is. Hulle doen goed wat heeltemaal buite verband is met geen rede nie. Dit is ‘n diep liggende probleem van ‘n volk waarmee dit te lank te goed gegaan het en waar menseregte bo geloof gestel word. Dit is ‘n inploffing net soos met die Grieke van ouds (en ‘n menigte ander voorbeelde in die geskiedenis).

Gert ·

So ‘n koel en berekende daad mooi als beplan en nogal gespog dat hy dit gaan doen. Nee wat hang op skiet dood of gee die spuit . Vir so ou is daar nie hoop nie

Petrus Albertus ·

Ja, ek kan ook nie sien watse bydrae hy nog tot die samelewing kan lewer nie.

Mariaan ·

Hoekom soveel tyd en geld spandeer aan besluit WAT met hom gedoen moet word? Hang hom en kry klaar! Sonder berou kinders en onderwysers vermoor..sies man!

Veronika ·

Nee laat hy vir die res van sy lewe in die tronk sit! Doodstraf sal heeltemal genadig wees vir hom!!!

Niklaas ·

Hy sal net lewenslank kry. Daar sal beslis diegene wees , hoofsaaklik Demokrate , wat sensitief is oor die doodstraf en dit sal teëstaan weens humanitêre redes. En as al die jurielede nie eenparig op die dood besluit nie , is daar geen kans vir daai inspuiting nie . En natuurlik sal appêl ook aangeteken word soos deesdae die geval is met alle groot straf toedienings en dit sal weer lei tot dekades lange gespook om die jongman se straf baie te verminder, al het hy ookal watse gruwelike daad gepleeg. Min van ons hou van hierdie vertragings , maar dis hoe dit is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.