Wapenstilstand: ‘Konflik nog lank nie verby’

ʼn Bol rook bo Gaza tydens ʼn Israeliese lugaanval op 9 Oktober 2023. (Foto: Mahmud Hams/AFP)

ʼn Wapenstilstand van vier dae tussen Hamas en Israel het Vrydag in werking getree.

Dit beteken allermins dat die einde van dié oorlog, of selfs minder geweld, in sig is.

Jaco Kleynhans, hoof van internasionale skakeling by die Solidariteit Beweging, sê onderhandelinge kan dalk tot ʼn kort verlenging van die stilstand lei, maar dat Israel en Hamas nog lank nie klaar baklei het nie. Die moontlikheid van ʼn verlenging berus grotendeels op Hamas se bereidwilligheid om nog van Israel se gyselaars vry te laat.

Kleynhans verduidelik dat daar drie belangrike hoofoogmerke met die ooreenkoms is. Die eerste is dat 50 Israeliese gyselaars wat in die Gazastrook aangehou word, oor die volgende vier dae vrygelaat moet word.

“Tans word meer as 240 mense in die Gazastrook as gyselaars aangehou. Israel sal natuurlik wil hê al sy gyselaars moet vrygelaat word, maar daar is ooreengekom om nou 50 mense, onder wie vroue en kinders, vry te laat.

“In ruil daarvoor word 150 Palestynse gevangenes uit tronke vrygelaat, wat die tweede oogmerk is.”

Israeliese weermagsvoertuie op die grens tussen Israel en Gaza. (Foto: Jack Guez/ AFP)

Kleynhans sê die meeste van dié gevangenes is hoofsaaklik mense wat by geweld betrokke was, waarvan sommige minderjarig of baie jonk is.

“Die derde belangrike oogmerk is om humanitêre hulp in te kry. In die volgende vier dae gaan die Verenigde Nasies (VN) dus  ʼn reusepoging aanwend om kos, water, mediese toerusting en voorraad in die Gazastrook te kry.”

Kleynhans sê dis egter belangrik om te onthou dat hierdie wapenstilstand bloot ʼn tydelike ooreenkoms is.

“Die eerste rede waarom dit nie ʼn permanente wapenstilstand is nie, is omdat Hamas nie onmiddellik al die gyselaars wil vrylaat nie. Israel sê natuurlik die oorlog sal nie tot ʼn einde kom voordat al sy gyselaars vrygelaat is nie.

“Israel sê hy is bereid om die ooreenkoms met een dag te verleng vir elke tien gyselaars wat Hamas bykomend vrylaat. Dit kan moontlik beteken dat die ooreenkoms tot vyf of selfs tien dae verleng word.”

Kleynhans sê die ander rede waarom hierdie ooreenkoms slegs tydelik is, is omdat Israel se hoofdoel met hierdie oorlog, benewens die vrylating van sy gyselaars, is om Hamas te vernietig.

‘n Palestynse smous ry lemoene op sy donkiekar aan in Rafah, in die suide van die Gasa-strook te midde van voortgesette konflik in die gebied. (Foto: Said Khatib/AFP)

“Israel sê Hamas moet vernietig word, en dat hy [Israel] nog nie klaar is om Hamas en sy infrastruktuur te vernietig nie. Dit sluit in Hamas se tonnels en plekke waar wapens vervaardig word. Natuurlik ook die doodmaak van Hamas se senior leiers.

“In dié opsig sê Israel dus dat die oorlog ná hierdie vier dae sal voortduur.”

Volgens Kleynhans is onderhandelinge vir ʼn verlenging van die ooreenkoms egter reeds onderweg. Lande soos Katar en die VSA is primêr by hierdie onderhandelinge betrokke, terwyl Arabiese lande soos Jordanië en Egipte ook daarby betrokke is.

Katar het direkte kontak met Hamas, terwyl die VSA Israel se sterkste bondgenoot is. Die VSA kan ook heelwat invloed op Israel uitoefen. Dié land gee onder meer groot militêre steun aan Israel terwyl die lande ook baie noue diplomatieke en ekonomiese bande het.

Kleynhans sê baie van die gyselaars wat tans deur Hamas aangehou word, is boonop Amerikaanse burgers. Dus is dit vir die Amerikaanse regering ook ʼn baie groot prioriteit.

“Aan die Palestynse kant is dit natuurlik vir Arabiese lande in die streek om ander redes belangrik dat die konflik tot ʼn einde kom en nie verder uitkring nie. Die vrees bestaan dat die oorlog kan uitbrei – en byvoorbeeld na Libanon en Sirië oorspoel – en in ʼn streeksoorlog ontaard.”

Iran, wat militêre groepe in Libanon en Sirië ondersteun, se motiewe verskil egter wesenlik van dié van die Arabiese lande.

Beskadigde geboue aan die Gaza-strook. (Foto: Jack Guez/AFP)

“Iran wil hê Israel moet uitgewis word. Jou Arabiese lande in die streek wil dit egter nie hê nie – hulle soek stabiliteit. Hulle weet dat indien daar ʼn groot Midde-Oosterse oorlog sou uitbreek, dit ʼn baie negatiewe uitwerking op hulle sal hê.”

ʼn Streeksoorlog, sê Kleynhans, sal meer vlugtelinge vir Egipte en Jordanië beteken. Die Arabiese lande verkies dus ʼn permanente oplossing.

“Die probleem is dat Hamas eintlik maar ʼn geïsoleerde groep is. Die enigste land – uit die Arabiese lande – wat direkte kontak met Hamas het, is Katar. Daarom speel Katar ʼn groot rol as bemiddelaar in die huidige onderhandelinge.”

Volgens Kleynhans bestaan die hoop dat ʼn aankondiging reeds oor die naweek gemaak sal word om die wapenstilstand  te verleng. Dit sal egter net gebeur as Hamas instem om meer gyselaars vry te laat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Marthinus W ·

As Israel ontslae raak van haar kernwapens [soos wat ons gemaak het], sal Iran se houding heel moontlik verander, want hulle voel ongemaklik met n irrasionele staatshoof wat kernwapens het. Dit sal groter stabiliteit bring.

Cherokee ·

Martiens, soos gewoonlik, neig jy meèr as net tè liberaal, te klink. Hetsy Israel kernwapens het of nie, sal hulle die vyand van die moslems (lees antichris) bly. Die kernwapens wat hulle het. maak lande soos Iran terugstaan, en versigtig wees. Daardie klein landjie, kleiner as selfs die Kruger Wildtuin, dwing wêreldwye respek af.
Die negatiewe aspek, wat vele kommentators blyk mis te kyk, is dat Israel nie ‘n Christelike land is nie. Hul godsdiens is anders. En die Heilige Waarheid is dat Enige Een wat Jesus as Seun van God erken, hèt die lewe!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.