Rugbywêreldbeker: Chaos by Franse stadions

Orange Vélodrome-stadion in Marseille, Frankryk (Foto: Jannie Hamilton/Verskaf)

Die Franse owerhede het reeds onder skoot gekom by die Wêreldbeker-rugbytoernooi nadat sommige ondersteuners probleme ondervind het om by stadions in te kom.

Met die Olimpiese Spele in Parys oor minder as ’n jaar het Wêreldbeker-organiseerders vrae gehad oor die toegang tot die stadions in Marseille en Bordeaux.

Duisende toeskouers het Saterdag in Marseille die begin van die Poel D-kragmeting tussen Engeland en Argentinië misgeloop weens ’n drukgang buite die stadion.

’n Bron na aan die organiseerders het gesê die probleem het ontstaan omdat ’n groot aantal ondersteuners kort voor die wedstryd by net een van die twee aangewese ingange na die Stade Vélodrome opgedaag het.

Die voormalige Engelse rugbyspeler, Brian Moore, het die tonele buite die stadion as “chaoties” beskryf.

Organiseerders het vinnig opgetree en Wêreldrugby het Sondag gesê daar sal meer vrywilligers wees om ondersteuners by die stadion te verwelkom. Meer aankondigings oor openbare vervoer en inligting oor hoe, wanneer en waar om toegang tot die Vélodrome te kry, sal ook beskikbaar gestel word.

Tog was die probleme nie tot Marseille beperk nie.

In Bordeaux het talle ondersteuners van Ierland die begin van hul span se oorwinning van 82-8 Saterdag oor Roemenië misgeloop weens probleme met die toegang tot die openbare vervoer na die stadion buite die stad.

Een trem vol aanhangers het onklaar geraak en is 15 minute lank vertraag.

Sommige passasiers op ’n ander trem het, volgens die plaaslike TBM-vervoeroperateur, die noodstophefboom getrek en ook die volgende twee trems versper. Passasiers was verplig om na die stadion te loop.

TBM het daarop aangedring dat sy dienste verseker het dat meer as 20 000 reisigers, dit is 50% van die stadionkapasiteit, wel hul bestemmings bereik het.

Volgens die operateur is dit “normaal dat die trems vol is vir hierdie tipe gebeurtenis”.

Intussen het Franse aanklaers ’n ondersoek van stapel gestuur nadat ’n Ierse aanhanger beweer sy is Saterdag ná die wedstryd in Bordeaux “deur verskeie oortreders” verkrag.

Die toernooi se openingswedstryd tussen Frankryk en die driemalige Wêreldbeker-kampioen Nieu-Seeland in die Stade de France Vrydag is voorafgegaan deur die Franse president, Emmanuel Macron, wat uitgejou is terwyl hy ’n verwelkomingstoespraak gehou het.

Nog ’n groot verleentheid vir organiseerders was die kinderkore wat volksliedere voor die wedstryde gesing het.

Die voormalige Ierse rugbyspeler, Brian O’Driscoll, het gesê verskeie volksliedere – waaronder Frankryk se La Marseillaise en Italië se Fratelli d’Italia – is vermink.

Suid-Afrika se kaptein, Siya Kolisi, was meer ontspanne daaroor en het gesê sy spelers het hard genoeg gesing sodat die kinderkore nie eens gehoor is nie.

Die chaos by die stadion het ondersteuners aan verlede jaar se Champions League-eindstryd-fiasko herinner.

In Mei verlede jaar is die Champions League-eindstryd tussen Liverpool en Real Madrid by die Stade de France in Parys met 37 minute vertraag, aangesien aanhangers gesukkel het om in die nasionale stadion te kom nadat die polisie hulle in opeengehoopte sarsies in ’n beknopte ruimte laat instap het.

Die polisie het toe traangas afgevuur op duisende Liverpool-ondersteuners, wat kaartjies gehad het, maar uit die stadion gesluit is en desperaat was om in te kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

piet ·

Ek is steeds vies dat Frankryk WEER so vinnig die RWB gekry het. As dit die tendens is, kan armer lande soos SA en NZ maar vergeet om dit weer aan te bied. En kyk hoe lyk hulle organisasie nou, maar geld praat ongeag…

Aai ·

Korrupsie in die land,ons probleem so lei die wat hard werk om aan die lewe te bly.

Bolandse Nooi ·

Vader, piet, reken jy REGTIG dat ENIGE wêreldsport die risiko moet neem t.o.v. veiligheid van deelnemers en toeskouers, om in HIERDIE land, in die gemors wat dit tans is, ‘n wêreld-sportskouspel van enige aard aan te bied?

piet ·

Ons het dan nou net onlamgs die netbal en vroue wereldbekerkrieket aangebied. Veiligheid is glad nie ‘n issue vir wereldbyeenkomste nie dis finansies dis al.

George ·

Mens voel so. Maar ons tick nie alle bokse wat ons moet nie. Veiligheid is maar net een van hulle.

annie ·

In SA se seegroen seuntjie-jammies met Australië nou in ons groen-en-goud, terwyl hul landskleure rooi, blou en wit is, is ons darem nog veilig teen die aanslae. Dalk hoekom nog so rustig kan wees veral met DSTV wat glo binnekort ‘n nuwe party gaan vorm voor die 2024-verkiesing. Dan het ons darem nog ‘n opsie vir wie on te stem. Onthou tog dit is net vir die adel wat elke maand R1 000 wil blaas om saans tydens ete na Sewendelaan no xxxvxcc wil staar… Met die groot kragopwekker aan om die twak effens te kammofleer.

Helene ·

haha hoe lekker lag ek nou Annie…. het gewonder hoe om SA se nuwe klere te vertolk. Dit lyk nes ‘n sokker pakkie, maar dink jy slaan die spyker oppi-kop!!! “seegroen seuntjie-jammies”

Woes ·

Ek onthou ook dat dit met Kurt Darren gebeur het. Dink dit was op Loftus

Lily ·

Hulle raak ook aan iets wat my nogal irriteer en dis die kore wat die volksliedere sing. Dit doen regtig baie afbreuk aan die liedere. Ek hou niks daarvan nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.