New York onder water

Inwoners van New York is gemaan om dringend skuiling te vind terwyl verskeie paaie weens die tropiese storm Ida gesluit is. (Foto: David Dee Delgado / AFP)

Inwoners van New York (NY) in die VSA is gemaan om dringend skuiling te vind terwyl verskeie paaie weens die tropiese storm Ida gesluit is.

Kathy Hochul, goewerneur van die staat, het ʼn noodtoestand afgekondig ná grootskaalse oorstromings in veral Brooklyn en Queens.

Honderde vlugte is gevolglik ook by die Newark-, LaGuardia- en JFK-lughawens gekanselleer.

“Vind onmiddellik skuiling. Vlieënde brokstukke kan ʼn gevaar vir diegene sonder skuiling inhou. Beweeg na ʼn laer verdieping en bly weg van vensters af,” het die staat se noodbestuurstelsel op Twitter gesê.

Die storm het ook tot verskeie kragonderbrekings oor New York gelei.

Inwoners van New York is gemaan om dringend skuiling te vind terwyl verskeie paaie weens die tropiese storm Ida gesluit is. (Foto: David Dee Delgado / AFP)

Die nasionale weerdiens het verder gewaarsku dat lewensbedreigende kitsoorstromings van die Middel-Atlantiese state na New England waarskynlik is. Dié gebiede kan Donderdag reënval van meer as 20 cm diep verwag.

ʼn Noodtoestand is ook in New Jersey, wat aan New York grens, verklaar. Intussen het ʼn tornado Annapolis, sowat 50 km van New York, getref en skade aan onder meer bome en kragpale aangerig. Die weerdiens het ook gewaarsku dat tornado’s moontlik in die suide van Connecticut en New York asook die noorde van New Jersey kan voorkom.

Sewe mense is sedert die storm Louisiana Sondag bereik het, dood.

ʼn 19-jarige man is Woensdag in Maryland dood ná ʼn gebou ineengestort het terwyl nog iemand vermis word.

Maroela Media het vroeër berig dat hospitale in die suide van die deelstaat Louisiana genoop was om pasiënte na mediese sentrums oor te plaas ná swaar reën en tornado’s massiewe skade aan infrastruktuur aangerig het.

Joe Biden, Amerika se president, sal na verwagting Vrydag na Louisiana reis waar meer as een miljoen huise sonder elektrisiteit gelaat is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Elinette ·

Sê wat jul wil – “end times are near”. Globale verwarming saai verwoesting in talle wêreldsdele, met groot droogtes, uitermatige reënval, siklone, orkane, tropiese storms, aardbewings en volke staan teen mekaar op, nes dit in Openbaring voorspel word.

Tong in die kies ·

Dis so waar. As mens net kyk wat om jou gebeur dan besef mens die skrif is besig om in vervulling te kom.
Openbaring sê dit duidelik. In die laaste dae sal daar gerugte van oorloë wees. Oorstromings en pes siektes.
Wat anders is dit wat ons nou beleef.

Jeffrey ·

Dit voel soms soos Armageddon want die westerse wêreld het n ongekende vrede beleef vanaf na die tweede wêreld oorlog tot en met onlangs. Plae en oorloë is so oud soos die mens. My oupagrootjie het die Spaanse griep, die eerste werêld oorlog, die groot depressie en die tweede wêreld oorlog beleef, daai mense het gekripeer van ellende, wat moes hul dan nie sê nie.

Kirst ·

Mens kan net hoop dat Jesus gou weer kom om hierdie gebroke wereld te vernuwe.

Tiptol ·

Met sosiale media en Internet kry mens ook darem die inligting dadelik en gereeld teenoor die ou dae.

Menan ·

Dankie tog ons by in Suid Afrika waar hierdie goed nie gebeur nie!

Blomme ·

Ongelukkig het ons nie natuurrampe nodig om verwoesting te saai nie… Ons mense doen dit sommer self. Geen waardering vir hierdie eens mooi land van ons.

Sandra ·

Beweeg na ‘n laer verdieping? Die plek is dan onder water. Ja, ek dink ook the end of the world is nigh. Met die Covid, storms, allerhande ander dinge wat nou in die wereld gebeur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.