Man wat sê dodelike skoolskietery is klug, moet miljoene opdok

Sandy Hook Elementary. (Foto: John Moore/Getty images/AFP)

ʼn Jurie in die Amerikaanse deelstaat Texas het die samesweringsteoretikus Alex Jones beveel om $45,2 miljoen (meer as R750 miljoen) se skadevergoeding te betaal omdat hy valslik beweer het dat die dodelike skoolskietery wat in 2012 by die Sandy Hook Elementary School plaasgevind het, ʼn versinsel was.

Die uitspraak kom net ʼn dag nadat dieselfde jurie ʼn paartjie wie se kind tydens dié voorval gesterf het, $4,1 miljoen (byna R70 miljoen) in skadevergoeding toegeken het. Die bedrag moet betaal word weens die emosionele stres wat veroorsaak is deur Jones wat jare lank valshede op sy aanlyn en radioprogram uitgesaai het.

Die totale bedrag wat Jones nou moet opdok, beloop altesame $49,3 miljoen (R825 miljoen).

Families van die 20 skoolkinders en ses volwassenes wat destyds deur ʼn 20-jarige man by die skool doodgeskiet is, het die saak teen Jones gevoer nadat hy jare lank talle volgelinge oor sy samesweringsteorieë bygekry het.

Die skadevergoeding wat eindelik toegeken is, is veel minder as die $150 miljoen wat die eisers Neil Heslin en Scarlett Lewis, wie se sesjarige seun Jesse vermoor is, geëis het.

Nogtans het Lewis gesê dat Jones nou aanspreeklik gehou word vir sy valse bewerings.

“Vandag het die jurie bewys dat die meeste van Amerika gereed is om liefde bo vrees te kies en ek sal hulle ewig dankbaar wees,” het sy getwiet.

Die samesweringsteoretikus Alex Jones se Twitter. (Foto: Eric Baradat/AFP)

Jones, ʼn uitgesproke ondersteuner van oudpres. Donald Trump, het jare lank op sy platform InfoWars beweer dat die skietery in Newton, Connecticut, deur aktiviste vir wapenbeheer “opgevoer” is.

Hy het sedertdien erken dat dit “100% werklik” was, maar die Sandy Hook-families het volgehou dat sy ontkenning, tesame met sy vermoë om die sienswyse van duisende mense te beïnvloed, werklike emosionele trauma veroorsaak het.

Hy is ook daarvan beskuldig dat hy massiewe winste uit die skadelike leuens en disinformasie ingepalm het.

Die jongste uitspraak is waarskynlik nie die einde van Jones se regsprobleme nie, aangesien ʼn ander lastersaak hom ook in Connecticut in die gesig staar.

Die 48-jarige samesweringsteoretikus is al vir verskeie lastersake deur die ouers van die Sandy Hook-slagoffers aanspreeklik bevind, maar die saak in Texas was die eerste een waar skadevergoeding toegestaan is.

Voor die uitspraak Vrydag, het Wesley Balle, prokureur van die betrokke ouers, die jurie aangemoedig om standpunt teen valse inligting in te neem.

“Jy het die vermoë om ʼn boodskap aan almal in die land, en moontlik die wêreld te stuur – en dit is om Alex Jones te stop, asook die geldmaak uit die verspreiding van valse inligting en leuens. Om Alex Jones te stop, stop jy die wortel van vrees en haat,” het hy gesê.

InfoWars het in April bankrotskap verklaar en nog ʼn maatskappy wat deur Jones besit word, Free Speech Systems, het verlede week bankrotskap verklaar.

Randi Weingarten, president van die vakbond American Federation of Teachers, wat die personeel by Sandy Hook verteenwoordig het, het die uitspraak verwelkom.

“Niks sal ooit die pyn herstel om ʼn kind of geliefde te verloor, of om toe te kyk hoe daardie tragedie om politiese redes ontken word nie. Maar ek is bly dat die ouers van Sandy Hook ʼn bietjie geregtigheid gekry het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Niklaas ·

Wat is die man se probleem ? Die betalings waartoe hy nou met sy lastige praatjies gedwing word , gaan hom baie erg seermaak , en sommer sy mond snoer ook.

Vexed ·

Ja maar kan die ouers wat hy gesê het gelieg het oor hulle kinders se dood bekostig om so behandel te word…

Groen-oog ·

GROOT BEK PLAT SAK. Die ou se kop “clutch” nie so mooi met sulke onwaarhede nie. As jy oor iets berig in n koerant of radiostasie moet jy mos deeglike huiswerk doen.

Keelvol ·

Vryheid van spraak geldig net as jy saam die massa stem. Durf jy die teenoorgestelde sê dan word jy gekruisig.

Jason ·

Vryheid van spraak beteken nie jy kan laster nie. 90% van al die snert wat hy kwyt raak was maar net sy opinie, maar hy het te ver gegaan.

VaalDonkie ·

Alex Jones was oor baie meer dinge reg as wat jy dink. Hy was tot reg oor die paddas wat van geslag verander oor chemiese storting in hul habitat. En die pedofiele. En die WEF. Eienaardig.

Antie Sarie ·

Hy het nie n keuse gehad as om verskoning te vra nie. Ek geniet nog steeds sy videos.

Keelvol ·

Wie sê hy praat nie die waarheid nie. Die massa wat alles glo en soos skape volg is ook nie altyd reg nie. Die hof uitspraak is belaglik.

Manda ·

Dit strook met Trump se aanvanklike afmaak van Covid, en die man is ‘n Trump voorstander. Go figure soos hulle sê.

Oosie ·

Vraag.. kan squirrel en eff ook voor hof kom oor hul leuns dat daar geen plaasmoorde is?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.