Tiener in verbyry-skietery dood

Een tiener is dood en nog twee is beseer. (Foto: Des Moines Police/Twitter)

ʼn Tiener is Maandag in ʼn skietery by ʼn skool in die Amerikaanse deelstaat Iowa dood, terwyl nog twee tieners tydens die voorval beseer is.

Skote is oënskynlik uit ʼn verbygaande voertuig op die skool afgevuur.

Die polisie in Des Moines het die middag verskeie oproepe ontvang oor geweerskote wat by East High School in die middestad afgevuur is.

Polisiebeamptes en nooddienste het om 14:48 by die skool aangekom en drie leerders wat gewond is aangetref.

Die tieners, een seun en twee meisies, is in ʼn ernstige toestand na ʼn hospitaal geneem.

Die 15-jarige seun het aan sy beserings beswyk, terwyl die 16‑ en 18-jarige meisies steeds in die hospitaal is. Die omvang van hul beserings is nie bekend nie.

“Dit lyk asof skote vanuit ʼn verbygaande voertuig afgevuur is,” sê sers. Paul Parizek, polisiewoordvoerder van die gebied.

Die tieners was op die skoolterrein, maar buite die skoolgebou ten tyde van die skietery.

Die oorledene is glo nie ʼn leerder aan die hoërskool nie, maar die ander twee tieners wel, berig die plaaslike nuusagentskap KCCI.

Die hoërskool is ná die voorval tydelik gesluit en al die leerders moes in die gebou gebly het. Leerders en personeel is egter later die dag verdaag. Die skool is Dinsdag ook gesluit en sal na verwagting later die week weer oopgestel word.

Luidens ʼn polisieverklaring het beamptes potensiële verdagtes vir ondervraging aangehou, maar niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem en aangekla nie.

Skoolskieterygevalle raak ʼn algemene verskynsel in die VSA en talle kenners blameer die lakse wapenwette en die reg om ʼn wapen op jou persoon te dra as die oorsaak vir die meeste van die noodlottige gevalle.

ʼn Tiener het verlede jaar vier leerders by ʼn skool in Michigan doodgeskiet en talle beseer nadat hy met ʼn wapen, wat na bewering deur sy pa gekoop is, op sy medestudente losgebrand het.

Die 15-jarige Ethan Crumbley staan nou tereg op moord. Sy ouers, James en Jennifer, is intussen ook van strafbare manslag aangekla omdat hulle glo Ethan te maklike toegang tot ʼn wapen gegee het en glo versuim het om vir hom psigologiese hulp te kry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.