Kate glo ‘gedwing’ om kankernuus bekend te maak

Die videoverklaring wat Catherine, prinses van Wallis, gedeel het. (Foto: BBC Studios/AFP)

Catherine, die prinses van Wallis, is glo “gedwing” om haar kankerdiagnose bekend te maak weens beweerde dreigemente dat dié nuus deur ʼn onbekende bron uitgelek sou word.

Die Britse koerant The Daily Mail berig ʼn betroubare bron het eksklusief aan dié publikasie bevestig dat polsende navrae oor ʼn moontlike kankerskok in die Britse koningshuis die Kensington-paleis gedwing het om inderhaas die prinses se aankondigingsvideo op te neem en te versprei.

Kate, soos sy alombekend is, het Vrydag 22 Maart in dié roerende video aangekondig sy is in die vroeë fase van chemoterapie. Dít volg nadat sy in Januarie twee weke in die London Clinic deurgebring het vir wat die paleis as ʼn buikoperasie beskryf het.

Maroela Media het vroeër berig daar is glo na afloop van haar operasie minstens een poging aangewend om toegang tot die prinses se private mediese inligting te verkry. Volgens The Daily Mail is dit nie bekend of dié navrae oor ʼn kankerdiagnose vanaf die media of ʼn bron vanuit die London Clinic gekom het nie.

Talle samesweringsteorieë oor die aard en erns van haar gesondheid is ook versprei.

Die prinses is wel geloof vir die openhartige en persoonlike wyse waarop sy die nuus gedeel het. Boodskappe van beterskap het van reg oor die wêreld ingestroom, van hooggeplaastes, politici en die publiek.

Die fotoagentskap Getty Images het egter deur die loop van die naweek gesê die prinses se video, wat deur die BBC opgeneem is, voldoen moontlik nie aan hulle standaarde vir foto’s nie.

Daar word ook beweer dié besluit volg nadat die prinses se nou bekende Moedersdagfoto saam met haar drie spruite, George, Charlotte en Louis, verlede maand deur verskeie nuusagentskappe, insluitend Getty, van hul stelsels verwyder is omdat dit weens “redigeringsflaters” ook nie aan dié agentskappe se standaarde vir foto’s voldoen het nie.

ʼn Tweede foto, waarin koningin Elizabeth II met van haar kleinkinders en agterkleinkinders in 2022 deur Kate afgeneem is, is kort daarna ook van Getty verwyder weens “digitale veranderinge”.

Getty Images het aan E! News gesê dat hul slegs “ʼn standaard redakteursnota” by die prinses se video geplaas het wat daarop dui dat dit deur ʼn derdeparty-organisasies verskaf word.

In teenstelling met die bogenoemde foto’s, is die video klaarblyklik nie van hul stelsels verwyder nie.

Bronne: E! News, BBC, The Daily Telegraph.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

OU SAAR ·

Liewe genade. Beteken die woord privaatheid dan niks vir sommige mense nie…
Kate, ons bid vir jou spoedige herstel en beterskap toe. Jy is ń pragtige voorbeeld van krag en grasie vir die wêreld. Ek hoop dat mense by jou kan leer wat dit beteken om met styl en grasie moeilike tye te oorkom.
Sterke Prinses Catherine. Jy volg voorwaar in jou skoonmoeder se voetspore.

ALTA ·

Ja OU SAAR ek kan ook nie verstaan wat dit nou met enige iemand behalwe haar familie uit te waai het nie.

Gaitsigubib ·

Ek gee nie om oor die lief en leed van die koninklikes nie, maar ek wonder waarom stuur hulle gedokterde fotos en A.I. persverklarings die wereld in. Waarom se hulle nie daar is n privaat aangeleendheid wat hul nie met die media wil bespreek nie? Julle 2 filosowe moet my dalk se wat julle dink. Julle is reg dit behoort privaat te wees, maar is dit wel nodig om daaroor te lieg? Dan gaan mense mos afgunstig raak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.