Russiese opposisieleier kort ná tuiskoms in hegtenis geneem

Alexei Navalny in 2019. (Foto: Alexander Zemlianichenko/AP)

Die Russiese opposisieleier en aktivis Alexei Navalny is Sondag sowat ’n uur ná sy aankoms in Rusland op die lughawe in Moskou in hegtenis geneem.

’n Verhoor is Maandagoggend inderhaas by ’n Russiese polisiestasie gehou in ’n poging om sy aanhouding te verleng. Navalny, ʼn teenkorrupsie-ondersoekbeampte en een van pres. Wladimir Poetin se vernaamste en mees uitgesproke kritici, het dié verhoor as “ʼn onreg” bestempel. Intussen het die Verenigde Nasies se menseregtekantoor sy skok oor die opposisieleier se inhegtenisneming uitgespreek en versoek dat hy onmiddellik vrygelaat word.

Die Russiese owerhede voer aan Navalny het sy vonnisvoorwaardes oortree deur in die buiteland te bly nadat hy in September uit ’n hospitaal in Berlyn ontslaan is. Navalny is in Augustus verlede jaar vermoedelik vergiftig en het die afgelope vyf maande in Duitsland behandeling ondergaan.

Die kantoor van Michelle Bachelet, die VN se hoë kommissaris vir menseregte, het Maandag weer versoek dat ʼn onpartydige ondersoek na Navalny se vergiftiging gelas word.

Dít nadat Bachelet in September verlede jaar reeds vir ’n “deeglike, deursigtige, onafhanklike en onpartydige ondersoek” gevra het.

“Die aantal gevalle van vergiftiging of ander vorme van geteikende sluipmoorde die afgelope twee dekades op huidige of voormalige Russiese burgers, hetsy in Rusland of in die buiteland, is diep ontstellend.”

Sy het ook kritiek gelewer op die owerhede se versuim om oortreders verantwoordelik te hou en geregtigheid vir die slagoffers of hul gesinne te laat seëvier.

“Navalny was duidelik iemand wat staatsbeskerming nodig gehad het al was hy ʼn politieke doring in die regering se vlees. Dit is nie goed genoeg om bloot te ontken dat hy vergiftig is nie,” het Bachelet gesê.

Maroela Media het vroeër berig Navalny is vermoedelik met die dodelike senumiddel Novichok vergiftig. Novichok is dieselfde soort gif wat die voormalige spioen Sergei Skripal en sy dogter destyds in Engeland ingekry het. Die pa en dogter het dié aanval wonderbaarlik oorleef.

Navalny dring sedert die voorval daarop aan dat die aanval op hom deur Rusland se hoofveiligheidsagentskap, die Federale Veiligheidsdiens (FSB), in opdrag van Poetin uitgevoer is.

Die Kremlin ontken dié aantyging.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Talia ·

Hoekom sal julle Putin se naam nou anders gaan spel net omdat die artikel in afrikaans is!?

Die spelling van my naam verander nie as dit in engels gebruik word nie!?

Cherokee ·

Hallo Talia. Eintlik stem ek met jou saam, maar is dit Kaapstad of is dit Cape Town? Die reëls moet tog eenvormig wees.

Rosie ·

Ek stem hou by die naam wat met geboorte gegee is. Cherokee wat van al die name wat nou verander is ek dink nie dit het die selfde betekenis as ‘n mens se geboorte naam nie. Daar is heeltemal te veel politiek by plek/ dorp name en kan nie rerig vergelyk word met mens name nie.

Louis ·

Ja, en die alewige ge Klerksdorp wat Clarkesdorp en Rustenburg wat Rastenburg uitgespreek word gee my ‘n pyn. Hoekom moet die Engelssprekendes altyd alles wat Afrikaans is verdraai na Engels. Terloops Kaapstad moet Kaapstad bly want dit het te doen met die woord Kaap. Selfs in die Skandinawiese eilande dui dit ‘n sekere gebied aan.

Ben ·

Ek merk op dat die opskrif na Navalny verwys as “opposisieleier”, in lyn met baie Engelssprekende media. Dit is miskien nodig om uit te wys dat sy huidige party, “Rusland van die Toekoms”, wat deur Navalny ge-hervestig is in 2018 en wat voorheen bekend was as “Die Volksaliansie” (my vertaling van die Russiese naam), nie ‘n formeel-geregistreerde party in Rusland is nie en dit het nog nooit aan ‘n verkiesing deelgeneem nie. Hy is dus ‘n “opposisieleier” bietjie soos wat Andile Mngxitama huidiglik ‘n “opposisieleier” in Suid-Afrika is. Navalny is ook baie onpopuler in Rusland – weens onlangse gebeure het hy bietjie meer bekend geword, maar daar is geen aanduiding dat sy party ooit met die ander groot opposisiepartye soos die Kommunistiese Party, die Liberaal-Demokratiese Party van Rusland (Zhironovskiy se party) of die Regverdige Rusland party van Mironov sal kan kompeteer nie. Dit is dalk meer akkuraat om eenvoudig na hom as ‘n anti-Poetin aktivis te verwys.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.