Lesotho se ‘rykste man’ wen verkiesing

Sam Matekane (Foto: Marco Longari, AFP)

Lesotho se “rykste man” het die meeste stemme in die wetgewende verkiesings in Lesotho verwerf, maar nie daarin geslaag om ʼn parlementêre meerderheid te verkry wat ʼn einde kon maak aan die langdurige politieke wurggreep waarin die land hom al jare bevind nie.

Kiesers in Lesotho het Vrydag aan die parlementêre verkiesing in dié land deelgeneem.

Revolution for Prosperity, ʼn party wat slegs ses maande gelede deur die miljoenêr en sakeman, Sam Matekane (64), gestig is, het 56 uit 120 setels in die parlement gewen, volgens die finale resultate wat Maandag deur die land se verkiesingskommissie uitgereik is.

Lesotho word die afgelope dekade deur wankelrige en dwarstrekkerige koalisies gekenmerk, met geen premier wat ʼn volle termyn van vyf jaar uitgedien het nie.

Matekane, wat homself as ʼn kampvegter van die land se sakegemeenskap stel en in die stemming as ʼn buitestander beskou is, het naby ʼn volslae oorwinning gekom, maar sal nou die steun van kleiner partye moet verseker om ʼn regering te vorm.

Die Demokratiese Kongresparty, onder leiding van Mathibeli Mokhothu, het tweede gekom met 29 wetgewers, volgens die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK).

Die All Basotho Convention-party, wat die uittredende regering gelei het, het ʼn skerp daling in steun gely en slegs agt setels verseker.

Matekane, wat glo Lesotho se rykste man is, het begin om donkies groot te maak voordat hy ʼn fortuin in diamantmynbou en ander sakeondernemings gemaak het.

Lesotho, wat heeltemal deur Suid-Afrika omring word, tel onder die wêreld se armste lande, met meer as 30% van sy bevolking wat op minder as R34 (sowat $1,90) per dag leef.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Boatsie ·

Hoop hy doen iets met sy geld aan die armoede en werkloosheid of was dit ook ‘n t-shirt/kospakkie verkiesing.

Republikein in die Wes Kaap ·

Meeste van Gauteng se water kom van Lesotho.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.