Skieter brand los op Russiese skool

Skool No88 in Izjewsk, Rusland. (Foto: Twitter)

Minstens 13 mense, verskeie van hulle kinders, is dood nadat ʼn gewapende man Maandag op ʼn skool in die sentrale Russiese stad Izjewsk losgebrand het.

Vanoggend se aanval het die lewens van minstens ses volwassenes, onder wie veiligheidswagte en onderwysers, sowel as die lewens van sewe leerders geëis. Die skieter het volgens Rusland se ondersoekkomitee na afloop van die voorval sy eie lewe geneem.

Minstens 20 ander is tydens die skietery gewond.

Ondersoekers het bevestig dat die skieter ʼn swart top met Nazi-simbole en ʼn klapmus gedra het toe hy skool No88 in Izjewsk binnegestap het. Hy het egter geen identiteitsdokument by hom gehad nie.

BBC berig die skieter is ʼn oudleerder van die skool.

Volgens die Russiese ministerie van gesondheid is “14 ambulansspanne” sedertdien na die toneel ontbied om gewondes te hulp te snel. Ontstellende video’s van angsbevange kinders en onderwysers in die skool word intussen op sosiale media versprei.

Die aanval volg enkele ure nadat ʼn man by ʼn indiensnemingsentrum in Siberië losgebrand en ʼn werwingsbeampte ernstig gewond het.

Izjewsk, ʼn stad met ongeveer 630 000 mense, is die streekhoofstad van Rusland se Udmurt Republiek, en is ongeveer ʼn duisend kilometer oos van Moskou geleë.

Alexander Brechalov, streeksgoewerneur, het reeds ’n routydperk tot 29 September aangekondig. Pres. Wladimir Poetin se woordvoerder het intussen gesê die president veroordeel dié “onmenslike terreuraanval”.

Die aanval in Izjewsk is die jongste in ʼn vlaag skoolskietvoorvalle die afgelope jare in Rusland. Dít terwyl die land verontrus is oor Poetin se pogings om tienduisende mans te mobiliseer om in Oekraïne te gaan veg.

Rusland se laaste groot skoolskietery was in April, toe ʼn gewapende man in ʼn kleuterskool in die sentrale Ulyanovsk-streek losgebrand het. Die skietery het die lewens van ʼn onderwyser en twee kinders geëis.

Die skieter het hom in daardie voorval ook self om die lewe gebring.

Bronne: AFP, BBC

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Waarnemer ·

Innige simpatie met die agtergeblewenes maar poetin dink jy nie jou aanval teen die ukraine is ook onmenslik nie?Hoeveel lewens aan zlbei kante is al daar oogeoffer?

Hans ·

Poetin veroordeel die aanval maar hy doen priesies dieselfde op grootskaal in Ukraine.

WynandM ·

Gegewe die feit dat een van die groot motiverings vir die “spesiale operasie” in Ukraine die kastige verlossing van die neo-Nazi’s is, kan ek net dink Poetin en sy kamerade hierdie gebeurtenis as goeie propaganda sien. Poetin vergeet gerieflikheidshalwe om die misdade in Ukraine te erken. Elkgeval sterkte vir die families, dis baie sleg,

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.