Senior Britse koninklikes nou yl gesaai

Prins Charles op Woensdag 7 September in Skotland. (Foto: Jane Barlow / POOL / AFP)

Catherine, die prinses van Wallis, is nie al Britse koninklike wat die jaar met ʼn hospitaalbesoek moes afskop nie.

Kort nadat die nuus bekend geword het dat Catherine eers ná Paasnaweek haar koninklike pligte sal hervat weens ʼn “beplande abdominale operasie”, het Buckingham-paleis aangekondig dat koning Charles III behandeling vir ʼn vergrote prostaat moet ondergaan.

AFP berig dat die 75-jarige koning volgende week in die hospitaal opgeneem word, terwyl prinses Catherine, dikwels bekend as Kate, Dinsdag in ʼn private Londense kliniek opgeneem is.

“Die koning het, net soos duisende ander mans elke jaar, behandeling versoek vir ʼn vergrote prostaat,” lui ʼn verklaring van die paleis.

“Sy majesteit se toestand is nie kwaadaardig nie en hy sal volgende week hospitaal toe gaan vir ʼn regstellende prosedure. Die koning se openbare verpligtinge sal vir ʼn kort tydperk uitgestel word terwyl hy op die herstelpad is.”

Prins William sal na verwagting ook meer tyd saam met sy vrou deurbring terwyl sy herstel.

Charles en Catherine is laas by die koninklikes se jaarlikse Kersdiens op die koning se Sandringham-landgoed in die ooste van Engeland in die openbaar gesien.

ʼn Woordvoerder van die paleis het verder bevestig dat die prinses nie vir kanker behandel word nie en het ook onderneem om inligting oor haar vordering te verskaf sodra enige beduidende nuwe inligting beskikbaar is.

Die paleis se besluit om nuus oor koninklikes se gesondheidskwessies te deel, is deur kenners bestempel as ʼn “seldsame vertoning van deursigtigheid” sowel as ʼn moontlike poging om bewustheid oor prostaatgesondheid te skep.

Dit het egter ook talle vrae laat ontstaan oor wie intussen die koninklike voortou gaan neem, siende dat drie van die ses mees senior Britse koninklikes se pligte en besoeke uitgestel is.

Intussen het koningin Camilla tydens ʼn besoek aan Skotland gesê dat dit “goed gaan” met die koning en dat hy “gretig is om terug te keer werk toe”, berig die BBC.

Daar word verwag dat die koning se suster, prinses Anne, sowel as sy broer, prins Edward, en sy vrou, Sophie, waarskynlik in die volgende paar maande meer koninklike pligte sal oorneem.

Prins Edward, wyle koningin Elizabeth II se jongste kind, het in 2023 op sy 59ste verjaardag sy pa, prins Philip, se voormalige eretitel as hertog van Edinburgh geërf.

  • Bronne: AFP, BBC

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

KB ·

Ou Charlie se vrinne, is regdenkendes se aartsvyande…
Mens hoef nie die uitvinder van buskruit te wees om hierdie sommetjies te kan maak nie.
Jy is nie ʼn gewilde mens nie, jy was nog nooit nie, ou grote.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.