Tiener gevonnis ná hy kind van museum se balkon slinger

Die polisie Sondag buite die Tate Modern. (Foto: Yui Mok, AP)

’n Tiener van Northolt, Engeland, is minstens 15 jaar tronkstraf opgelê nadat hy verlede jaar ’n sesjarige seuntjie van die tiende verdieping van die Tate Modern-kunsmuseum in Londen gegooi het.

ʼn Hof het Vrydag bevind dat die 18-jarige Jonty Bravery beplan het om die kind dood te maak en byna daarin geslaag het.

Maroela Media het vroeër berig die seuntjie het in Augustus verlede jaar op die vyfde verdieping van die Tate Modern te lande gekom nadat Bravery hom van ʼn besigtigingsplatform gegooi het. Volgens die aanklaer het die seuntjie sowat 30 m na onder geval nadat hy glo opgetel en in een beweging van die tiende verdieping gegooi is.

Die kind het bloeding op die brein, ʼn gebreekte arm en been asook beserings aan sy ruggraat in die voorval opgedoen. Die kind, ’n Franse burger, is byna 11 maande later steeds in ’n rolstoel.

Jonty Bravery (Foto: Metropolitan Police/PA via AP)

“Die klein seuntjie het permanente en lewensveranderende beserings in die voorval opgedoen,” het regter Maura McGowan gedurende vonnisoplegging gesê.

“Jy het na die besigtigingsplatform gegaan, rondgekyk, die slagoffer en sy gesin opgemerk, na die seun gestap en hom oor die reling gegooi. Die angs wat die kind moes deurmaak en die afgryse wat sy ouers moes ervaar het, is verbysterend,” het McGowan gesê.

Volgens McGowan is Bravery se optrede op die betrokke dag ’n bewys daarvan dat hy ’n ernstige gevaar vir die publiek inhou. Bravery het skuld op aanklagte van poging tot moord erken.

Bravery was ten tye van die voorval in die sorg van ’n sorgsentrum en het blykbaar gereeld teenoor versorgers by die sorgsentrum uitgevaar. Hy het ook ’n jaar voor die voorval aan versorgers gesê hy is van plan om iemand dood te maak. Dié onthulling is op band by die hof ingedien.

Bravery se ouers het intussen in ’n brief aan die hof gesê hy is met outisme gediagnoseer en ’n “geliefde kind”.

Bronne: BBC, ANA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Oujongvrou ·

Wat n bose kind. Dankie Here vir my goeie godvresende kinders.

Pieter J ·

Dit is angswekkend as ń mens kyk hoeveel mense daar in die samelewing is wat aan allerlei geestelike afwykings ly en wat ń groot gevaar vir almal om hulle inhou sonder dat iemand iets daaraan probeer doen.

Niklaas ·

Die kerel is een groot gevaar vir die samelewing en moet lank opgesluit word. Wat ‘n vreeslike sinnelose daad teenoor die onskuldige seuntjie!

Danie ·

Ek neem die oortreder se ouers kwalik vir hul kind se optrede.
Hierdie tipe aggressie verskyn nie net oornag nie en hulle het beslis geweet die man is ‘n gevaar vir die samelewing en moes hom laat opneem het in ‘n fasiliteit wat met sulke mense werk.
Maar net soos ek dink elke ouer maar die son skyn uit sy arme bloedjie en wanneer die popo die fan strike is dit briewe en verskonings maar helaas te laat in meeste gevalle.
Ek hoop Bravery senior het goeie persoonlike regsaanspreeklikheidsversekering want dis die volgende stap.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.