Oorsaak van Gabby Petito se dood bekend

Gabrielle Petito is in September as vermis aangemeld. (Foto: Octavio Jones / GETTY IMAGES NORTH AMERICA / AFP)

Gabrielle Petito, die vermiste jong Amerikaner wat ná ’n grootskaalse soektog dood gevind is nadat sy en haar verloofde op toer deur die VSA gegaan en dié sonder haar teruggekeer het, is verwurg.

’n Lykskouer het Dinsdag die oorsaak van Petito (22) se dood bekend gemaak nadat haar oorskot middel September in ’n nasionale woud in die Amerikaanse deelstaat Wyoming gevind is.

Brent Blue, lykskouer in Teton County, sê nou Petito se liggaam het tot ’n maand in die wildernis gelê voordat die owerhede op haar afgekom het.

“Ons het bevind dat die oorsaak van dood verwurging was. Ons aanvanklike bepaling is dat die liggaam drie tot vier weke in die wildernis was.”

Maroela Media het vroeër berig Petito en Laundrie (23) het in Julie vanjaar met ’n reis deur Amerika begin. Hulle het deurgaans foto’s en video’s van idilliese landskappe op sosiale media gedeel.

Petito se familie het egter in September onraad vermoed toe Laundrie alleen met die paartjie se kampeerwa terug huis toe is.

Laundrie het met sy tuiskoms in North Port, Florida, geweier om inligting aan die polisie te verskaf oor die twee se doen en late en het intussen soos ’n groot speld verdwyn.

’n Lasbrief is sedertdien vir sy inhegtenisneming uitgereik.

Die FBI het ’n grootskaalse soektog na Laundrie van stapel gestuur en ’n beroep gedoen op enigiemand met inligting oor waar Laundrie hom moontlik bevind om na vore te kom.

Blue het voorts gesê Petito se moordsaak het in ’n “mediasirkus” ontaard.

“Ongelukkig is dit maar een van vele sterfgevalle in die land van mense wat by verhoudings- of gesinsgeweld betrokke is.

“Dit is jammer dat daardie sterftes nie soveel mediadekking soos hierdie geval kry nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Shakespeare ·

Traumaties. Die arme ouers. Sterkte aan julle almal. Baie hartseer.

Anna-marie ·

‘n Moord in Amerika veroorsaak ‘n opskudding daar en bereik wêreld wyd die nuus. Hier is dit allerdaags.

Althes ·

Kritikuste wat sê haar geval kry voorkeurmedia dekking moet oor hulself kom.
Dis ñ jong meisie wat haar lewe voor haar gehad het – gebruik eerder die mediadekking om geslagsgeweld pertinent onder almal se aandag te bring.

Niklaas ·

Daar word nou bespiegel dat hierdie Laundrie knaap nie meer leef nie. Hy mag dalks nie weer gevind word nie . Tyd sal leer

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.