Onderhandelinge oor gyselaars bereik ‘kritieke en finale stadium’

Gepantserde troepedraers van die Israelse weermag naby die Gaza-grens. (Foto: Aris Mesinis/AFP)

Onderhandelinge om diegene te bevry wat op 7 Oktober deur die Palestynse militante groep Hamas as gyselaars geneem is, het ʼn “kritieke en finale stadium” bereik.

“Ons is op die naaste punt wat ons nog ooit was om ʼn ooreenkoms te bereik,” het Majed Al-Ansari, woordvoerder van die Katarrese departement van buitelandse sake, Dinsdag tydens ʼn mediakonferensie gesê.

“Ons is baie optimisties, baie hoopvol.

“Maar ons is ook baie gretig dat hierdie bemiddeling daarin sal slaag om ʼn humanitêre wapenstilstand te bereik,” het Al-Ansari gesê.

Die Verenigde State het Saterdag gesê hy werk steeds daaraan om ʼn ooreenkoms tussen Israel en Hamas te bewerkstellig nadat die Washington Post berig het dat daar ʼn voorlopige ooreenkoms was om vroue en kinders wat as gyselaars gehou word te bevry in ruil vir ʼn onderbreking in gevegte.

“Ons het baie van die inligting wat uitgelek is of die verklarings hier en daar gesien, maar ons sal verkies om ons verklarings te hou totdat ons ʼn finale besluit oor die ooreenkoms het,” het Al-Ansari vandag op die mediakonferensie gesê.

Maroela Media het vroeër vandag berig Ismail Haniyeh, leier van Hamas, het óók Dinsdag gesê ʼn wapenstilstandooreenkoms met Israel is in sig.

“Ons is naby aan ʼn ooreenkoms oor ʼn wapenstilstand,” sê Haniyeh in ʼn verklaring wat sy kantoor aan AFP gestuur het.

Israel het egter nie dadelik op dié stelling van Hamas gereageer nie.

Bronne van Hamas en die Islamitiese djihad – wat ook aan die aanvalle deelgeneem het – het op voorwaarde van anonimiteit aan AFP gesê hul groepe het ingestem tot die voorwaardes van ʼn wapenstilstand.

Die voorlopige ooreenkoms sluit na bewering ʼn wapenstilstand van vyf dae in. Dit behels glo ʼn wapenstilstand op die grond, asook beperkings op Israeliese lugaanvalle oor die suide van Gaza.

Ingevolge die beweerde ooreenkoms sal tussen 50 en 100 Israeliese burgerlike en buitelandse gyselaars vrygelaat word, maar geen militêre personeel nie.

In ruil daarvoor sal sowat 300 Palestyne uit Israeliese tronke vrygelaat word, onder wie vroue en kinders, sê AFP se bronne.

Sowat 240 mense, onder wie 33 kinders (aldus die Israeliese regering), is tydens Hamas se verrassingsaanval op Israel op 7 Oktober as gyselaars geneem. Vier is tot op hede vrygelaat. Dit sluit in ʼn ma en haar dogter van die VSA en twee Israeliese vroue.

Een gyselaar – ʼn Israeliese soldaat – is gered.

Die liggame van twee vrouegyselaars – Yehudit Weiss (65) en korp. Noa Marciano (19) – is intussen naby die Al Shifa-hospitaal in Gazastad gevind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Jacobus ·

Israel moenie stop totdat die laaste hamas basis met alle soldate vernietig is nie. Hulle wat Israel is het mos nou al geleer dat jy nie met n terroris onderhandel nie.

Anel ·

Mens onderhandel nie met teroriste nie. En hoekom moet Israel meer mense vry laat as Hamas? Hulle was die aanvallers? Ek dink Israel moet voortgaan om Hamas uit te wis ander gaan die tetoriste net erger raak.

Gaitsigubib ·

Dis jammer dat die einste mense so ywerig terrorisme in die ou SA bevorder het. As almal van hulle soos jy gevoel het was dinge in SA dalk vandag heel anders.

annie ·

Dit klink of die Palestyne minder Israeli gaan vrylaat as van hul mense deur die Jode. Wat sê dit?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.