Navalny-vergiftiging: Sanksies teen Russiese hooggeplaastes

Alexei Navalny (Foto: Pavel Golovkin, AP)

Die Europese Unie (EU) het Donderdag sanksies teen ses Russiese individue en een organisasie ingestel oor die vergiftiging van die opposisieleier Alexei Navalny.

Hooggeplaastes soos Alexander Bortnikov, direkteur van Rusland se Federale Staatsveiligheidsdiens, Sergei Kiriyenko, adjunk-personeelhoof in die presidensiële kantoor, sowel as twee Russiese adjunkministers van verdediging, is onder diegene wie se bates gevries word en wat verbied word om na die EU te reis.

Sanksies word ook ingestel teen die Russiese Staatswetenskaplike Navorsingsinstituut vir Organiese Chemie en Tegnologie, wat betrokke is by die ontwikkeling en vervaardiging van chemiese wapens.

Die strafmaatreëls tree dadelik in werking.

Dít volg kort nadat toetse by ʼn laboratorium vir die Organisasie vir die Verbod op Chemiese Wapens (OVCW) bevestig het dat Navalny die slagoffer was van die senumiddel Novichok.

Navalny, ʼn teenkorrupsie-ondersoekbeampte en een van pres. Wladimir Poetin se vernaamste en mees uitgesproke kritici, is na Duitsland gevlieg twee dae ná hy op 20 Augustus skielik siek geword het op ʼn plaaslike vlug in Rusland.

Duitse beamptes het verlede maand bevestig spore van Novichok is in die politikus se stelsel gevind.

Navalny het vantevore al gesê hy glo Poetin sit agter die vergiftiging. Die Kremlin ontken egter enige betrokkenheid en bevraagteken of Navalny hoegenaamd vergiftig is.

Die EU het in die verlede reeds sanksies teen Russiese amptenare ingestel nadat die voormalige spioen Sergei Skripal en sy dogter in 2018 Novichok ingekry het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kosie ·

Ja, want Rusland is op die punt om sy Nordstrom 2 pyp te koppel. so daarom het hulle die ou vergiftig want dinge gaan net te voorspoedig. Wie glo nog hierdie twak?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.